Jou Romeo. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Jou Romeo - Fanie Viljoen страница 3

Название: Jou Romeo

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Учебная литература

Серия:

isbn: 9780624081227

isbn:

СКАЧАТЬ Veldwerker onder hom.

      Nee, die bal trek oor die veldwerker se kop. Oor die grenslyn.

      Dis ’n ses!

      Die skool gaan mal.

      Die telbord slaan oor: BESOEKERS: 152. TUIS: 153/0.

      Marko kry ’n tevrede glimlag. Dis hoe jy dit doen. Ses. Kyk na die telbord. Hy haal sy helm af en draai na Brink, sy kolfmaat. Brink, wat meer wenkbroue as breins het, pluk ook sy helm af. “Yes, my boytjie-e-e!” skree hy. Sy gesig blink soos ’n kersboom. Vervaard storm hy op Marko af en omhels hom.

      “Oukei, Brink, jy gaan my breek!” roep Marko, want hy verbeel hom hy hoor sy ribbes protesteer.

      “Ag, shut up, jy is ’n yster,” sê Brink en lag.

      Gelukkig los hy vir Marko, anders het daar regtig ’n rib of twee gekraak. Dít het Marko nie nodig nie.

      Triomfantelik lig Marko sy kolf en helm. Brink skree weer ’n oorwinningskreet.

      Dan staan hulle in ’n see van juigende toeskouers. Die gelukwensinge reën soos konfetti op hulle.

      Die vrolikheid dryf oor die hele skoolgrond. Die musiek gaan lê in die leë skoolgange. Die wêreld was nog nooit so reg vir Marko Marais soos vandag nie.

      3

      #PowerCouple

      Die lang skoolgang strek tot doer onder by die matrieks se LW-klas. Rondekop-boompies staan in bruin potte tussen die netjiese sluitkaste met hul silwer slotte. Die krieketwedstryd is verby, maar die skool is steeds ’n miernes van opgewondenheid. Yvette kyk die spul so en dink: Ag, asseblief.

      Versigtig rol sy die pak plakkate in haar hand oop en gee vir Tyler een.

      Hy bestudeer dit aandagtig. Knik dan sy kop. “Cool. Baie professioneel.”

      Tyler is bietjie van ’n perfeksionis, daarom meet hy eers die kennisgewingbord met die oog voordat hy die plakkaat daarteen vasdruk. Die kante parallel met die bord s’n.

      Met bedroefde gesigte sit Kumi, Vera en Beast op ’n houtbankie langs die kennisgewingbord. Hulle oë op die grond. Soos Yvette is hulle steeds moedeloos oor die slegte begrotingsnuus.

      Diep ingedagte gaan staan Yvette met haar rug teen die gangmuur. Sy het nog nie eens haar leotard uitgetrek nie. Hoekom moet sy?

      Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Tyler se skouers sak. Voel hy ook steeds soos sy oor hierdie toneelstuk? Sy vat Tyler aan die arm en draai hom na haar toe. “Ons droom al van graad agt af hieroor. Ek en jy, Romeo and Juliet.”

      Tyler knik. Daar is ’n jammerkry-uitdrukking op sy gesig. Saam kyk hulle weer na die plakkaat, ’n dromerige kyk in hul oë.

      Romeo and Juliet …

      Op daardie oomblik kom Mildred om die hoek gestap. ’n Klomp leerders drom om haar saam. Didi en Lexi met hul pienk uniforms en perfekte hare is ook daar. Mildred, in haar skoolklere met die matriek-speldjie op haar lapel, babbel aaneen vir die kamera wat ’n ander meisie vashou. “Ratser as Jonty, vinniger as Fanie, en sexier as AB. Die talent van ’n duisend sporthelde vasgevang in een jong man.”

      Die spul leerders kom by Yvette en Tyler verbygestroom. Pen hulle vas teen die muur.

      Mildred borrel ongestoord voort: “Die afwesige pa, single ma, peanutbutterbroodjies en ’n onblusbare behoefte om te presteer.”

      Tyler se oë rek. Hy kyk na Yvette langs hom. Sy gee ’n waddehel-kyk terug. Glip dan saam met Tyler weg. Die res van die Dramabrigade probeer ook wegkom. Maar skielik steek Mildred vas. Haar hand skiet uit na Vera. Die gepunte vingers byna by haar neus. “Drie woorde wat jy nog altyd vir Marko Marais wou sê!”

