Anderman se vrou. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderman se vrou - Chris Karsten страница 13

Название: Anderman se vrou

Автор: Chris Karsten

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798179836

isbn:

СКАЧАТЬ

      “Maar om hulle terug te gee, is dit nie ’n wensdroom nie? Hoe kan dit gebeur?”

      “Eerder ’n lewenstaak vir ons, vir my en Portis. Ons wil weet waar hulle begrawe lê. Ons wil hulle huis toe bring, terug Vlakte toe, vir hulle ’n ordentlike rusplek gee, waar hulle geliefdes hulle kan gaan besoek. Eers dan, nadat al hierdie onsekerheid opgeruim is, sal Portis ook rus kry. En ek.”

      “Maar hoe?”

      “Iemand moet weet. Meer as een. Iemand het die opdragte gegee oor wat met daai vyf moet gebeur. En ander het daai opdragte gaan uitvoer. Daarna is spore doodgevee. Jy sien, Molly, ’n hele span mense sou betrokke gewees het. Al wat ons soek, is net een lid van daai span.”

      “Waar gaan jy hóm kry, so iemand?”

      “Ek het gehoop om by Simon Pope te begin. Die wortel van die kwaad. Maar natuurlik ontken hy alles, jaag my weg, weier om my oproepe te ontvang, sê ek verpes hom en hy sal hof toe gaan om my van hom en sy huis weg te hou. Toe’t ek ander mense probeer opspoor wat dalk kan help. Maar loop bloutjies sover ek gaan. Nie eens die aartsbiskop en sy Waarheidskommissie kon sekere mense sover kry om hulle sondes te bely nie, watse kanse het ék, net ’n vlinderboer en kluisenaar?”

      Dit laat haar glimlag. “Jy’s darem nie regtig een nie.”

      “Maar ek en Portis kon nie net moed opgee nie, daar móét ander maniere wees om Simon te benader. En het besluit dat Rachel die sleutel is. Ek moet deur háár werk. Haar eers sagmaak. Behalwe dat ek leidrade teen haar probeer plant het tydens die ondersoek na die vleiemoorde in 2006. As sy weet dit was ék … wel, nog ’n goeie plan moer toe. En terwyl ek nog my planne sit en smee, kry ons die verpletterende nuus van die groot brand in Pretoria. Die Popes se huis, met hulle binne-in.”

      “Daarmee gaan ook jou hoop opnuut in vlamme op.”

      “Ja.” Maar oor mooi en skugter Rachel het ek regtig sleg gevoel. En nie net omdat ek haar wou gebruik, of misbruik, om by Simon uit te kom nie. Só ’n dood het sy nie verdien nie.

      Sedertdien het Lenny Arries so nou en dan ’n woordjie oor die polisieondersoek na my kant toe laat glip. Seker omdat hy voel ek verdien dit oor my wenke tydens sy ondersoek na die vleiemoorde, en omdat hy weet hoe ek oor Simon voel, dat ek oortuig was, steeds is, dat Simon die brein agter Jack se moorde was. En dat ek min twyfel het dat die vermiste kinders ook soos Portis in sy lab beland het.

      “Ondersoek hulle die brand nog?” het Molly gevra. “Dis al hoe lank? Hulle aanvaar seker maar dit was net ’n ongeluk, met noodlottige gevolge vir die Popes.”

      “Seker, ja …” Selfs die forensiese eksperts kon nie meer antwoorde gee nie, en sonder hulle wetenskaplike bewyse het die ondersoek tot stilstand gekom. Almal, ook ék, aanvaar dat dit Simon en Rachel se verkoolde oorblyfsels is. Kan nie eens praat van liggame nie. In die puin van daai helse inferno wat die grasdakhuis so vinnig verwoes het, is net gekarboniseerde stukke been gekry, en enkele verwronge items wat in die forensiese wetenskaplaboratorium as ’n horlosie, oorringe en vingerringe geïdentifiseer is, waarskynlik dié van die Popes. Aldus Lenny.

      Jack se liggaam het ek persoonlik gesien nadat Molly Onkers hom dood verklaar het. Simon s’n het niemand gesien nie, net die onherkenbare dele wat oorgebly het van al die elemente waaruit ’n menslike liggaam eens bestaan het. Die geweldige hitte het been- en tandreste so gedegradeer dat selfs geen mitochondriale DNS onttrek kon word om die oorledenes te probeer identifiseer nie. Volgens Lenny het ’n forensiese antropoloog wel vasgestel dat stukke been van twee verskillende individue afkomstig is, waarskynlik manlik en vroulik. Hy kon die wenkbrouboog in ’n stuk oogholtebeen as dié van ’n vrou identifiseer, en die vernoude iskiumkeep van ’n brok bekkenbeen as deel van ’n manlike pelvis. Maar of dit Rachel se oogbeen is en Simon se bekkenbeen … daaroor kan en wil geen mediese of ander ekspert steeds die hand op die Goeie Boek sit nie.

