Название: Al is die maan 'n misverstand
Автор: Danie Marais
Издательство: Ingram
Жанр: Зарубежные стихи
isbn: 9780624052654
isbn:
en sy sê sy hou van my, Mr Scaffold,
sy sê sy soek my en ek glo haar
en loop aan onder staande toejuiging
van lamppale,
middeldeur die somer;
die Japannese toeriste langs die Teems
wat vir my glimlag
voor hulle met duur kameras behang
omdraai
en my agterna staar.
By Westminster Bridge
het ek gestop, my ingegrawe
met ’n pint donker gedokterde bier –
Big Ben soos ’n Lucky Strike in my lawwe bek
en ’n wêreldstad soos wolke
af, af met die rivier …
Ná daai pint moes ek my skateboard-luim
straataf, tipsy en somerlangs ry
om te wag vir haar
in al die straatkafeetjies,
die duisend restaurante
en donker pub-hoekies,
die kouebier-terrasse
waar die blou lug lawaai
en elke slag
het sy oorkant my
agter haar verstaanbril kom sit –
heimat in haar handsak
in haar glimlag die groot miskien.
En ek, ek was eensklaps Elvis,
Time Man of the Year,
Lucky Luke en Han Solo –
“fell into the cauldron when I was a baby”.
Bliksem, sy sit net en smile vir my
op die foto in my hand
en ek ís die Pink Panther, Aragorn, son of Arathorn,
die uitverkore volk, die oop pad
en die ewige lewe.
Asseblief II
Dis drie-uur, Sondagoggend –
Mary Coughlan se Tired and Emotional hang
soos sigaretrook en herinnering
in die lug om my.
Gregor sit-lê oopmond en slaap
in ’n swart stoel
skuins oorkant my,
maar jy is ver weg
as ek koorsagtig probeer
om die toekoms te sien
in die sewe wasige letters van jou naam
soos iemand wat ’n kleur probeer hoor
of ’n klank wil proe
soos ’n baba in sy wieg wonder
oor die betekenis van nagwind in die blare.
Onthou, Marais, niks was ooit soos jy gedink het
dit gaan wees nie –
jou laaste liefde het jou
“Alles Schlechte!” toegewens
voor sy vir altyd
met haar bitterrooi Volkswagen Polo
weggery het …
Met die laaste sluk wyn
kom ’n woord soos ’n ysskots
iewers in my los –
dryf suid met ’n ysbeer
in ’n ra-ra-rooi Hawaiise hemp.
Mens klop en mens waai
Dis tjoepstil, halfdonker en kort voor toemaaktyd
toe ek by Bremen se lughawe-restaurant inval.
Iemand is besig om te vee en op te ruim,
maar hy sien my nie
en ek gaan regs in die hoekie langs die ruit staan –
net betyds om te sien hoe jy jou paspoort
aan die ou met die snor
by “Passkontrolle” gee;
hoe jy deurgaan om tranerig maar vriendelik
vir iemand by Gate C
te vra of jy op die regte plek is
en of die vliegtuig nog nie vertrek het nie.
Twee minute gelede het ons mekaar
onbeholpe en ontoereikend
totsiens gesoen
ná ’n streng Duitser jou beboet het –
Suid-Afrikaners het altyd te veel bagasie
het hy droogweg opgemerk.
In die stil skemerhoek van die restaurant kyk ek
vasgenael
deur twee stukke glas hoe jy,
bril op die voorkop,
jou kaartjie nagaan
en jou paspoort check,
hoe jy naarstig na ’n tissue soek,
een vind
en jou neus selfbewus blaas;
hoe jy jou selfbeheersing effens herwin
en rondkyk
voor jy nog ’n slag huil
weer ’n СКАЧАТЬ