      Vera staan verskrik soos ’n bok wat in ’n kar se ligte gevang is. Sy het duidelik nie die skielike aandag verwag nie. “Um …” is al wat sy uitkry. Beast druk sy hand vinnig oor Kumi se mond voordat hý iets naars kwytraak.

      Die ander kinders lag. Dit lyk of ’n skielike skaamte Vera oorval.

      Mildred lig haar wenkbroue spottend. Sy kyk weer in die kamera. “Nie almal is bestem vir drie sekondes van fame nie … Ons beweeg aan.”

      Yvette rol haar oë. Sy en Tyler beur weg in die teenoorgestelde rigting, maar skielik roep iemand: “Marko!” En daar storm die horde leerders, Mildred en haar dekselse kamera inkluis, weer terug.

      Nou sien Yvette hoekom. Marko en Brink het hulle verskyning aan die onderpunt van die gang gemaak. Hulle stap breëbors in hul krieketklere, skoolbaadjies en -pette nader. Leon, die skool se gelukbringer, stap ewe windmakerig langs hulle, met ’n vreeslike rooi strik op die bors en die lawwe eendekop in sy hand.

      In die loop teken Marko ’n krieketbal soos ’n celebrity. Hy druk die kokipen se doppie terug, gee die blinkrooi bal aan vir Brink. Dié gooi dit onderhands gangaf.

      Yvette en Tyler steek weer vas. Druk hul rûe teen die muur dat Mildred-hulle kan verbykom. Is daar nie iemand wat skarebeheer kan toepas met die spul nie? wonder Yvette suur.

      “Marko-o-o!” roep Mildred skielik hard uit. Sy vee ’n klomp kinders uit haar pad. Marko draai na haar toe. Yvette rol haar oë. Sowat van fladderende wimpers het sy lanklaas gesien. Doen Mildred dit nou vir Marko met sy hemelblou ogies of vir haar gehoor?

      Vir ’n oomblik trek iets Yvette se aandag af. Dis die krieketbal wat Brink gegooi het. Die ding lê reg voor haar voete. Sy buk. Raap dit vinnig op.

      “My gunsteling-sosiale-mediaprojek, kommentaar?” sêvra Mildred, borrelend soos ’n blikkie Coke wat geskud is.

      Marko probeer iets sê van spanwerk, maar Mildred val hom dadelik in die rede: “Ek voorspel ek en jy gaan hierdie jaar trend. #PowerCouple.” Vir ’n oomblik is almal om haar stil asof hulle die prentjie wil laat insink: Marko Marais + Mildred Groenewald = PowerCouple

      In watter wêreld sal dit gebeur? wonder Yvette. “Spongebob SuckPants!” sê sy. Té hard. Skielik kyk almal na haar. Mildred ook. Die skok is duidelik op haar gesig.

      Marko kry ’n stil glimlag.

      “Jy’t jou bal verloor,” sê Yvette vermakerig vir hom. Sekuur flip sy die wedstrydbal oor die ander se koppe.

      Marko vang dit moeiteloos. Beïndruk kyk hy daarna, dan weer na Yvette. Die fronslyntjies op sy voorkop laat hom nogal sexy lyk, maar Yvette sal nie daarvoor val nie. Sy kyk regdeur ouens soos hierdie. “Goeie veldwerk,” sê hy. Sy wenkbroue skiet op toe hy glimlag.

      Yvette gee Marko ’n smalende kyk. Nee, vir sulke ouens val sy beslis nie. Hulle kamtige sjarme laat haar koud.

      Mildred gluur Yvette nog geïrriteerd aan toe Brink skielik hard roep: “Oukei!” Hy klap sy hande. “Laaste een by die party is so lame soos ’n drama-drip!” Die ander kinders lag en bondel agter Marko en Brink in die gang af.

      Yvette skud haar kop. Tyler kyk hulle agterna, sy oë donker van onrus. “Belowe my jy sal …”

      “Nooit. So lank as ek lewe nie,” sê sy asof sy presies weet wat hy bedoel.

СКАЧАТЬ