Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 43

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ die Grahamstown Journal en die drukgroep van handelaars in die dorp verwys as die mense wat die “luidrugtigste teen die Xhosa-nasie” is. Hul eiebelang was kwalik verskuil. Grootskaalse militêre optrede en die anneksasie van nuwe grondgebied het groot winste beteken vir handelaars wat die proviand moes verskaf. Dit het ook oorvloedige kanse geskep vir die smokkel van wapens en die spekulasie met grond.

      In 1828 het Retief nog op Mooimeisiesfontein in die suidoostelike grensgebied gewoon, maar vier jaar later het hy na ’n plaas in die Winterbergwyk in die sentrale grensgebied getrek. Hy was redelik goed bevriend met kolonel Somerset en die redaksie van die Grahamstown Journal. Retief se manifes wat in 1838 uitgereik is om sy vertrek uit die kolonie te verduidelik en die rubriek van Robert Godlonton, die Grahamstown Journal se redakteur, is grotendeels in dieselfde trant geskryf.

      Een van die grootste oorsake van die gebrek aan sekuriteit aan die grens was die onsekerheid oor wat die bedoeling van die regering was met die sogenaamde neutrale gebied wat dit ná die oorlog van 1819 geproklameer het. Was die regering se bedoeling om ’n neutrale te gebied te skep waar niemand kon woon nie of was dit maar net ’n slenter om die deur vir kolonisasie van die gebied oop te maak? Die goewerneur self het geen geheim daarvan gemaak nie dat hy dit as ’n uitstekende geleentheid vir “systematic colonisation” beskou.

      In 1821, terwyl die regering in die Kaap aan die weifel was oor die grensbeleid, het Ngqika se seuns Maqoma en Tyhali weer in die gebied ingetrek wat so lank deur hulle en hul vader bewoon is. Maqoma het hom op sy aanloklike ou tuiste in die vrugbare Katriviervallei gevestig. Ander kapteins het hulle gevolg en plase is ook aan blankes uitgegee. In 1828, toe Stockenstrom as kommissaris-generaal aangestel is, was Maqoma al sewe jaar in die gebied. Hy was so gerus dat hy ’n naburige stam in die gebied aangeval en amper duisend stuks vee geroof het.

      In 1828 het sir Lowry Cole goewerneur geword en dadelik besluit dat Maqoma uit die gebied verban moet word. Daar is ook aan die ander kapteins in die gebied laat weet dat hulle slegs daar kan bly solank hulle hulle goed gedra. Cole is geadviseer deur Stockenstrom, wat die noodsaak beklemtoon het dat die regering sy beleid ferm toepas.

      Kort ná sy aankoms in Grahamstad het Stockenstrom in samewerking met Somerset Maqoma uit die neutrale gebied verdryf. Vir sowel Maqoma as sy broer Tyhali was dit ’n bitter pil dat hulle ’n gebied moes prysgee waarop hulle ’n sterk aanspraak gehad het en wat van die weinige dele was waar daar genoeg water was. Die grond van Maqoma het nou die Katriviernedersetting vir die Khoi-Khois geword.

      Stockenstrom was die vader van hierdie idee. Sy hoofdoel was om deur middel van ’n digte nedersetting ’n defensiewe barrikade teen invallers te skep. Terselfdertyd sou die nedersetting die geleentheid vir die Khoi-Khois bied om op klein skaal te boer. Sowat 5 000 Khoi-Khois het hulle gou in die Katriviernedersetting gevestig.

      Intussen het die grensgebied toenemend die gevolge ondervind van die Mfecane, die draaikolk van dood en verwoesting wat kleiner stamme ylings laat vlug het, ook oor die kolonie se grens. Die regering wou hierdie stamme terugdruk en indien moontlik die Zoeloes verslaan, wat as die hoofbron van al die konflik beskou is.

      In 1828 het twee militêre ekspedisies onder Britse offisiere stamme ver anderkant die oosgrens aangeval. ’n Mag onder die Britse landdros William Dundas het die sogenaamde “Fetcani” aangeval omdat daar verkeerdelik gemeen is dat hulle Zoeloes is. Dit het 25 000 beeste teruggebring en ongeveer 100 mense, wat later ingeboek is. ’n Aantal maande later het kolonel Somerset met ’n gemengde leër van meer as duisend burgers, setlaars en Khoi-Khoi-huurtroepe, ondersteun deur duisende swart hulptroepe, die Ngwane-stam aangeval, wat van die Hoëveld gevlug het. Die slag het naby die huidige stad Umtata plaasgevind. Somerset het ligte en swaar kanonne gebruik. Hy het gerapporteer dat sy swart hulptroepe duisende swartes doodgemaak en al hul vee buitgemaak het. Die mag het teruggekeer met ongeveer 100 vroue en kinders, wat hulle op die plase in die kolonie laat inboek het.

