Название: Die groot gedagte
Автор: Gideon Joubert
Издательство: Ingram
Жанр: Физика
isbn: 9780624052050
isbn:
Die Alpe en die Himalaja stoot soos molshope uit die aarde op, gepaard met geweldige aardbewings. Dit word kouer. Harige olifante verskeur die bome. In die omgewing van Saldanha en Hopefield groei ruie oerwoude. Sabeltandtiere jag op oerolifante, -renosters en -buffels. Dit is 10 miljoen jaar gelede.
Eeue en eeue gaan verby. Die eerste perd wei in die gras, en jou waarlik, daar tussen die ruigtes is die eerste aapagtige mens wat regop loop. ’n Miljoen jaar later sal sy beskaafde nakomelinge hom die spesienaam Homo erectus gee.
Tiene miljoene spesies van diere het sedert die ontstaan van lewe bestaan. Die meeste het uitgesterf. Vandag is sowat tweemiljoen spesies oor.
Van die primate is daar sowat tweehonderd. Diere het gespesialiseer om hulle by omstandighede aan te pas. Primate het harsings ontwikkel wat hulle goed te pas kom. Die groep of spesie van die Orde Primate met die grootste harsings is dié van die hominide.
Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger, Ons beeld
Dit was al laat in die Skepping toe God volgens die Bybel die mens geskape het. Wetenskaplikes stem met hierdie chronologie saam. Kragtens die Skepping was dit soos gister dat Homo sapiens, die mens van ons tyd, sy verskyning gemaak het. Dit was minder as ’n halfmiljoen jaar, waarskynlik eers ’n kwartmiljoen jaar, gelede. Volgens die ouderdom van die aarde net ’n oogknip.
Soos alle lewende en dooie dinge is ook die mens van die stof van sterre gemaak, die atome en molekule wat in die tweede fase van die Skepping in die kookpotte van sterre ontstaan het. Elkeen van ons is uit sterstof geformeer!
Een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die aarde was toe die mens met geluide begin kommunikeer het. Dit het beteken dat hy kennis kon oordra, van mens tot mens en van geslag tot geslag. Mense kon met mekaar praat. Spraak het tot ’n verdieping van denke gelei en die mens het geestelik ontwikkel.
Eers 35 000 jaar gelede het die mens voldoende ontwikkel om eenvoudige voorwerpe soos spiese en else van klip en been te maak. Presies hoe lank gelede is onseker, maar daar was ’n groot deurbraak toe die mens ontdek het dat organiese materie met suurstof verbind as dit verhit word. Hierdie chemiese proses, wat intense en langdurige hitte opwek, word vuur genoem.
Nóg ’n groot deurbraak kom 10 000 jaar gelede. Die mens vind uit hoe om ’n pyl en boog te maak. Hy word ’n jagter en ’n moordenaar. Eers 5 500 jaar gelede is hy slim genoeg om met eenvoudige beeldskriftekens boodskappe neer te krap. Dit was die begin van ’n baie groot deurbraak. Kennis kon opgeteken, bewaar en sonder spraak oorgedra word. Die eerste munte word 2 700 jaar gelede gebruik.
Die Gutenberg-pers is in 1440 ontwerp. Boeke kon op groot skaal geproduseer word. In 1609 kry die mens die eerste keer ’n helderder beeld van die planete en sterre toe Galileo die eerste teleskoop ontwerp.
Toe James Watt in 1765 die eerste stoommasjien bou, begin die nywerheidsrevolusie met al sy ellendes en deurbrake. Die eerste ysterbrug word in 1779 gebou en die eerste vliegtuig vlieg enkele treë in 1903.
Eers in 1948 maak die eerste transistor sy verskyning en in 1993 word die eerste kommunikasiesatelliet gelanseer. Binne dekades bring die ontwikkeling van die rekenaarskyfie, rekenaar- en televisieskerms, en verbindingsatelliete ’n kommunikasie- en kennisontploffing soos die wêreld nog nie van gedroom het nie.
Die elektroniese eeu het aangebreek. Dit laat mense dwarsoor die wêreld in mekaar se voorkamers verskyn. Mense op die mees afgeleë dele kan met mekaar praat en ingewikkelde inligting uitruil. Dit is byna asof elke mens met elke ander mens onmiddellik telepaties kan kommunikeer.
