Boerumoer. Sarel Pieterse
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boerumoer - Sarel Pieterse страница

Название: Boerumoer

Автор: Sarel Pieterse

Издательство: Ingram

Жанр: Юмористические стихи

Серия:

isbn: 9780798153492

isbn:

СКАЧАТЬ ection>

      

      Boerumoer

      Sarel Pieterse

      Human & Rousseau

      boggie die doodsengel

      Hier sit ons op die dorpshuis se voorstoep; ek en oom Gysbert Steenkamp; die Karooboer wat deesdae dorpenaar is. Half ingedagte suig hy aan sy kromsteelpyp en blaas ’n dik blouwit walm in my rigting. Selfs Brut, die steekbaard, wat langs die riempiesbank lê waarop oom Gysbert sit, lig sy ore om die wolk rook beter te betrag. Asof gefassineerd, kyk ons na die rookdamp. Toe lyk dit of ’n gedagte by oom Gysbert roer. Hy vertel:

      Hierdie bol rook lyk dan nou vir my kompleet nes ’n engel wat op my stoep wil vlerke sprei, hê Brut ...?

      Regte engele is mos mensfigure met vlerke. Baie van hulle het name, soos daai kindengeltjie sonder sy doek wat pyl-en-boog skiet wanneer sy ma nie kyk nie. Cupido, dink ek, is sy naam.

      Klein bog het jare terug met ’n skramhou op my ook aangelê toe ek destyds nog skelm na die antie gevry het. En as mens ordentlik vry, dan vry jy mos toeoë. Blikslaer – mik mos net vir die kliere. Toe ek my oë op ’n dag oopmaak, toe moet ek en die oorle antie skielik jaag om voor die kansel te loop staan voor sy te veel beginne lyf wys.

      Maar eintlik wil ek jou vertel van die engel hier op die dorp. Dit was een van Krisjan Cloete se kinders. Wat sy kerkname was, kan ek my nie nou herinner nie. Ons almal het hom net as Boggie geken.

      Ja, die arme Boggie. In pleks van vlerke, soos dit ’n opregte engel betaam, het die vlerke soos ’n moedswillige verstandtand onder die vleis loop dwars draai en toe was daar op sy rug net ’n helske knop soos ’n ou wat pal rugsak dra. Vandaar sy naam: Boggie.

      En die boggel het hom ’n aardige stap gegee. As hy straataf kom, was hy kompleet oorleoetang wat met sulke skewe hangarms probeer regop loop.

      Mens sou kon sê dis seker erg genôg dat hy met so ’n gedaante van ’n lyf oor die weg moes kom, maar hy het nog ’n ander kwaal ook gehad en dit is dat hy nie alte fluks van gedagte was nie. Jy sou hom selde, indien ooit, vir ’n flinkdinkkompetisie kon inskryf. By die skool het die onderwysers later raadop onder mekaar gefluister dat as Boggie en Forrest Gump die enigste leerlinge in die klas was, sou Boggie altyd tweede staan.

      Maar dié Boggie was darem met een talent geseën, as mens dit nou vir ’n talent en ’n seën kon reken. Soos daai mannetjie darem kon vloek! Mensig! As daar ’n vloekkompetisie was, sou Boggie loshande wen. Man, hy sou sommer die hoofbeoordelaar ook kon wees. ’n Kras woord het sy ore nie ontglip nie en oor daar nie veel gedagtes in sy kop was nie, was daar ruim stoorspasie vir daai klas woorde.

      En hoe ouer Boggie geword het, hoe beter het hy gevloek. Kyk, hy het later sommer in rympies en versies gevloek – bas en tenoor, om die beurt, en vir ’n toegif het hy sommer die diskant ook bygesit. Vir ’n mens wat min praat, kon hy nou vir jou welsprekend vloek, ôk sommer in enige taal; van Nama tot Engels.

      Ek dink dit was Ossie Weenfontein wat grappie-grappie met die storie begin het dat Boggie nie eintlik vloek nie, hy praat glo net die taal van engele. Ou Ossie is maar lief vir die bottel en agter sy rug noem ons hom Ossie Wynfontein, maar daai dag het hy onwetend geprofeteer – dalk nie oor die taal nie, maar oor Boggie se engelskap.

      Jong, dit was toe Boggie begint skeer dat ons gewaar word van dié engelskap. Kyk, as seuns so dertien, veertien jaar oud word, dan ontsteek hulle hormone mos en dan kry hulle muisneste oor meisiekinders en goed. En hulle verander amper oornag in hierdie hardekwas, eiewys en eiegeregtige gedoentes. Het vir als ’n antwoord; kan hom niks leer nie. Ds. Duvenhage het juis anderdag gesê: Die Bybel stel dit nou nie heeltemal so nie, maar hy reken dit was net mooi toe Isak dertien geword het wat onse stamvader, Abraham, die slag lus gekry het om Isak te loop offer.

