Onderwêreld. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onderwêreld - Fanie Viljoen страница 6

Название: Onderwêreld

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Журналы

Серия:

isbn: 9780624052319

isbn:

СКАЧАТЬ pad na die volgende klas, spook die ding nog by my. Eckardt se selfoon het nog in sy kas gelê. En sy laptop staan ook nog in sy kamer. Sou hy dit gelos het as hy saam met sy pa-hulle weg is?

      <h4>Log File: Die Tonnel</h4>

      Die eerste skooldag van my laaste skooljaar speel af soos ’n lang, boring fliek. Van die ouens is al vroeg wakker en besig om reg te maak. Ek wil vir oulaas laat slaap. Maar Plank kom klop my wakker. “Komaan, Greg, die skool se hoofseun moet seker ’n voorbeeld stel vir ons ander ouens,” sê hy kamtig ernstig.

      “Ek het nie myself gekies nie. Ek sal nog lê as ek wil,” antwoord ek slaperig.

      “O, julle spul uitverkorenes,” grinnik Plank. “Hoofseun, onderhoofseun, VRL’s. Julle was almal blote saketransaksies, was julle nie? Wie se pa kan die skool se budget die grootste hupstoot gee? En daai badge wat hulle op jou bors vassteek, is die kwitansie wat jy die hele blerrie jaar gaan dra!”

      “Plank, moet jy my nou so crap laat voel, hè? My oë is nog nie eens behoorlik oop nie. Ek hoop nie jy maak ’n gewoonte daarvan hierdie jaar nie. Ek sluit my deur voor ek gaan slaap, try my.”

      “Kwanele gaan weer op jou case wees.”

      “Ek het hom op sy plek gesit gisteraand by die VRL-vergadering. Dis hoekom ék kan laat lê, en hý vanoggend moet sukkel om die Trappers uit hul beddens te jaag.”

      Plank skud sy kop, lag en loop weer.

      Ek staan maar op. Op daardie oomblik kom Eckardt, die nuwe ou, by my kamer verbygestap. Natgesweet, asof hy gaan draf het. Sy oë vang myne in die verbygaan. Hardegat, dink ek weer. Ons sal nog gesels.

      Die oggend se skoolbyeenkoms is in die Lawson-gedenksaal. Die matrieks sit op die galery, Verenigde Raad van Leerders voor. Doktor Alec Pienaar, die skoolhoof, vat die kateder vas terwyl hy praat, sy stem donderend deur die klankstelsel.

      Ek hoor net hier en daar ’n woord, want dis dieselfde speech wat hy elke jaar hou: “… om die sakeleiers van die toekoms gereed te maak vir die reuse-taak wat op hulle skouers sal rus … uitmuntende prestasie … bevoorregte leerders … toekomsgerigtheid …” Plek-plek slaan hy oor na Engels, want Lawson is mos parallelmedium. “… with our dedicated team of teachers … business philosophy where science and technology meet the world of finance …” Dan terug na Afrikaans: “. . . die beste jaar ooit op akademiese en sportgebied …”

      Wag!

      Ek het iets gemis. Skielik kom ’n paar van die goed wat Dok Pienaar nou net gesê het terug: “Dit sal my laaste jaar as hoof van Lawson Kollege wees. Ek wou eintlik al verlede jaar my belange by die skool finaliseer, maar op aandrang van die skool se beheerliggaam en verskeie ouers, bly ek nog vanjaar aan. Soos ooreengekom met die beheerliggaam, sal ek egter nie voltyds by Lawson Kollege kan wees hierdie jaar nie. Die private sakebelange wat ek najaag, sal baie van my tyd opeis. Meneer Pete Andersen, die adjunkhoof, sal my plek volstaan wanneer ek nie hier is nie. Ek verwag dat julle hom sal ondersteun in hierdie reuse-taak.”

      Private sakebelange. Ek wonder wat dit is? Dok Pienaar het verlede jaar ook iets hiervan gepraat. Dalk is dit maar net sy manier om te sê hy is nou keelvol vir hierdie plek, hy gaan sy skoene uitskop, vir homself ’n whiskey en soda gooi en begin info-mercials kyk.

