Bufferplakkers bied nog nie lewensfilosofieë nie. Só moes die strokiesprentkarakter Charlie Brown die kordate klein Linus herinner terwyl hulle peinsend in die vertes tuur. Tussen bufferplakkers en lewensfilosofieë is daar ’n groot verskil. Die een is gevat, die ander is omvattend. Die een laat jou glimlag, die ander laat jou lewe. Die een vermaak vir ’n oomblik, die ander oriënteer vir altyd.
Maar, ja, sómmige bufferplakkers grens darem sowaar baie na aan filosofieë! Soos dié een op ’n dag in ’n winkelvenster: “Jesus is coming. Look busy.” Die metafoor daaragter, die assosiasies wat dié spreuk oproep, was sommer dadelik nogal snaaks. Herinner dit nie immers aan ’n klaskamer, met die juffrou êrens heen, en almal-aan ’t-stout-wees-met-allesbehalwe-waarmee-sy-gesê-het nie? En dan die benoude gille. “Sy kom!” Wat beteken: “Stop oombliklik julle wat ook al en lyk besig, of daar is moeilikheid!” Ja, sy’s naby! Lyk besig!
En vir seker verwoord dié bufferplakker daarmee inderdaad ook baie mense se soort godsdiens! Vir baie van ons is dit presies hoe ons glo, dink en leef! En hoe ons vir Jesus sien! Wees gereed vir Jesus se koms deur besig te bly, deur te doen wat goed en ordentlik is. Trouens, hoe baie kere is die gelykenis van die talente (deesdae lees dit “muntstukke”, in Matt 25:14-30) nie juis só in skole gebruik nie? Om ons aan te por tot vlyt en ywer? Met die dreiging dat die Een wat tydelik weg is na die ver land enige dag onverwags mag opdaag – soos Juffrou – en bewaar dan alle luiaards se arme siele! Ja, vir seker, só dink baie van ons, ook oor Jesus. Nes die bufferplakker in die winkelvenster, dié dag.
Maar ewe verseker verwoord dit nié die evangelie nie. Dié is immers dat ons gereed bly deur te waak en bid – vér van werk en woel en besig lyk af! Die evangelie is immers dat ons onbesorg kan wees omdat Hy “naby is”, soos Filippense 4:2-9 sê, en dus vreugdevol en vriendelik mag wees, rustig en vol vrede mag lewe, ongeag of dié woordjie “naby” in Filippense op ruimte dui (soos in: Hy is altyd naby) of op tyd (soos in: Hy kom gou). Of Hy nou naby is in ruimte, net buite die deur; en of Hy naby is in tyd, binne oomblikke hier, dit maak nie regtig saak nie. Want ómdat Hy só naby is, mag ons ontspan, en onbesorg wees. Want alles is reg en onder beheer.
Die kern van die evangelie is dat sy nabyheid nie vrees bring nie, maar vrede. Sy nabyheid is nie sleg nie, maar wonderbaar góéd.
Dís die evangelie.
Dis seker dié dat die plakker vir ons klomp dadelik so snaaks was, so oombliklik ons aandag getrek het, dat ons nie kon help om te lag nie.
En dis seker darem tog soos wat die eienares van die winkel dit self ook sou bedoel het? Sodat dit dáárom was dat sy dit so prominent uitgestal het in die venster? As iets lekker snaaks vir verbygangers, nie as iets wat sy ernstig bedoel het nie? Vermoedelik het sy dit darem sélf ook bedoel as ’n regte bufferplakker, en nie as ernstig bedoelde lewensreël nie?
Maar wie weet? Ek wou nog ingaan en haar self gaan vra, maar sommerso deur die venster al het sy vir my geheel en al te besig gelyk . . .
Hoop vir gister
Twee ouerige Engelse vriendinne het glo volgens jare lange gebruik elke Saterdag saam die bus geneem na die nabygeleë buurdorpie om hulle weeklikse inkopies te gaan doen in die groter winkelsentrum daar. Tot een op ’n dag uit die bloute sê: “Ek gaan nooit in my lewe weer in daardie dorp koop nie. Hulle sal my geld nie weer sien nie.” Totaal oorbluf wil die ander een weet wat dan gebeur het? “Hulle het ons aangeval en ons huise afgebrand,” is die verbitterde verduideliking.
Na ’n paar oomblikke van volkome verbystering sê-vra die ander: “Maar dit was tog 950 jaar gelede?”