      Sonder om slegte dinge aan ’n medemens toe te wens, het ek gehoop dit ís sy verkoolde bekken. En dat hy moontlik in die ekwivalent van ’n vagevuur vergaan het, is welverdiend en ’n vérdere ironie. Ek is oortuig dat dit Simon is wat Jack by Bon Accord gebreinspoel het, en in Dante se Inferno geskool het, in Dante se reis saam met Vergilius deur die nege sirkels van die hel. En ek het gewonder: In watter sirkel bevind Simon hom nou?

      Maar sou hy en Rachel deur ’n hellevuur verteer wees, wat dan van die Bonteheuwel-vyf? Hoe sal ons dan ooit weet wat van hulle, die ander, geword het?

      Daarom, oor al hierdie onsekerheid en hoop wat so aan my siel knaag, dat ek oor daai ete vir Molly sê: “Dalk moet ek weer bietjie by Lenny Arries gaan koffie drink.”

      * * *

      Ek sit die koppie neer en sê: “Lenny, daai twee verkoolde oorskotte. Ek dink nagte daaraan, en glo nie langer dat dit Simon en Rachel Pope s’n is nie. Daai brand wat die Popes se huis in April verwoes het, was op dieselfde nag van Jack se besoek aan my en Portis. Is dit nie vir jou ook toevallig nie?”

      “Wim, maar jy weet mos. Ons werk nie met toeval nie, toeval is nie in ’n hof bewysbaar nie. En alle aanduidings wys dat dit Pope en sy vrou se veraste oorskotte is … Boonop is die ringe en horlosie, of wat daarvan oorgebly het, deur mevrou Pope se suster uitgeken.”

      Ja, ja, en uit beenoorblyfsels kon ’n briljante forensiese antropoloog bepaal dat die oorblyfsels aan ’n man en ’n vrou behoort het. “Maar is DNS gevind om Simon en Rachel Pope se identiteite te bepaal?”

      “Los dit, Wim, die saak is gesluit. En jy was reg, dit lyk of Pope die baasbrein agter Jack se moorde was. Nou’s albei dood.”

      “Los dit? Ek ken Simon Pope baie goed, ek het lank saam met hom gewerk, hy’s nie iemand wat sy eie lewe sal neem nie. Of sy vrou s’n nie.” Arrogante Simon Pope het altyd geglo hy is vir groot dinge bestem, dat hy die mag oor lewe en dood het. Dit is wat hy daar in daai laboratorium by Bon Accord gedoen het. Hy het jong mense as proefkonyne gebruik om hulle geestestoestand met sy duiwelse konkoksies te manipuleer. Hy is ’n neurofarmakoloog, hy kon dit doen, hy kon met jou brein speel.

      “Wat van Rachel se suster, Lenny?”

      “Sy weet van niks. Sy was in trane met die uitkenning van daardie persoonlike artikels wat uit die puin en as gesif is. Genuine trane, nie die krokodilsoort nie.”

      “Het jy haar ondervra?”

      “Dis nie in my jurisdiksie nie, dis Pretoria s’n.”

      “Weet jy of hulle haar ondervra het?”

      “Nee, ek weet nie, ek kan nie my neus in hulle sake steek nie. My ondersoek is klaar, dit behels die moorde wat hiér gepleeg is. En die poging tot moord op jou en Portis. Daardie dossiere is Pretoria toe met Jack se dood.”

      Die suster se trane mag eg wees, daai tyd met die uitkennings, maar dit is nou al omtrent agtien maande later. “Wonder jy nie of die susters met mekaar kontak het nie?”

      “Jy bedoel op ’n séance, met ’n medium wat in staat is om Rachel Pope daar in die doderyk op te roep sodat haar suster met haar kan praat?”

      “Ja, spot maar.”

      “Nog koffie?”

      “Nee, dankie. Sy’s nie dood nie, Lenny, ek sê jou, Rachel en Simon sit iewers lekker vir julle en lag. Julle moet daai suster ’n slag onder vier oë gaan spreek. Het julle na die vlugmanifeste gekyk?”

      “Watse СКАЧАТЬ