      Deur die loop van die dag word admin-reëlings vir die res van die jaar getref, klasroosters bespreek en ’n oorsig gegee van die leerplan. Maar die ding wat my die meeste opval, is al die waarskuwings en bedekte dreigemente dat hierdie matriekjaar nie kinderspeletjies gaan wees nie. Dat ons moet vergeet van girls, computer games en ander goed wat ons beperkte aandagspan kan aftrek van daardie groot einddoel: die matriekeindeksamen.

      Ons onderwysers is meestal dieselfde klomp wat ons verlede jaar ook gehad het. Net Niel Manson, Besigheidstudies, en Jennie Lombard, Afrikaans, is nuut. Hulle kry hulle byname deur die loop van die dag. Niel Manson word eers Nil Man, en later Nelson Mandela. Jennie Lombard kry sommer dadelik die naam Jennie Langbaard vanweë die effense wollerigheid op haar bolip en ken.

      Daardie middag dril die ingekontrakteerde atletiekafrigter van die Atletiek-Akademie ons vir die komende atletiekseisoen, ek vergader vinnig met die verskillende huise se koshuis-VRL’e en toe, uiteindelik, sak die son en kleur die blou berg om ons gloeiend oranje-geel, soos ’n reuse-goudstaaf.

      Daar is nou maar een ding wat jy moet weet as jy jou vuil skoolskoene polish vir jou eerste dag in graad agt by Lawson Kollege: vanaand gaan jy bid dat jy die Tonnel oorleef.

      Die Tonnel is die netwerk van waterafvoerpype wat onder die kollege deurloop. Die stank wat daar binne broei, is soos die asem van die duiwel.

      Dit werk so:

      “Opstaan! Opstaan, Trappers!” dreun ons stemme deur die koshuisgange. Al wat ’n deur is, word oopgestamp en die slapende graadaggies word uit hul beddens getrek. “Trek aan. Skoolklere, Trappers! Geen skoene.” Dan boender ons hulle uit by die deur. Oor die binneplein wat die groep koshuise vorm.

      “Sing vir ons, Trappers!” skree iemand. “Wys ons julle is nie bang nie!” Dit jaag hulle net verder op hol, hulle bewende lywe teenmekaar.

      “Wat … wat moet ons sing?” vra een van die Trappers.

      “Sing die skoollied!” skree ’n matriekseun.

      Dit werk altyd. Op jou eerste dag ken jy nog nie die skoollied nie. Hulle stemme is net ’n deurmekaar dwaal van woorde wat op ’n collision course is met ’n deuntjie wat hulle vaagweg onthou van vanoggend se skoolbyeenkoms.

      “O, julle ken nie eens julle eie skoollied nie!” roep ’n matriekstem.

      “And then you have the nerve to go to bed and sleep!” roep nog een.

      “Ek sê die Trappers moet ’n les geleer word.”

      Deur die warm nag, oor die donkergroen gras wat net plek-plek verlig word, vat ons hulle. Die Trappers probeer weer sing. Party Engels, ander Afrikaans.

      “Try again!”

      “Julle moet saamwerk, Trappers!”

      Dit misluk soos die vorige keer.

      Ons kom by die bos aan die westekant van die skool. Hier staan die geelhout- en witstinkhoutbome dig teenmekaar. Maar voor die lyn bome begin, is daar ’n groot sementblok in die grond, ’n mangat waar al die ondergrondse tonnels bymekaarkom.

      “Waar’s die blinddoeke?” vra ek.

      Iemand stop hulle in my hande. Ek deel hulle uit aan die ander matriekseuns. Elkeen kry ’n Trapper. Ons bind die blinddoeke om hulle koppe vas, begin hulle in die rondte tol. Die hele tyd kan jy die spanning in hulle lywe voel. Die geluide uit hul kele is na aan trane.

      Ek kyk na Kwanele, die onderhoofseun, en ek knik.

      Hy maak die mangat oop …

      “Julle wil deel wees van hierdie skool, nè, Trappers?” skree ek.

      Hulle antwoord flouerig.

      “Ek sê: julle wil blerriewil deel wees van hierdie skool, is dit nie?”

      “Ja …”

      “Ja, СКАЧАТЬ