      Die regering het Dundas en Somerset nie voor stok gekry nie. Daar was ook geen aanduiding dat die Britse sendelinge of joernaliste die optrede gekritiseer het nie. Dit staan in skerp teenstelling met die groot ontsteltenis wat ontstaan het as soortgelyke wreedhede deur burgerkommando’s gepleeg is. ’n Burger het met verwysing na die aanval op die “Fetcani” teenoor Thomas Pringle, ’n Skotse setlaar, opgemerk: “We were living in a state of bitter feud and constant warfare with the natives, and both parties were intent on mutual extermination. But what had your Ficani done when they were destroyed by wholesale slaughter by your British commanders? … Here we had a massacre in all its horrors … But all this, I hear, your English missionaries defend or wink at, because it was done by Englishmen in authority and does not tell against us unfortunate Boors [sic].”

      Die grensburgers was ontsteld oor hierdie meet met twee mate, en Piet Retief sou later daarna verwys in sy manifes wat die oorsake van die emigrasie uit die kolonie uiteengesit het.

      “’n Reeks van bloedige oorloë”: Stockenstrom se vrees

      Die vernaamste botsings wat tot die grootskaalse emigrasie van grensboere sou lei, het afgespeel in drie prominente grensgebiede. Ten eerste was daar die suidoostelike gebied, wat die Suurveld en die stad Grahamstad ingesluit het. Ten tweede was daar die sentrale gebied tussen die Bo-Visrivier en die Koonaprivier, wat ’n deel van die neutrale gebied ingesluit het. Laastens was daar die noordoostelike gebied, wat hoofsaaklik bestaan het uit die groot Tarkawyk, wat deel van die distrik Somerset gevorm het.

      Daar was veral in die sentrale grensgebied ’n hele bredie van burgergriewe: onsekerheid oor grondbesit, ’n gebrek aan beskerming teen veediefstal, ’n verbod op slawebesit en die teenwoordigheid van Maqoma, Tyhali en verskeie ander Xhosa-kapteins. C.F.J. Muller se deeglike studie van die oorsake van die Groot Trek besluit dat hierdie emigrasie veral toe te skryf is aan die inisiatief en organisatoriese vermoë van ’n klein groepie Afrikanerboere in die sentrale sektor van die oosgrens, wat nuwe weivelde in die binneland verkies het.

      In die sentrale grensgebied het die Afrikanerboere die onsekerste gevoel. Plase is aanvanklik aan burgers en Britse setlaars uitgegee op die enkele voorwaarde dat hulle geen slawe aanhou nie. In 1826 het die imperiale regering egter besluit om die oordrag van grond te vertraag totdat dit finaal oor die toekoms van hierdie gebied besluit het. Die minister van kolonies in Londen wou slegs Engelssprekende koloniste hier vestig. Die regering het die burgers beveel om die neutrale gebied te verlaat, maar die meeste het besluit om aan te bly. Die instroming van Mfecane-vlugtelinge het die konflik oor grond, weiveld en beeste verskerp.

      Met die vestiging van die Katriviernedersetting was Khoi-Khois nou in beheer van een van die voorkeurplekke in die neutrale gebied. Vir burgers wat onseker was oor hul eie reg op die grond het dit gelyk of hulle een die kortste ent trek. Party het gekla: “Die Engelsman is baie geleerd en ons is baie dom. Hulle en die Hottentotte sal ons met verdrag uitdruk.”

      Stockenstrom het geprobeer om die ergste vergrype van die terugvatstelsel uit te skakel. Hy het beveel dat boere hul vee goed moet oppas en het probeer sorg dat die patrollies net vee wat werklik gesteel is, opspoor. Maar hy het al hoe meer bedenkinge begin koester oor die patrollies, wat die Xhosas aan die grens in ’n toestand van voortdurende onrus gehou het. Krale is gewoonlik net voor sonsopkoms aangeval en daar is wild geskiet. Die patrollies het hutte verbrand, vee gegryp en die ingesetenes verdryf. Die mense het ylings gevlug, al was hulle onskuldig. Tyhali het eenmaal gevra: “Sal ek dan nooit vrede in my eie land hê nie? Moet ek dag ná dag op hierdie manier behandel word?”

      Kolonel Somerset en Stockenstrom kon mekaar nie veel nie. Somerset het Stockenstrom beskou as ’n kolonis wat hom nie op sy plek hou nie en Stockenstrom was oortuig dat die kolonel roekeloos stryd aanblaas. Om die Xhosas uit die neutrale gebied te verdryf, het Somerset amper elke week patrollies uitgestuur om gesteelde vee op te spoor en terug te vat. Van die krale wat verontreg gevoel het, het weer ekspedisies uitgestuur om vee op die plase te buit. Die grensgebied het ’n kookpot van ontevredenheid geword.

      Stockenstrom СКАЧАТЬ