Brand. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Brand - Fanie Viljoen страница 6

Название: Brand

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Учебная литература

Серия:

isbn: 9780624084051

isbn:

СКАЧАТЬ verlange na haar ma by haar op. Toe sy nog geleef het, het hulle drie baiekeer so saam op die stoep of in die tuin gesit. Soms het hulle daar geëet as dit ’n lekker dag was.

      “Dink Pa ook nog partykeer aan Ma?”

      “Partykeer, ja.”

      “As Pa so buite sit?”

      “Enige tyd, seker.”

      “Ons … ons moet haar nie vergeet nie, Pa.”

      “Ons sal mos nie, hartjie.”

      Estie blaas haar asem stadig uit. “Vertel my van haar.”

      “Wat wil jy weet?”

      “Vertel my weer hoe Pa vir Ma ontmoet het.”

      “Jy ken mos die storie.”

      “Toe, Pa.”

      Hy steek nog ’n sigaret op. Lag saggies dat sy maag effens skud.

      “Ek was een en twintig, jonk en verskriklik aantreklik.”

      Estie lag. Dis altyd hoe hy begin as sy hom vra hoe hy en haar ma ontmoet het.

      “Ek het in ’n computer shop gewerk. Mense se verlore data probeer terugkry as ’n hardeskyf crash, virusse afgehaal, sulke goed. Daardie dae het ek werk toe gestap terwyl ek gespaar het vir ’n kar. Dis hoe ek op die Coffee Bean afgekom het.”

      “En op Ma,” help Estie.

      Haar pa glimlag. “Net so. Elke liewe middag het die mooiste meisie ooit daar in die koffiewinkel gesit. Bruin hare met ligter strepies goud, nes joune. ’n Roomgladde vel. Mooi vol lippe. Sy was elke dag op dieselfde sitplek met ’n boek in haar hande, ’n koppie koffie op die tafel en die laatmiddagson wat op haar hare blink.

      “Ek kon my aan haar verkyk. Eendag besluit ek toe om ook in te gaan. Maar ek was skrikkerig. Mooi vrouens doen dit aan mans. Ek het by ’n tafel ’n entjie weg gaan sit en koffie bestel. Stadig daaraan gedrink om langer na haar te kon kyk. Dit het ’n daaglikse ritueel geword.

      “Ek het nooit geweet of sy van my bewus was nie. Sy het net haar koffie gedrink en haar boek gelees. Soms het daar ’n effense glimlag om haar mondhoeke gespeel, dalk van iets wat sy raakgelees het.”

      “Pa kon nie Pa se oë van haar afhou nie,” help Estie weer vertel.

      “Dis reg, ja. Maar ek kon ook nie met haar gaan praat nie. Ek was steeds te bang.

      “Toe kom die dag dat my hart inmekaarkrimp van skrik. Dit was weer laatmiddag ná werk. Ek het deur die koffiewinkel se venster gekyk, maar daardie dag was die stoel leeg. Sy was nie daar nie. My lyf was meteens skoon lam. Ek het die koffiewinkel binnegestap, my oë steeds op die leë stoel. Jou stupid fool, het ek gedink. Nou is sy weg en jy het nooit eens met haar gepraat nie.

      “Maar toe, skielik, sien ek haar …”

      “… op die plek waar Pa altyd gesit het!” voltooi Estie die sin.

      Hy lag. “Op die plek waar ek altyd gesit het. Sy het haar boek laat sak en daardie mooi glimlag wat sy vir haar stories gehou het, vir my geglimlag. Haar oë het beduie ek moet by haar kom sit.”

      “Sy het toe al die tyd van Pa geweet,” sug Estie.

      “Ons het begin gesels, en ja, later uitgegaan, verloof geraak en uiteindelik getrou.”

      Estie se stem word sagter. “Ek hoop ek het ook eendag so ’n mooi storie.”

      “Ek is seker jy sal een hê, hartjie. Gee kans, daar is nog baie tyd,” sê haar pa.

