Название: Israel-reeks 11: Hooglied
Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796321701
isbn:
“Ek was ’n lang tyd in die hospitaal. Hier, jy kan voel daar is 5 mm-koeëltjies wat nog oral in my lyf vassit. Maar dit het nie my gees gebreek nie. Ek het sterker geword om te glo. Ons weet alles kom van HaShem af.”
“Dis hoekom julle hier is,” sê Rivkah sag.
“Ken. Ons is lief vir die naam settler, settlements. Toe Yehoshua oor die Jordaanrivier gegaan het die Beloofde Land in, het HaShem vir hom gesê hy moet in hierdie land settle. Dit is wat HaShem gesê het ons moet doen en ek hoop my seun en my kinders sal in my voetspore volg.”
“Tova,” vra Simon, “sien jy dit ook so? Dat dit God is?”
“Shimón, my vader het ál die jare gesê – ons wat sal veg om Hebron te behou, sal ons nie ook veg om Tel Aviv te behou nie? Dit is die Beloofde Land. Jy kan nie die land verdeel wat HaShem aan ons beloof het nie.”
“Jy weet, ek het ’n klomp mense, Jode, in Jerusalem en Tel Aviv hoor sê, wel, gee die land, die Wesoewer, eenvoudig maar op. Vir vrede. Julle stem nie met hulle saam nie?”
“Ons het al soveel grondgebied opgegee vir vrede, Shimón, en wat het ons daarvoor gekry? Hoe lyk Gasa wat ons opgegee het vir vrede nou vir jou? Hierdie grondgebied is die land wat HaShem aan die seuns van Israel beloof het. As jy die Bybel oopmaak, hoofstuk vir hoofstuk, in elke boek, sal jy vers op vers sien dat HaShem die land vir die seuns van Israel beloof het. Nie vir die seuns van Hamas, nie vir die seuns van Arafat en nie vir die seuns van Saddam nie. Dit is die land. Dit is die Bybel. Mense probeer die Bybel verander. Ons probleem is dat nie baie mense in die wêreld die Bybel glo nie,” sê Menachem.
“Selfs Jode wat in Israel woon?”
“Ongelukkig ja, Shimón,” antwoord Tova hom, “selfs Jode wat in Israel woon. En baie van hulle. Maar baie van die Tora-getroue Jode wat jy hier sal ontmoet, glo dat God hulle geroep het om in die land te settle as ’n vervulling van die profesieë in die Tenach, wat die kerk die Ou Testament noem.”
“Shomron, oftewel Samaria, en Judea is die Bybelse hartland,” verduidelik Marc. “Menachem en Tova vervul dié roeping deur hier in Shomron ’n hotel te open.”
Dis ’n ruk lank stil voordat Simon vra: “Wat beteken die naam van die hotel?”
“Tamarisk van Samaria.”
“Dis ’n soort woestynboom, is dit nie? Hoekom het julle dié naam gekies?”
“In die Bybel lees ons dat Avraham ’n tamariskboom by Be’er Sheva geplant het en die naam van Adonai, die Ewige, aangeroep het. Onder daardie boom het hy ál sy besoekers ontvang en hulle van Elohim Chai vertel. Die boom gee skadu en beskerming, en dra heuningsoet vruggies wat ’n mens kan eet,” vertel Tova hom. “En dit het die sagste, mooiste bloeisels in wit, pienk en pers. ’n Droom om te sien in die voorjaar soos nou. Dis hoe ons graag wil hê mense Heshel HaShomron moet ervaar.”
“Ek verstaan,” sê Simon gedemp.
In die sagter trek in sy oë sien Rivkah dat hy iets van die land begin verstaan.
Hoofstuk 5
Samaria/Shomron
21 Mei
7 Sivan
Kort voor nege-uur die volgende oggend daag Re’uven in ’n militêre jeep op.
“Kyk,” sê hy sonder omhaal, “dis die Wesoewer waar ons ry, né? Dit kan lewensgevaarlik raak …”
“Hoe so?” vra Simon.
