Название: Die groot gedagte
Автор: Gideon Joubert
Издательство: Ingram
Жанр: Физика
isbn: 9780624052050
isbn:
As enigeen van ’n legio faktore ’n ietsie anders was, sou die Skepping ’n miskraam gewees het. Sterre, die gloeiende sterrewiele, die planete, die lewe, en ons, sou nooit hier gewees het nie.
’n Breukdeel van ’n sekonde ná die Oerknal het die eerste “toevallige” wonderwerk gebeur. Op daardie oomblik was die presiese massa en samestelling van die heelal van deurslaggewende belang.
Die Britse kosmoloog Stephen Hawking (1942—), soos aangehaal deur John Boslough (1985. Beyond the Black Hole: Stephen Hawking’s universe. Londen: Collins), het dit só gestel: “Die vinnig groeiende heelal kon só dig met materie gepak gewees het dat dit op homself kon ingestort het, soos ’n swartkolk. Of materie kon te yl versprei gewees het om in galaksies saam te koek.
“Dit kon in die ruimte rondgedryf het. Die heelal se uitdying vereis ’n merkwaardige tydrooster. Dít moet gebeur het binne die eerste 10-32 sekonde van die uitdytydperk.” Tot vandag toe duur die uitdying steeds voort, maar teen ’n rustiger tempo.
[Net soos groot syfers eksponensieel uitgedruk kan word, kan dit ook met klein syfers gedoen word: 10-1 =een tiende ; 10-2 = een honderdste; 10-3 = 1⁄1000, ensovoort.]
Die eerste faktor wat moes sorg dat die heelal ontwikkel het soos dit ontwikkel het, het dus presies 10-32 van ’n sekonde na die begin van die uitdying plaasgevind. ’n Biljoenste van ’n biljoenste van ’n sekonde vroeër of later, en die heelal soos ons dit ken, en ons, sou nooit bestaan het nie. Dit is opwindend om die Skeppingsdrama vanaf die Oerknal tot op die hede te volg.
DIE EERSTE FASE
Onmiddellik ná die Oerknal het die heelal begin uitdy. Soos die ruimte gerek het, het die materie en die energie in die heelal ook uitgedy en vinnig afgekoel. Die ruimte het baie helder gegloei. Steeds het dit uitgedy, en daarmee het dit afgekoel tot ’n skemering. Later het dit pikdonker geword.
Die oerheelal was vormloos, koud en donker. Daar was geen sterre, newels of lig nie. Die heelal was woes en leeg. Hier en daar in die duisternis het ’n eensame waterstof- of heliumatoom rondgesweef.
Daar was egter geleidelike, millenniumstadige invloede aan die werk. Hulle was baie flou, onmeetbaar gering, maar daar wás beweging. Hier en daar was die atome van waterstof en helium ’n titseltjie nader aan mekaar as op ander plekke.
Hier en daar in die groot duisternis was ’n verskuiwing van gas aan die gang. Ongelooflik stadig was die verdigting, die saamkom van gasatome. Steeds was dit koud, donker, leeg, amper bewegingloos en geluidloos. Maar met die verbygaan van duisende en duisende eeue het die gas op plekke digter geword soos die swaartekrag meer en meer van die gasatome saamgetrek het.
Die ontsaglike gaskolke het stadig begin draai. Swaartekrag het toegeneem. Die malende gas-arms het teen ander gas-atome “gestoot”, wat verdere verdigting veroorsaak het.
In die duisende miljoene reuse-draaikolke, elk duisende miljoene kilometers in deursnee, het gas verdig en slierte gevorm. Die atome in die kolke het gebots en die wrywing het hitte veroorsaak. Daar was nou duidelike beweging in die heelal: warmte en stadige beweging.
Met die verloop van nog baie eeue het die malende, kokende kolke al meer saamgekoek, die drukking het toegeneem en die gasse het geweldig warm geword. Die atome het gewelddadig teen mekaar gebots.
Waterstofatome se elektrone is van die protone losgeruk. Protone is positief gelaai en stoot mekaar af, maar weens die geweldige druk en hitte het die protone só kwaai teen mekaar gestamp dat hulle deur die elektriese weerstand gebars het.