      “Ek weet darem nie. Ouens en meisies is nie meer soos toe Pa-hulle jonk was nie. Vandag wonder jy: gaan iemand ooit flippen lief wees vir jou? Almal leef net so vir hulleself.”

      “Dis seker nie heeltemal waar nie.” Haar pa trek haar teen hom vas en soen haar saggies op haar voorkop. “Ai, dis te laat om nou aan sulke diep goed te dink. Ons moet gaan slaap. Kom.”

      Saam staan hulle op. Haar pa laat haar eerste by die voordeur instap. Dan sluit hy dit agter hulle.

      Toe hulle in die gang kom, gaan staan hy weer. “Iemand gaan nog eendag verskriklik lief wees vir jou, Estie,” sê hy nadenkend. “Jy moenie worry nie.”

      “Dankie, Pa,” antwoord sy sag. Sy wil dit glo, maar dit voel nie of sy op hierdie oomblik kan nie. Dit voel net te onmoontlik. Heng, sy is al in graad elf en geen ou het haar nog in sy arms vasgehou of haar ’n drukkie gegee nie, wat nog te sê van soen! Dit lyk so maklik vir die ander meisies by die skool. Hulle skerts met ouens en maak grappies. Die ouens hou hulle vas of tel hulle op en draai hulle in die rondte. Maar nie vir haar nie. Sy is Estie-wat-glo-miere-sit-en-dooddruk.

      In haar kamer klim Estie tussen die koel lakens in. Haar gedagtes dwaal terug na haar pa se woorde. Ingedagte vat sy weer haar selfoon. Sy kyk na al die duimnaelfoto’s van haar Facebook-vriende en wonder of een van hulle eendag haar mooi storie gaan word.

      Dan druk sy op een van die ouens se profiele. Sy kyk na sy foto’s, lees sy statusse en sy vriende se opmerkings. Uiteindelik skuif sy dieper onder die beddegoed in en raak aan die slaap met die selfoon teen haar bors.

      Arian is in die droom wat haar kom haal. Hy sê: “Brand. Vlam. Vuur. Ekke.”

      4

      Terwyl die klasse die volgende dag vir die derde periode ruil, sien Arian die Facebook-meisie tussen die ander kinders. Sy lyk nes haar profielfoto: skouerlengte hare en sielvolle, amper hartseer oë.

      Groet haar, sê iets vir hom.

      Nee, hy ken haar nie, daarom knik hy net sy kop effens en stap verder voordat sy met hom kom praat.

      Mense se koppe raas as hulle dink ’n Facebook-vriendskap is dieselfde as ’n werklike vriendskap. Dalk haal hy vanmiddag vir Estie af. Facebook is in elk geval ’n pot snot. Jy gee mense die geleentheid om in jou private lewe te kom krap. Hy wil nie so geken word nie. Hy hou van sy privaatheid. Dis hoekom dit so ’n helse pyn is om ’n kamer met sy broer te deel. Liny is gelukkig om haar eie kamer te hê.

      Die dag sleep verby, maar uiteindelik kom dit ook tot ’n einde.

      “Hei, boet,” roep Janco toe hy Arian ná skool in die gang stormloop, “vat my tas saam huis toe.”

      “Is jy simpel?” vra Arian. “Dra jou eie flippen tas, Superseun.” Hy wil aanloop, maar Janco keer hom.

      “Komaan, ek het swem.” Hy gooi die tas oor Arian se oop skouer. “Ek wil nie die ding heeltyd saamkarring nie.”

      “Ek stap huis toe!”

      “Dankie, ek skuld jou!” Janco trek al onder in die gang waar dit wegdraai swembad toe.

      “Hei, Janco!” roep Arian weer, maar sy broer kom nie terug nie. Arian vloek saggies. Hy gly die tas van sy skouer af en laat val dit op die stoep. Dan skop hy dit sommer nog muur toe, draai om en loop. Hy sal Janco later laat weet die ding is voor die mediasentrum.

СКАЧАТЬ