Rivkah sien haar broer sy asem diep intrek, maar hy antwoord redelik kalm.
“Dis soos ek gesê het, die Wesoewer … en al is die brandvlieërs en die eindelose mortiere onder in die suide, raak die mense hier sonder veel aanmoediging opgewerk. Itamar en Elon Moreh lê alkant van Nablus. En Nablus is ’n terroriste-nes. Ek kan ook nie vir jou sê hoeveel ons van die leërbasis by Itamar te sien gaan kry nie, want alles is op red alert. Ek sal weer met hulle praat.”
“Ons wil eintlik graag by Elon Moreh uitkom. Ons wil Simon die settlements laat sien.”
Re’uven kry ’n ironiese laggie, maar hy reageer nie daarop nie.
Hy sê: “Klim julle almal by my in die jeep. Ek het ’n soldaat saamgebring om Marc se motor te bestuur tot by Elon Moreh, dan kan julle self daarvandaan verder na die Galil toe aangaan.”
“Het jy genoeg tyd daarvoor, Re’uven?” vra sy suster sag.
Hy sit sy arm om haar en trek haar styf teen hom aan. “Ek sal nie as ek nie kan nie, achot sheli,” sê hy net hard genoeg vir haar om te hoor. “Ek het ’n dag verlof geneem.”
En toe nog vlakker by haar oor: “Shlomit is swanger.”
Rivkah trek haar asem vinnig in en Re’uven lê dadelik ’n vinger oor sy mond.
“Later,” spel sy mond die woord uit.
Rivkah se oë skiet onwillekeurig vol trane. Sy vryf haar kop teen haar broer se skouer en vat sy arm styf vas.
Marc en Simon, wat al begin aanstap het na die jeep, het nie die vlugtige woordewisseling gemerk nie.
Op die pad vertel Re’uven hoe gevaarlik dit daarlangs is.
“Huwara,” beduie hy vir Simon toe hulle ’n groot Arabiese dorp binnery. “Sien, die hoofpad loop hier deur die dorp. Dis basies die enigste punt waar Israeliese en Palestynse burgers in die noordelike Wesoewer met mekaar in aanraking kom. Dis deel van Roete 60. Dis die noord-suid-roete, kan ’n mens sê, wat ses vername Palestynse stede en ook vier Israeliese settlements hier in die Shomrom-area met mekaar verbind.”
“Watter is dit?” wil Marc weet, wat ook nie met die gebied bekend is nie.
“Yitzhar, Har Bracha, Itamar en Elon Moreh.”
“Jy sê dis gevaarlik, maar ek sien druk verkeer,” sê Simon.
“Nu, Israeli’s van die settlements wat in Tel Aviv of Yerushalayim werk, of daar sake doen, het nie juis ’n ander keuse as Roete 60 hierdeur nie. Daar is ’n omweg, maar dit kos ekstra rytyd van 30 minute en die meeste mense is nie gewillig om dit op ’n daaglikse basis te doen nie, maar …”
“Ná wat verlede Donderdag gebeur het,” vul Rivkah aan.
Re’uven knik, terwyl hy met gespanne aandag deur die totaal ordelose verkeer sy weg baan.
“Wat het gebeur?” wil Simon weet.
“Een van die setlaars, ’n pa van agt, was op pad huis toe toe die betogers meteens gewelddadig raak,” verduidelik Rivkah. “Hulle het sy motor begin skop en met klippe bestook. Hy het deur die skare probeer ontsnap, maar sy pad is versper toe ’n ambulans in sy baan gedraai en voor hom ingery het. Toe hulle sy motor se ruite begin stukkend slaan, het hy vir sy lewe gevrees en geskiet. Een Palestyn is noodlottig gewond en een beseer.”
Marc trek sy asem rukkerig in. Hy was gedurende een van die Gasa-oorloë in ’n СКАЧАТЬ