Название: Met ander woorde
Автор: Wilna Adriaanse
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624067030
isbn:
Hy kyk weer na die naam op die lêer in sy hand. Hy het dit nie herken nie, want as hy reg onthou, noem hulle haar nie Kristina nie, maar iets korters. Willem het van ’n pasiënt gepraat, maar sy ontwykende blik moes hom gewaarsku het dat dit nie sommer net ’n pasiënt is nie.
“Juffrou Lazarus . . . Kristina . . .”
Sy maak haar oë oop en hy onthou dat Lisa eendag gesê het die natuur was in ’n speelse bui toe sy gemaak is. Dis moeilik om te besluit of haar oë groen met bruin vlekkies is, of bruin met groen liggies. Die natuur wyk soms op interessante maniere van die gewone patroon af.
“Ek is Ben Krige, ’n psigiater. Willem het my gevra om by jou in te loer.”
Sy knik ligweg, maar hy sien die herkenning in haar oë.
“Hoe voel jy vandag?”
“Moeg.” Haar blik dwaal na die venster agter hom.
“Ek het Willem se verslag gelees, maar kan jy my vertel wat gebeur het?”
Sy bly staar deur die venster en Ben laat haar begaan.
“Ek het gaan draf en ek het moeg geword.”
“So moeg dat jy nie weer kon terugkom nie?”
Sy trek haar skouers op en hy wonder opnuut wie eerste besluit het dat dit nodig is om in ’n ander mens se siel rond te krap. Sy ongeduldige geaardheid hou nie van hierdie eerste verkenningsdans nie en hy hou nie van lywe wat hulle geheime wil beskerm nie. Dit beteken ure, dae, soms maande se raaiwerk.
“Het jy al vantevore daardie pad gedraf?”
Sy knik sonder om na hom te kyk.
“Is jy redelik fiks op die oomblik?”
“Seker.”
“Wat swot jy?” Hy weet dis ’n lang kursus, maar op die oomblik kan hy nie onthou wat dit is nie.
“LLB.”
“Hoeveelste jaar?”
“Finale jaar.”
“Geniet jy jou kursus?”
Sy kyk net vir ’n oomblik na hom voor sy haar skouers optrek. “Ek het dit gekies.”
“Het die werk nie te veel geword nie? Is dit nie dalk waarom jy so moeg is nie?”
“Almal werk hard.”
“Hoe is jou verhouding met jou ouers?”
Weer is daar ’n ligte roering in haar skouers. “Ons het nie probleme nie.”
“Is jy in ’n verhouding betrokke?”
Sy skud haar kop.
“Het dit al vantevore gebeur dat jy so moeg geword het?”
Sy skud weer haar kop en vee ’n haarsliert uit haar oë.
“Die toetse het niks opgelewer nie, so dis baie moeilik om jou te behandel. Daar is op die oog af niks fisiek verkeerd nie en tog voel jy nie jouself nie.” Hy laat die woorde soos ’n vraag tussen hulle hang, maar sy reageer nie.
“As jy nou terugdink, dink jy die moegheid het geleidelik gekom of was jy die eerste keer daarvan bewus toe jy nou die dag gaan draf het?”
“Ek weet nie.” Haar hand stryk-stryk oor die wit-en-ligblou gestreepte duvet-oortreksel.
“Het daar dalk iets gebeur wat jou so moeg kon laat voel het?”
“Nee.”
“Jou vriende? Jy het nie dalk ’n uitval met iemand gehad nie? Probleme in ’n goeie vriendskap kan ’n mens nogal baie negatief beïnvloed.”
“Ek het met niemand ’n probleem nie.”
“Gebruik jy nie dalk medikasie wat jy vergeet het om vir Willem te noem nie?”
“Is dit ’n mooi manier om te vra of ek dwelms gebruik?” Vir ’n oomblik flits haar blik ergerlik oor sy gesig en hierdie keer kyk sy nie weg nie.
“Nee, ek sou nog daarby gekom het, maar terwyl jy dit nou opgehaal het, gebruik jy enige gewoontevormende middels?”
“Pynmedikasie kan ook gewoontevormend wees.”
“Gebruik jy chroniese pynmedikasie?”
“Nee.”
Ben voel of hy vir ’n breukdeel van ’n sekonde sy ewewig verloor het. Hy het nie antagonisme verwag nie. Hy is nie eens seker of dit die regte woord is nie, en dalk is dit ook glad nie teen hom gemik nie. Dit het hom net onkant betrap omdat die meeste pasiënte baie dankbaar is vir enige hulp teen die tyd dat hulle by hom uitkom.
“Gebruik jy alkohol?”
“Ja.”
“Elke dag of per geleentheid?”
“Ek het nog nooit die vraag verstaan nie.”
Toe Ben haar nie antwoord nie, maar net na haar bly kyk, trek sy haar skouers op. Haar stem is effens minder skerp toe sy weer praat. “Ek is seker jy ken die antwoorde op al hierdie vrae en ek is seker jy het ’n verslag of ’n lêer of iets gelees. Waarom moet ons weer deur dit alles gaan? Ek is nie ’n gewoontedrinker nie, alhoewel ek van ’n glas wyn of twee of soms drie op die regte tyd hou. Ek rook nie en ek gebruik nie ander vreemde middels nie. Ek het al ’n paar trekke aan ’n joint gevat en daarna opgegooi. As ek hoofpyn het, drink ek ’n Panado of iets, maar dis sover my verbintenis met narkotikums en pynstillers gaan. Wat wil jy nog weet?”
“Wat onthou jy van die nag teen die berg?”
“Niks. Ek kan onthou dat ek my drafskoene aangetrek het, en die volgende waarvan ek weer bewus geword het, was toe die polisie my onder die bos gekry het. Ek het dit ook vir Willem gesê.”
Ben maak sy mond oop om iets te sê, maar die deur agter hom gaan oop en hy draai om.
Twee meisies loer huiwerig om die kosyn. Die voorste een glimlag effens skamerig toe sy hom gewaar.
“Jammer, ons het nie geweet jy is hier nie.”
“Hallo, Helen, kom binne. Ek is eintlik klaar.” Hy staan op toe die twee meisies nader kom om te groet. Albei soen Kristina op die wang.
“Hi, hoe voel jy? Ons het vir jou eetgoed en tydskrifte gebring en Marcus stuur groete en hierdie blomme. Hy sal dalk later ’n draai kom maak.”
Kristina kyk vlugtig na die blomme, maar lewer nie kommentaar nie en die blonde meisie draai na Ben.
“Hallo, СКАЧАТЬ