      Maar Boggie was anders. Soos ek gesê het, toe Boggie beginne skeer, het Krisjan Cloete hom maar uit die skool gehaal oor geleerdheid glad nie met hom akkordeer nie. Waar ander seuns van sy ouderdom begint vlerksleep en begaan raak oor hulle hare en puisies, het Boggie ’n onnatuurlike belangstelling in die dood ontwikkel.

      Hoe dit begin het, weet ek nie, maar toe ons weer sien, toe is Boggie by al wat ’n begrafnis is, sommer by die Engelse kerk se begrafnisse ook. En hy het moeite gedoen om plaasbegrafnisse ook by te woon. Selfs toe die lorrie ou Soufie van die haarsalon se hond getrap het, daai een wat Brut die slag gedek het en waaroor sy so sinneloos ontsteld was, selfs toe het Boggie gaan by staan waar die kinders die hond in die agterplaas begrawe.

      Boggie was nie meer in die skool nie en aan Sondagkerk het hy hom min gesteur, maar hy het hom die dood so aangetrek dat hy sy ma geteister het totdat sy vir hom ’n soort begrafnismondering na sy smaak gemaak het. Swart skoene, swart broek, wit hemp en swart das; dié kon hulle koop. Maar weens Boggie se figuur het ’n baadjie nie gedeug nie en sy ma het vir hom ’n soort bokleed met moue gemaak wat mens amper vir ’n toga kon aansien. En dit word toe Boggie se begrafnisdrag. Hy het niks anders begrafnis toe aangetrek as daardie klere nie.

      Net daar word Ossie Wynfontein se profesie waar. Boggie was in lewe die engel des doods. Met sy skewe lyf en swart gewaad was hy die onheil self en dan was hy nog die taal ook magtig.

      Wat die begrafnisse nog aardiger gemaak het, was dat Boggie altyd vroeg opgedaag en heel voor in die kerk gesit het asof hy die hoofroubeklaer was. Jy kan maar sê die voorste gestoeltes was sy privaat losie, vir sy uitsluitlike gebruik. En hy het hom ook nie daar laat jaag nie. Die familie van die oorledene moes vir lief neem om in die rye agter hom sitplek te kry.

      En by die graf het hy in sy swart gewaad altyd soos ’n skaduwee langs die dominee gewaak wyl dié plegtig die teraardebestelling behartig.

      Dink jou nou die prentjie in: kiertsregop die verkondiger van lewe en ewige heil; krom en stom langs hom, die engel des doods. En nooit het Boggie ’n gesig getrek of oog verroer of ’n traan gestort nie. Niks!

      Amper vergeet ek. Daar was natuurlik die keer in die kerk toe Boggie ’n lastige somersvlieg met ’n donderknal onder gebed doodgeklap het. Toe sê hy kliphard ’n hardvogtige versie in engeltaal op tot groot konsternasie van die begrafnisgangers. Van hulle het sekere woorde geëien en daaruit kon hulle die strekking van die res van sy rympie aflei. En daar was ook nie eenstemmigheid of hy die oorledene of die vlieg besweer het nie.

      Lank agterna het die mense nog gepraat oor Boggie se onwelvoeglike lyksrede.

      Die hoofouderling en ’n paar diakens het ’n afvaardiging gevorm om Krisjan te gaan aanspreek oor sy seun Boggie se onvanpaste kerktaal. Krisjan het hom natuurlik doodgeskaam, maar of hy vir Boggie aangepraat het of hoe ook al kon mens nie regtig aflei nie. As ek moet sê, het Boggie se vloekversies eerder langer en meer kru geword; dis nou maar wat ek vermoed aan sy driftiger uitspraak.

      Maar dis nie al nie. Boggie was al mondig toe hy sonder ons medewete bevordering gekry het. Dalk was daar in ’n stadium, volgens sy smaak, ’n verlangsaming in die aantal roudienste en dis toe dat sy engelskap tot hoër verantwoordelikhede en bemagtiging opgekommandeer word.

      Vir Boggie was dit nie meer genoeg om net begrafnisse by te woon nie. Hy wou vooruit van ’n naderende begrafnis weet. Dis hoe sy besoeke by die hospitaal begin het. Jong, en dit was selfs twee keer per week wat hy gaan besoek aflê het, voluit getof in sy begrafnisgewaad.

      Hulle sê hy het woordeloos met sy aapstappie van bed tot bed beweeg waar hy ’n oomblik vertoef het om die sieke uitdrukkingloos aan te staar voor hy na die volgende mens verskuif, so al of hy kom inspekteer wie, na sy mening, dit nie gaan maak nie en min of meer wanneer die begrafnis gaan afkom.

СКАЧАТЬ