Homo sapiens was die eerste landspesie wat die hele wêreld in so te sê al sy klimaatstreke bevolk het. Hy het die getalrykste spesie geword – geen ander spesie kon dit nog regkry om so ’n groot persentasie van die aarde se biomassa te vorm nie.
Die mens word die planeet se heerser. Hy ontwikkel ’n selfbewussyn, ’n skuldgevoel, ’n wonderlike nuuskierigheid en ’n weetgierigheid.
Die grootste wonder van die Skepping het gebeur met die ontstaan en ontwikkeling van ingewikkelde molekulêre samestellings wat ’n verskeidenheid van gespesialiseerde organe vorm, wat saamspan om die gevorderdste selle aan die lewe te hou: die menslike brein. Selle wat kan dink, wat soek, wat wil weet wát die werklikheid is, wáárom alles is, wáárvandaan dit kom, en wáár dit gaan eindig.
Die mens: ’n Nietige gedeeltetjie van die natuur wat dit met groot erns en toewyding bestudeer, en met groot geduld en moeite die beginsels ontdek waarop die ganse heelal gegrond is.
Tweeduisend jaar gelede ontvang die mens die Boodskap van Liefde en die opdrag om te soek sodat hy kan vind. Hy verwonder hom aan die sterre waaruit hy gekom het en waarvan hy gemaak is. Hy wil die grootste ster en die kleinste atoom verstaan.
Met goddelike nuuskierigheid en eindelose vindingrykheid soek hy antwoorde op die vrae: Wát is werklikheid, en wát is waarheid?
OPMERKING: Die inligting oor die chronologie van lewe kom uit Ensiklopedie van die Wêreld. 1975. C.F. Albertyn (Edms.) Beperk. Stellenbosch.
2
Skatkis van die hemel
. . . hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
Psalm 8:2
Die antieke sterrekunde
Denkers van die vroegste beskawings het geglo dat die plat aarde solied en bewegingloos staan en dat die hemel om die aarde draai. Die hemel was ook nie baie ver nie. Net so ’n entjie bokant die bergkruine was die hemelkoepel waarin die ligte van die nag gegloei het.
Selfs vóór die koms van die Griekse beskawing is besef dat die vyf bekende planete van daardie tyd (vandag weet ons van agt, nadat Pluto weens sy geringe grootte as planeet gediskwalifiseer is), net soos die son en die maan, hul eie bane tussen die sterre volg.
Die menslike oog hou van orde. Die brein soek patrone. Daarom het vroeë beskawings orde in die sterre gesoek en beelde daarin gesien. Die Galdeërs van Mesopotamië was miskien verantwoordelik vir sommige van die konstellasies soos ons dit vandag ken. Miskien was dit die Minoërs van Antieke Griekeland.
Die antieke Egiptenare en Chinese het heelwat kennis van die sterrekunde gehad, maar hulle het dit nie probeer verklaar nie. Hulle was net waarnemers en het hul eie sterregroeperings gehad.
In die vyfde eeu het sint Augustinus nog geskryf: “Aangaande die fabel dat daar antipode is, dit wil sê mense aan die ander kant van die aarde, waar die son opkom wanneer dit by ons ondergaan, mense wat met hul voete onder ons s’n loop, dit is hoegenaamd nie geloofwaardig nie . . . Daar was net een paar oorspronklike voorouers, en dit is ondenkbaar dat sodanige afgeleë streke deur Adam se nasate bevolk kon word.”
Werklike vordering het eers met die Griekse beskawing gekom. Een van die eerste Griekse sterrekundiges was Tales van Milete, wat 600 v.C. gebore is. Die laaste groot sterrekundige van die Griekse skool was Claudius Ptolemaios van Aleksandrië (87-150 n.C.) wat moontlik ’n Egiptenaar van geboorte was. Die goue tydperk van Griekse sterrekunde het dus oor ’n tydperk van 800 jaar gestrek, net so lank soos vanaf die Kruistogte tot vandag toe.
Tales het geglo dat die aarde die middelpunt van die heelal СКАЧАТЬ