Название: Stukkies van die hemel op aarde
Автор: Dirkie Smit
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796316356
isbn:
Uiteindelik leef ons almal daarvan, want ons is almal broos, afhanklik van ander, van liefde en vriendskap, van omgee en sorg, van mense wat óns raaksien en vir óns tyd inruim. Die kerklike diakonaat leef daarvan dat voltydse werkers en vrywilligers, maar ook gewone gelowiges, ons almal, dié kuns sal aanleer: die kuns om agter watter gesig ook al die méns te ontdek, hom of haar waardig te ag, en tyd te maak.
Veral in ons dag is dit dringend nodig om tyd te maak vir mekaar, sê Huber, want “die sosiale klimaat het koud geword”. Al meer mense leef net vir hulself, en maak skaars tyd vir hulself, wat nog te sê vir ander, veral vir dié “in enige vorm van lyding en nood” (soos die Belydenis van Belhar sê).
Ons leef in ’n kultuur van selfsug en toe-eiening, van gryp- en hebsug. Dit is in só ’n tyd dat die kerk kan bydra tot ’n kultuur van menswaardigheid en hulpverlening, van omgee en sorg. En dít sal eers begin wanneer ons mense ontdek, raaksien, en tyd maak vir hulle.
Wie tyd maak vir mense, maak tyd vir God se Gees, want dis presies waarvoor die Gees met óns besig is, waarom die Gees tyd maak vir óns.
Die geur van koffie
Ons kan nie eens die geur van koffie beskryf nie, sê die uitsonderlik kreatiewe en invloedryke wysgeer Ludwig Wittgenstein. En hy behoort te weet: van die geur van koffie én van hoe om te beskryf!
As boorling van Wene kén hy koffie, en al die wonderbare assosiasies wat dié geur by ons kan oproep. Assosiasies van kafees en koerantlees, van gesellige vriendskap, van rustige ure, van polsende straattonele, van warm-wasem-teen-wit-winterkoue.
As baanbreker-taalfilosoof van die 20ste eeu weet hy ook beter as enigeen wat woorde kán en nié kan beskryf nie.
Trouens, hy word juis aanvanklik beroemd vir sy teorie dat ons met taal die werklikheid én die waarheid akkuraat kan ken en verwoord; dat ons presies, eksak die wêreld van feite daarbuite kan afbeeld en uitsê. En toe word hy in sy latere jare éérs beroemd deur te sê dit is nie so nie, sy vroeëre teorieë oor die vermoë van ons taal was nie reg nie! Die waarheid is eerder dat taal en woorde die geheimenis van die lewe nié volkome kan vasvang en weergee nie. Die werklikheid is eerder dat lewe en waarheid vol is van misteries, misteries wat wel wérklik is, ja, vir séker – so werklik en so waar soos die geur van koffie! – maar misteries wat ons nooit voluit kan begryp en verwoord nie.
Nee, ons kan die geur van koffie nie eens voluit beskryf nie. En tog is dit dáár, en werklik, en vol betekenis, vol assosiasies, vol herinneringe, vol waarheid. Want geure kan doen wat woorde nie kan nie. Dit roep assosiasies op, skep stemming, wek gevoel, verander ons luim deur onnoembare herinneringe. Veral digters weet dit maar alte goed. Vra maar vir [7]DJ Opperman wat sy nooi in ’n nartjie kon ruik, sy ouma in kaneel, en in die geur van anys is daar iemand misterieus, ja, sê hy, “daar’s ’n vrou in elke geur!
Geen wonder nie dat die Bybel ook dié geurmetafoor gebruik vir die góédheid van Christus.
Sy offer is ’n gawe vol lieflike geur, sê Filippense 4:18, vol wonderbare assosiasies, onmoontlik om voluit te verwoord. Dit skep stemming, vreugde, dankbaarheid – en roep gelowiges om óók so ’n lieflike geur te versprei, om onsself diensbaar te stel as welbehaaglike, aangename offers (Rom 12:1; 2 Kor 2:14-16). Sodat, al kan hulle dit nie mooi verstaan of verwoord nie, enige samelewing gelukkig behoort te voel, dankbaar, góéd, omdat daar Christene onder hulle woon en leef – en sodat hulle God sal dank vir dié teenwoordigheid, dié geur van offervaardige diens.
Maar nou ja, hoeveel mense kan die geur van koffie eintlik nie verdra nie? Dis die lot van geure, álle geure.
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is,
hoe sou ons tog die wonder van u Skepperhand kon bespeur
in die eenvoud van ’n haselneut,
in die wonder van alle lewe,
in die belofte van elke nuwe oggendskemer,
in die rustigheid van elke aand wat daal?
Hoe sou ons u krag kon sien in die weerlig en die donder,
u grootsheid in die oseane wat eindeloos voor ons uitstrek
en die berge wat hoog bo ons uittroon?
Hoe sou ons tog u voorsienige sorg kon ontdek
in die blomme van die veld en in die voëls van die hemel?
Hoe sou ons u trou bely kon hoor
in die dankbare brul van die leeus
en die sagte drup van die eerste reëns?
Hoe sou ons u heiligheid kon ervaar
in die roetine en verveling van elke dag,
u geregtigheid te midde van die onreg en die leed van die lewe?
Hoe sou ons u troos kon aanvoel
as die sorge ons keel en die vrees ons hart beklem?
Hoe sou ons die geheimenis van u liefde kon ervaar
in die grootsheid van die mens,
in die onbeskryflike wonder wat onsself is?
Here onse God,
hoe sou ons tog u eie aanwesigheid by ons
kon gewaarword in die doodgewone van elke dag,
die stukkies van u hemel
in die gebrokenheid van ons aardse verblyf –
as U nie Uself aan ons openbaar nie?
As U nie self onder ons kom woning maak nie?
As U nie in stilte in ons harte fluister nie?
Amen.
Februarie
Nagedink oor gebed,
oor drome
– en oor rus in God.
______________________
Ons kan die besorgdheid nie verhelp nie.
Ons kan die vrees en die kwelling nie van ons weer nie.
Dit gaan oor ons kom, so seker soos wat ons gaan kwaad word.
Die Here weet dit, daarom gaan die Ou én Nuwe Testamente
daarvan uit. Dis daar, van nature, dit vreet aan ons gedagtes,
veral in die skemer van die aand en deur die eensame ure van die nag.
Vir seker gaan ons ontsteld raak.
Vir seker gaan ons sidder.
Maar dan kan ons met onsself praat,
СКАЧАТЬ