Название: Die Laaste sewe dae
Автор: Murray Janson
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318305
isbn:
’n Aardige bedrag moes op dié wyse vir jou geloof betaal word, en ’n aardige som is deur die tempelowerhede rondom die “geloof” ingevorder. Geen wonder nie dat ons in Josefus se geskrifte lees dat toe Krassus in 53 v.C. op sy tog na die Ooste die tempel geplunder het, hy minstens R5 miljoen buit gemaak het.
Niks sou seker verander het as Jesus nie op daardie Maandag so ’n storm in die tempel veroorsaak het dat die geldwisselaars se tafels en die duiweverkopers se stoele net nie meer kon bly staan nie. En niemand het dit durf waag om Hom teen te gaan nie, want Hy het met ’n sweep in sy hand gestaan – ’n sweep wat Hy gemaklik gevleg het uit die afvaltou wat oral in die tempel, soos in ’n boer se skuur, rondgelê het.
Jesus het dit tot binne-in die vyand se laer gewaag en sodoende sy eie doodsvonnis onderteken. Want wie aan ’n ander se beursie raak, bevind hom op die pad van die dood. ’n Onverskrokke daad. Daarom beskryf Johannes dit saam met die wonder by die bruilof voor in sy boek sodat hy rondom dié twee dade van Jesus sy hele Evangelie kon bou (vgl Joh 2:13-21).
Terwyl die verwonderde dissipels eenkant met groot oë staan en toekyk het, het enkele woorde uit die Psalms in hul gedagtes opgekom: “Die liefde vir u huis verteer my” (Joh 2:17; vgl Ps 69:10). En dié wat jare lank die slagoffers van hierdie priesterlike winsbejag was, kon glimlag omdat die uitbuiters op hul plek gesit is.
Toe, skielik, word die naklanke van die lied van die vorige dag weer gehoor. Weer voer dié tema die botoon: “Prys die Seun van Dawid!” (Matt 21:15) (“Hosanna vir die Seun van Dawid!” – 1953-hersiening). Maar nou is dit veel suiwerder omdat dit deur ongekunstelde kinderstemme gesing word. Die vals tone ontbreek egter nie: Jesus word vermaan omdat Hy die kinders wat in die tempel raas, nie bestraf nie. Maar nou hoef Jesus nie meer soos gister sy toevlug te neem tot die klippe wat sal uitroep nie. Hy kan nou Psalm 8 aan hulle voorhou en hulle daaraan herinner dat Dawid reeds geskryf het dat God sy lof juis graag uit die monde van kinders en suigelinge ontvang (vgl v 3).
Daarna waag ’n paar Fariseërs dit tog om navraag te doen na Jesus se gesag; hulle vra na sy bewysstukke (vgl Joh 2:18). Hy kon tog sekerlik nie toestemming van die hoëpriester verkry het nie, want dit het die wisselaars lankal reeds ontvang. Daarop antwoord die Meester: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig” (v 19). Dat Hy van sy liggaam praat, verstaan hulle nie. In hul onkunde wys hulle op die ses en veertig jaar wat aan dié kliptempel gebou is. Maar vier dae later sou hulle dieselfde woorde teen Hom gebruik toe die vals getuies – wat ook met die tempelgeld omgekoop is – sou aanvoer dat Hy Hom dit aangematig het om te beweer dat Hy die tempel sou afbreek.
Maar Hy sou die onreg verdra, net soos Hy die skuld van alle mense – tempelmense sowel as nietempelmense – sou dra wanneer God se sweep Hom sou tref en Hy as Seun van God van God se tafel weggejaag sou word om vir die sondaars plek te maak. Dan sou die woorde uit Psalm 69 waar word: “Die liefde vir u huis verteer My.” Hý word verteer sodat ons kan lewe. Daarom het Hy op hierdie Maandag gewaag om die tempel te reinig.
DIE DINSDAG
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.