Название: Goudmyn
Автор: Wilbur Smith
Издательство: Ingram
Жанр: Исторические приключения
isbn: 9780795708220
isbn:
Daar’s ’n perk aan hoe ver jy ’n skag in die aarde kan maak en dit dan kan toerus om manne in ’n hyshok aan ’n staalkabel te dra – omtrent tweeduisend meter. Op daardie diepte moet jy weer begin, ’n kamer vir ’n ander skagtoring uit die klip oopskiet en daar ’n nuwe skag maak – die subhoofskag.
Daardie skag se dienshyshok wag vir hulle, en Jak lei die manne daarin. Hulle staan skouer aan skouer, die deur klater toe en weer kom die val in die donker in wat jou maag laat omdop.
Af, af, af.
Jak skakel sy koplamp aan. Nou is daar fyn stoffies in die lug, nadat dit tot dusver suiwer en steriel was.
Stof! Een van ’n mynwerker se grootste vyande. Stof van die barsslag af. Die ventilasiestelsel kon dit nog nie opklaar nie.
Eindeloos val hulle in die donker in, en dis nou baie warm, die humiditeit bou op, sodat die gesigte langs hom, wit en swart, in die lig van die koplamp blink van die sweet.
Die stof raak nou digter, en iemand hoes. Die helderverligte stasies flits by hulle verby – 76, 77, 78 – af, af. Die stof is nou ’n fyn mis. 85, 86, 87. Niemand het nog ’n woord gesê vandat hulle in die hyshok geklim het nie. 93, 94, 95. Die hyser begin rem, en stop.
Die deur klater oop. Hulle is 2 900 meter onder die aardoppervlak.
“Komaan,” sê Jak.
4
Manne drom in die voorste deel van stasie 95 saam, honderd-en-vyftig, dalk tweehonderd van hulle. Hulle is nog vuil van hulle werk in die werkgang, hulle klere deurweek van sweet. Hulle lag en gesels met die lighartigheid van manne wat pas aan geweldige gevaar ontkom het.
In ’n oopte in die middel lê vyf draagbare, en by twee daarvan is die helderrooi komberse oor die mans daarop se gesigte getrek. Die ander drie mans se gesigte lyk asof dit met meel bestuif is.
“Twee,” brom Jak. “Tot dusver.”
Die stasie is ’n deurmekaarspul van manne wat doelloos rondmaal. Elke nou en dan kom nog van hulle met die vervoerweë langs, namate hulle onttrek word uit die onbeskadigde werkgange wat nou ook as potensieel gevaarlik beskou word.
Jak kyk vinnig om hom heen, en herken een van sy mynkapteins.
“McGee,” roep hy, “vat oor hier. Laat hulle in rye sit, gereed om gelaai te word. Ons begin dadelik hierdie skof boontoe vat. Gaan na die hyskamer toe en sê vir hulle ek wil die draagbaargevalle eerste uit hê.”
Hy wag lank genoeg om te sien dat McGee beheer oorvat, en kyk op sy horlosie. Vier minute voor drie. Hy besef verbaas dat daar net 26 minute verbygegaan het sedert hy die drukbars in sy kantoor gevoel het.
McGee skep ’n mate van orde op die stasie. Hy skree in die hyskamertelefoon, en op grond van Jak se gesag eis hy voorrang om stasie 95 te ontruim.
“Reg,” sê Jak. “Komaan.” En hy vat die voortou in die vervoerweg in.
Die stof is dig. Hy hoes. Die rotsdak is laer hier. Toe hy weer begin loop, dink hy daaraan dat daar miljoene tonne rots bokant hulle hang.
Die vervoerweg vertak en sonder huiwering kies Jak die regterkant. Hy het ’n akkurate driedimensionale kaart van die ganse myn in sy kop, die 283 kilometer se tonnels wat Sonderkloof se operasionele gebied uitmaak. Die vervoerweg kom by ’n T-aansluiting; die sywaartse arms is laer en nouer. Regs na seksie 42, links na 43. Die stof is nou so dig dat jy skaars drie meter ver kan sien. Dit hang swaar in die lug en sink byna onmerkbaar na benede.
“Ventilasie is uitgeskakel hier,” roep hy oor sy skouer. “Van den Bergh!”
“Ja, meneer.” Die noodspan se leier kom tot by hom.
“Ek wil lug in hierdie strekgang hê. Kry dit aan die gang. Gebruik seilpyp as jy moet.”
“Reg so.”
“Dan wil ek druk op die waterslange hê om hierdie stof te laat neerslaan.”
“Reg.”
Jak draai in die tonnel in. Hier is die vloer ongelyk en hulle vorder stadiger. Hulle kom op ’n ry koekepanne vol gouderts af wat in die middel van die strekgang agtergelaat is.
“Kry hierdie goed uit die pad uit,” gelas Jak en loop verder.
Vyftig tree later steek hy vas. Hy voel hoe die hare op sy voorarms orent staan. Hy kon nog nooit aan die geluid gewoond raak nie, dit maak nie saak hoeveel keer hy dit al gehoor het nie.
Dis die geluid van ’n uitgegroeide man, met sy bene vergruis onder honderde ton klip, sy ruggraat dalk gebreek, stof wat hom versmoor, en ’n kop wat uitgehaak het oor die doodsangs van die omstandighede waarin hy vasgevang is, wat roep om hulp, wat sy God aanroep, wat roep na sy vrou, sy kinders, of sy ma.
In die mynwerkers se doelbewus onverskillige taal noem hulle hulle “kermgatte”.
Jak begin weer vorentoe beweeg, en die geluid raak harder, angswekkend, skaars menslik. Dit snik en brabbel en raak dan stil, net om weer met ’n bloedstollende kreet te begin.
Meteens is daar mense in die tonnel voor Jak, donker figure wat in die stofmis skuifel. Hulle koplampe gooi strepe geel lig, grotesk en verwronge.
“Wie’s daar?” roep hy.
Hulle herken sy stem. “Dankie Vader, dank Vader dat jy gekom het, meneer Stapelberg.”
“Wie’s julle?”
“Barnard.” Seksie 43 se skofbaas.
“Wat’s die skade?”
“Die werkgang se hele rotsdak het ingefoeter.”
“Hoeveel man het daar gewerk?”
“Twee-en-veertig.”
“Hoeveel is nog binne?”
“Sover het ons sestien ongedeerd uitgekry, twaalf met ligte beserings, drie draagbaargevalle en twee dooies.”
Die kermgat begin weer, maar sy stem is nou baie swakker.
“En hy?” vra Jak.
“Hy het twintig ton klip op sy heupe. Ek het hom twee dosisse morfien gegee, maar dit hou hom nie stil nie.”
“Kan mens in die werkgang inkom?”
“Ja, daar’s ’n plek waar jy kan deurkruip.” Barnard skyn sy lamp oor die hoop gebreekte blou kwartsiet wat die strekgang blokkeer, soos ’n tuinmuur wat omgeval het. Aan die bokant is ’n opening groot genoeg vir ’n foksterriër om deur te hardloop. Ligstrale skyn in die gat, en van die ander kant af kom die skuurgeluide van voete oor los klip en mans se gedempte stemme.
“Hoeveel man het jy wat daar binne werk, Barnard?”
“Ek …” Barnard huiwer. “Ek dink omtrent tien of twaalf.”
Jak СКАЧАТЬ