“Mag wees,” kom die weerwoord, “maar ek het dié week eers daarvan gehoor.”
En so lewe ons, soos William Faulkner sou sê: “Die verlede is nie dood en begrawe nie. Dit is nog nie eens verby nie.”
Die verlede bly met ons, in ons, en laat ons nie vry nie. Wat gebeur het, hou ons gevange met kettings van teleurstelling en verbittering, van verwyt en selfbejammering.
Dit geld vir ons diep persoonlike ervarings, van ons verhoudinge met dié naby ons – ons ouers, kinders, geliefdes, vriende – en ook met ons naastes in die samelewing rondom ons.
Herinnerings aan vergange pyn, onreg en kwaad bly kleef aan ons, word déél van ons, vorm ons gedagtes, vooroordele en standpunte.
Ons gedagtes is soos spookhuise waarin lang vergange herinnerings soos geeste ronddwaal en ons elke keer weer onverwags oorval en verskrik.
Die meeste van ons ken dit so goed en weet hoe waar dit is.
Hoeveel mense gaan nie gebuk onder diepe droefhede wat hulle lewenslank saamdra nie? Hoeveel dra nie wonde van gebroke verhoudinge, littekens van leed en teleurstellings nie? Hoeveel selfverwyte oor mislukkings en verkeerde keuses is nie elke môre weer vars en wrang nie?
Ja, hoeveel onder ons word nie deur ons verledes gemáák, gedefinieer, tot wat en wie ons nou is nie?
En tog is dit so onnodig.
Ons hoef nie so te lewe nie. Ons kán bevry word van dié kettings en dié dwaalgeeste van gister.
Trouens, dis die punt van die evangelie: Dis nooit te laat nie. Vir skuld is daar vergiffenis. Vir leed is daar troos. Vir konflik is daar versoening. Vir gebrokenheid is daar heling. Donker wyk voor lig. Wat agter lê, hoef nooit te bepaal wie ons is en wat ons vorentoe sal wees nie.
Aan die toekoms kan ons min doen, skryf die groot geleerde Ninian Smart, maar wat ons wel kan verander, is die verlede.
Ons kan anders daaroor begin dink. Ons kan dit verwerk, dit nuut leer sien, dit selfs vergeet, agter ons laat, indien nodig. Ons kan ons beelde van onsself en van mekaar anders begin teken; ons rekonstruksies van wat presies gebeur het, wysig. Ons kan alles in ’n ander lig begin sien, en vrede maak – ook met onsself en ons eie lewensloop, en só ’n nuwe toekoms ontvang.
Die strokiesprentkarakter en groot 20ste eeuse denker, Charlie Brown, geskep deur Charles M. Schulz, sê dit selfs nog beter. In diep gesprek met hom sê Linus: “Ek glo dis verkeerd om jou te kwel oor die dag van môre. Ons moet liewer net aan die hede dink.”
“Nooit,” sê Charlie Brown ontstig, “dit sal oorgawe beteken, boedel oorgee, moedverloor, sommer gaan lê. Nee, ek hoop nog altyd dat die verlede beter gaan word.”
Skole maak mense
Skole maak mense. Deur die eeue, in alle gemeenskappe, alle kulture. Dit wat “skole” genoem word – hoe uiteenlopend ook al! – is altyd bedoel om dié soort mense te kweek wat die betrokke gemeenskap wil hê. Skole moet “ware mense”, goeie burgers, staatmakers voortbring; goed opgevoedes, mense om mee saam te leef in ’n gelukkige samelewing.
Oorspronklik het die woord skool eintlik “vrye tyd” beteken! In die Griekse stadstate, soos Athene of Sparta, was net die bevoorregtes se kinders gelukkig genoeg om “vrye tyd” te hê – omdat hulle nie van kleins af die huishouding moes help dra nie. Dié kinders kon hulle vrye tyd op die markpleine verwyl, in die skole van die denkers deurbring, aan die voete van figure soos Sokrates, Plato en Aristoteles.
Dáár is hulle wysgemaak hoe om te leef, as mense, as burgers op wie die betrokke stad kon staatmaak; geleer hoe om die ambag van die lewe, die kuns van menswees, te beoefen. Hulle moes praktiese kennis, lewenskennis, opdoen. Hulles moes veral krities leer СКАЧАТЬ