Waterstofgas is deur kernfusiereaksies omgeskakel na helium met die gepaardgaande vrystelling van energie. Energie het deur die gaskors buitentoe gebeur en in die ruimte uitgestraal.
Die eerste sterretjie het in die duisternis geflonker!
Toe God die dramatiese woorde gespreek het: “Laat daar lig wees,” was dit lank voordat die eerste ster begin flonker het. Dit was ook lank voordat die son op die vierde “dag” van die Skepping begin skyn het. Die ster- en sonlig was, en is, baie anders en flouer as die onbeskryflike loslating van energie (straling, lig) wat ná God se eerste Skeppingsbevel uitgebars het.
Die Skeppingsoomblik was toe die Oerknal verblindende lig uitgestraal het – toe die ontsaglike hete energie losgelaat is waaruit álles in die heelal mettertyd met verstommende ordelikheid sou voortkom.
God het gesê: “Laat daar lig wees.” Daar wás lig.
Nadat die eerste sterretjie begin flonker het, het miljoene eeue verbygesleep, en nog sterre het verskyn. Diep in die hart van elke ster is waterstof in helium verander. Die massaverskil is in die vorm van energie vrygestel, energie wat lig en warmte in die groot, koue duisternis uitgestraal het.
Daar was nou baie sterre, maar nog geen planete nie en nêrens in die heelal was daar ’n teken van lewe nie. Een na die ander het die sterre se waterstof, die brandstof vir kernkrag, opgeraak. Hulle het gekrimp. Die druk in die harte van die sterre het groter geword en breekpunt bereik.
Soos die druk in ’n motorband toeneem as dit opgepomp word, en die toenemende druk die band laat warm word, word die binnekant van die sterre warmer soos hulle krimp en die druk toeneem.
Eindelik word die druk só geweldig dat die sterre op hulleself instort. Die hitte neem duisendvoudig toe.
Daar is nie meer waterstofatome vir kernreaksies nie. Dit is nou heliumatome wat in die ingewikkelde kernreaksies rondspartel. Die sterre swel op en word enorme rooireuse.
Helium word in koolstof verander; koolstof in suurstof en magnesium; suurstof word neon; magnesium word silikon; silikon word swawel; en só borrel dit in ’n ontsaglike atomiese en chemiese hekseketel wat die hele aanskyn van die kosmos verander.
Die groot, rooi en betreklik koel doppe van die reuse-sterre bars oop en dryf in die heelal uit. Die ruimtes tussen die sterre ontvang koolstof, suurstof, stikstof, fosfor en al die swaarder elemente.
Af en toe ontplof ’n ster dat die buitenste stukke aan flarde geruk en in die ruimte uitgespuug word. Met geweldige kragte, ongelooflik magtig en ontsettend indrukwekkend, word brokke so groot soos vyf of vyftig sonne van die rooi sterre uitgeslinger.
Soms blaas ’n ster soos ’n ballon af en kleiner flarde soos uitgebrande papier dryf die ruimte in. Só gee die ster aan die ruimte terug wat hy daaruit gehaal het, maar in ’n ander vorm.
DIE TWEEDE FASE
Die Skepping duur voort. Ook in die kosmos is die siklus van geboorte, verval, dood en geboorte die patroon. Die heelal het nooit opgehou om skeppend te wees nie.
Oral in die heelal sterf sterre. Hul liggies verdof en gaan dood, terwyl nuwe sterre sonder ophou gebore word, tot vandag toe. Miljoene en miljoene sterre. Oor en oor word die proses herhaal, in siklusse van miljoene jare.
Die sterre van die nuwe geslag is egter anders as dié van die eerste geslag. Dit is met swaarder elemente verryk, die elemente wat ontvang is van die gestorwe liggame van vorige sterre.
Eeue en eeue gaan verby, miljoene eeue.
Hier en daar in die hemelruim het ook kleiner kolkies in materie gekondenseer. Dié is te klein en te lig om СКАЧАТЬ