Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 41

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ inlywing van die neutrale gebied het die situasie aan die grens vererger. Vir die Xhosas het die gebrek aan grond akuut geword. Om sake nog verder te kompliseer, het twee golwe van immigrante in die vroeë jare twintig opgedaag. Die eerste was Britse setlaars, ongeveer 4 000 sterk, wat hoofsaaklik gevestig is op Suurveldplase wat die burgers ontruim het. Om die administrasie van die grensgebied te verbeter, het die regering ’n nuwe distrik met Grahamstad as die setel geproklameer. Vyf jaar later in 1825 is die Somersetdistrik geproklameer.

      Die tweede golf was die vlugtelinge van die bloedige stryd in Natal en die Hoëveld onder swart mense, genaamd die Mfecane in Nguni en Difaqane in Sotho. Aanvanklik is hierdie “volksverhuisings” amper uitsluitlik toegeskryf aan die aanvalle van die Zoeloe-kaptein Shaka se leër op naburige Natalse stamme tussen 1818 en 1828. Daar is gemeen dat dit ’n kettingreaksie tot gevolg gehad het. Onlangse navorsing toon dat die oorsake van die volksverhuisings meer kompleks was: droogte, bevolkingsurplus, verskerpte mededinging om grond en konflikte oor ivoorhandel. Nog ’n faktor was Griekwas gewapen met gewere, wat klein vlugtende stammetjies aangeval en sodoende nog groter chaos gesaai het.

      Mense het na die noorde, weste en suide gevlug. Anderkant die Kaapse oosgrens het die Mfecane groot ontwrigting en lewensverlies onder die Xhosa-sprekende Thembus, Mpondo’s en Bhacas veroorsaak. Die ontploffing van geweld het uiteindelik gelei tot die stigting van die Swazi-, die Ndebele- en die Sotho-staat.

      Van die vroeë 1820’s het die oosgrens die uitwerking van die geweld in die binneland begin voel. Vlugtelinge van die Thembu-stam het hulle naby die huidige Queenstown net binne die koloniale grens gevestig. Boere het hulle gevoed, maar hulle het gou ’n las geword.

      “Ek word nie vertrou nie”: Piet Retief se grief

      Vyf-en-twintig jaar lank, tussen 1813 en 1837, was daar twee Afrikaners op die politieke toneel met skerp verskillende standpunte oor oorlewing in die onsekere oosgrensgebied. Die een was Piet Retief, gebore in 1780 as die seun van ’n welgestelde wynboer in die Boland, en die ander Andries Stockenstrom, die seun van ’n landdros. Hy het in 1815 landdros van Graaff-Reinet geword. In 1828 is hy na Grahamstad verskuif, waar hy as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie gedien het.

      In die Boland het Retief gou al sy eiendom in spekulasie verloor en was bankrot toe hy in 1812 aan die oosgrens opdaag as deel van die Stellenbosse reserwemag in die Vierde Grensoorlog. Kort daarna het hy met ’n ryk weduwee getrou wie se man saam met Stockenstrom se vader vermoor is. Hy het besluit om hom aan die oosgrens te vestig.

      Tussen 1817 en 1832 het Retief op die plaas Mooimeisiesfontein, veertig kilometer noordwes van Grahamstad, geboer, maar hy was amper meer bedrywig as sakeman op Grahamstad en Uitenhage. Op verskillende tye was hy algemene handelaar, bakker, meulenaar, slagter, drankhandelaar en afslaer. Sy geldsake het beroerd gebly. Teen 1824 was hy feitlik bankrot as gevolg van ’n onvoordelige kontrak wat hy met die regering gesluit het om ’n kaserne en drosdy op Grahamstad te bou.

      Ten spyte van sy mislukkings was Retief baie gewild onder sowel die boere in die distrik Grahamstad as die Britse handelaars en offisiere op die dorp. Hy het klaarblyklik leierseienskappe gehad en is in 1822 as veldkommandant aangestel. Geen burger of lid van die berede mag is toegelaat om die grens oor te steek en die Xhosas se gebied binne te gaan nie. Van ’n vroeë stadium het Retief kritiek uitgespreek op die feit dat alle militêre optrede, ook kommando’s, onder streng reëls moes plaasvind.

      In Maart 1822 het Piet Retief self 400 skape in ’n Xhosa-strooptog verloor en in September het hy bevel gekry om ’n kommando uit te roep om Xhosas wat hulle in die neutrale gebied probeer vestig het, te verdryf. Sy kommando het die spore van die gesteelde vee tot by die grens gevolg en anderkant die grens het Retief duisende stuks vee gesien. Dit was uiters frustrerend. Soos Retief dit gestel het: “Ek is nie toegelaat om die grens oor te steek met my troepe nie, aangesien ek nie vertrou is nie … So lank as wat nóg die landdros nóg die kommandant op die grens gemagtig word om [die instruksies] te verander, sal geen kommando uitgevoer kan word met enige sukses nie.”

      Dit was dus vir Retief onaanvaarbaar dat hy ’n blote funksionaris van ’n veraf regering is sonder die diskresie om op te tree soos hy nodig ag. Later het hy aan die goewerneur geskryf met ’n lys van die moorde en diefstalle wat die Xhosas in die voorafgaande vyf jaar in die wyke onder sy beheer gepleeg het. Hy wou graag die grens oorsteek en die spoor van gesteelde vee volg tot by die Xhosa-kraal waarheen dit lei.

      Hier kry ons ’n voorsmaak van die latere verskille tussen Stockenstrom en Retief. Vir Stockenstrom was orde en vrede slegs moontlik as alle burgeroffisiere en amptenare die bestaande bevele en voorgeskrewe prosedures streng gehoorsaam. En dit was juis wat Retief nie wou doen nie.

      Maar die saak was kompleks. Die regering aan die Kaap, wat self nie in staat was om die veiligheid aan die grens te waarborg nie, het voortdurend ingemeng. Dit het heeltemal tereg nie die grensboere toegelaat om eie reg te gebruik soos in die ou dae nie. Maar dit het versuim om ’n behoorlike troepe- of polisiemag aan die grens te plaas en het voortdurend nuwe beperkings aan die burgers opgelê. In 1825 het dit die reg van koloniste om te vuur op mense wat daarvan verdink word dat hulle drosters, leeglêers of ontsnapte gevangenes is, streng omskryf. Die prokureur-generaal het geskryf: “In geen geval mag dodelike wapens gebruik word voordat alle ander middele eers misluk het nie. Geduld en verdraagsaamheid moet altyd beoefen word waar die lewe van ’n medemens op die spel is.” Terwyl die grensgebied al hoe onveiliger geraak het, was dit vir die boere al hoe onduideliker wát toelaatbaar is om lewe en eiendom te verdedig en wát nie.

      Teenoor die standpunte wat Retief verkondig het, het die opvattings van Andries Stockenstrom gestaan. Stockenstrom het aan die hoof van kommando’s aktief deelgeneem aan die militêre operasies, maar oor die toestand aan die grens groot kommer gehad. Vir hom was een van die groot oorsake van die konflik die soort diskresie wat Retief wou hê om die grens oor te steek en by ’n Xhosa-kraal die beeste terug te eis. Hy het ook sterk getwyfel of die militêre ekspedisies deur troepe en burgers oorkant die grens enigsins die vrede bevorder. Hy was oortuig dat die inval van Ndlambe se krygers in 1819 daaraan toe te skryf was dat hulle honger gely het en desperaat was.

      Stockenstrom het terselfdertyd ’n ferm beleid teenoor die Xhosas voorgestaan. Hy het aan die goewerneur geskryf dat dit absoluut noodsaaklik is dat Xhosa-veediewe gedwing word om hul gedrag te verander; daar moet nie met hulle gespeel word nie. ’n Bende “rowers en moordenaars” moet uitgewis word sodra hulle gewaar word ten einde te voorkom dat die kwaad wat hulle aanrig, versprei en honderde lewens eis. Militêre mag moet egter slegs gebruik word wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Kommando’s kan gesteelde vee in die kolonie terugvat, maar moet nie toegelaat word om die grens oor te steek nie.

      Die sogenaamde terugvatstelsel is hoofsaaklik uitgevoer deur klein patrollies wat die spoor van gesteelde vee moes volg en die vee terugkry. Hierdie patrollies het gewoonlik bestaan uit Britse soldate en burgers onder bevel van ’n Britse offisier. Hierdie stelsel het misluk. Die plase was nie omhein nie en daar was altyd te min mense wat die gevaarlike werk van veewagter wou doen. Veediefstal was aan die orde van die dag. Boere wat vee vermis het, kon eenvoudig na die naaste militêre pos gaan en aandring op ’n patrollie sonder dat hulle enige poging aangewend het om eers vas te stel of hul vee in werklikheid gesteel is. Die patrollies het krale dikwels nie eens die geleentheid gegee om hul onskuld te bewys nie.

      Daar was ander probleme. Baie van die diefstalle is gepleeg deur bendes wat nie onder die beheer van ’n kaptein gestaan het nie. Sommige kapteins het die stelsel misbruik om wraak op hulle vyande te neem. ’n Patrollie gelei deur kolonel Henry Somerset, seun van die goewerneur, het twee keer die verkeerde kraal afgebrand met lewensverlies. Stockenstrom het later verklaar dat hy weet van vyftig gevalle waar patrollies die grens oorgesteek en onskuldige krale geplunder het. Dit СКАЧАТЬ