Oos na die son. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Oos na die son - Ena Murray страница 9

Название: Oos na die son

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624071303

isbn:

СКАЧАТЬ twee mans bly agter en dis professor Islinger wat die ietwat ongemaklike stiltetjie verbreek.

      “Dokter Inaki is beslis ’n verrassing. Wat dink jy van die man, Louw?”

      Louw het nog steeds die frons tussen sy wenkbroue toe hy aarselend antwoord: “Ek … weet nie … Op die oog af is hy beslis die man wat my vrou dink hy is, en wat haar so beïndruk het. Tog … ek sal hom nie te gou vertrou nie. Daar is ’n terughoudendheid in hom, ’n versigtigheid wat my op my hoede stel. Ek mag my verbeel, maar ek het die indruk gekry dat hy nie te ingenome met ons besoek aan sy eiland is nie. Ek wonder hoekom …”

      Professor Islinger antwoord nie, maar hou sy gedagtes vir homself. Is dit miskien dat jy tog kompetisie in hierdie man vir jou sien, my jonge vriend, soos ons kollega ewe katterig opgemerk het? Daardie onpeilbare blou blik het net ’n oomblik te lank op jou blonde vroutjie gerus, nie waar nie? Professor Islinger sug onhoorbaar. Hy sien maar swarigheid vir die volgende paar maande.

      Die gebeure van dié aand versterk sy vermoede. Toe hulle Hangaroa eindelik bereik, het al wat lewe op die eiland, ’n skare van om en by duisend, reeds byeengekom. Toe hulle nader kom aan die goewerneurswoning, sien hulle dat dit ’n buitelugonthaal gaan wees. ’n Tafel en stoele is onder een van die min bome wat ’n mens op die eiland aantref, neergesit.

      Dokter Inaki is in tropiese wit geklee toe hy nader stap om sy gaste te ontvang. Pauli is bly dat sy, ná heroorweging, besluit het om een van die fleurige rokkies wat sy saamgebring het, aan te trek – ten spyte daarvan dat dit beslis aandag sal trek, veral ná die ligte woordeskermutseling die middag tussen haar en Zelia.

      Niemand het egter iets gesê toe sy verskyn het nie, hoewel Zelia se wenkbroue net liggies opgetrek het. Pauli het haar man se fronsende blik koel en uit die hoogte ontmoet. Laat hom dink wat hy wil! Sy is nie werklik een van die ekspedisie nie, en hoef dus nie soos ’n geleerde wetenskaplike te lyk nie. Die ander drie is in die besadigde kakieklere geklee wat hulle gewoonlik vir ekspedisies gebruik. As sy te anders lyk as die res, kan dit haar nie skeel nie.

      Sy is bly dat sý ten minste moeite gedoen het om redelik beskaaf te lyk toe sy hul gasheer gewaar. In die vleklose wit vertoon hy nog meer misterieus en aantreklik as in die ryklere wat hy die middag gedra het. Sy kan aan die ander drie se gesigte sien dat ook hulle beïndruk is deur hul gasheer se voorkoms.

      Professor Islinger maak dan ook dadelik verskoning toe die goewerneur hulle bereik. “Ek moet verskoning maak, dokter Inaki. Ons … het nie juis klere saamgebring vir … e … sosiale verkeer nie.”

      Weer, soos vanmiddag, maak die goewerneur sy outydse buiginkie en laat gerusstellend hoor: “Dis alles reg, professor. Kom gerus nader.”

      Hy buig ook afsonderlik vir die res van die geselskap en weer is dit of die blou blik net ’n fraksie langer op die mooi, blonde vrou, so fleurig en aantreklik in haar blomrok, rus.

      Zelia en Louw se kopknikkies is maar styf, en juis daarom is Pauli se glimlag besonder stralend. Sy vererg haar sommer vir die ander twee. Wat makeer hulle om so styf teenoor hul gasheer op te tree? Hul afsydige houding grens byna aan onbeskoftheid.

      Ook dokter Inaki het dit blykbaar opgemerk, want daar is ’n vlugtige frons tussen sy wenkbroue, wat byna dadelik weer verdwyn toe hy Pauli se breë glimlag sien. Hy ontspan opmerklik en lei sy gaste na die wagtende stoele.

      ’n Polinesiese feesdis is op die tafel voor hulle oopgesprei. Hoender-, bees- en skaapvleis wat, soos sy later sou leer, op eg Paaseiland-manier tussen gloeiende warm klippe sappig gaargemaak is, laat hul monde water. Hulle besef meteens dat hulle met die aflaaiery vandag nog nie ’n behoorlike maaltyd genuttig het nie en dat hulle skreeuend honger is. Daar is ook gebakte patats, een van die hoofgeregte van die eiland, asook piesangs. ’n Groot glasbeker staan eenkant waaruit hul gasheer vir elkeen ’n glas vol aanbied – heerlike pynappelsap, wat verkry is van die klein pynappelsoort wat ook op die eiland gekweek word en wat in groot mate die plek van drinkwater inneem, soos dokter Inaki algaande verduidelik.

      Paaseiland se drink- en gebruikswater is totaal afhanklik van die reënval, want daar is geen boorgate, varswaterfonteine of enigiets van daardie aard op die eiland nie. Daarom moet daar skraps gewerk word met die varswatervoorraad wat in opgaartenks, meestal ondergronds, opgevang word.

      Ongemerk het die res van die eilandbewoners voor hulle op ’n oop kol vergader en eerlank, toe die son in al sy glorie agter Roapunt verdwyn, begin die misterieuse en melankoliese klanke, so eie aan die Polinesiese melodieë, in die aandstilte opklink.

      Nog ’n klein rukkie, en dis net die vure wat ’n rooi sirkel in die donker nag trek en dan kom die dansers te voorskyn om met hul ritmiese arm- en heupbewegings die byna sprokiesagtige toneel nog verder van die werklikheid te voer. Die eerste keer voel Pauli hoe ’n opgewondenheid van haar besit neem.

      Tot dusver het sy geen belangstelling in hierdie ekspedisie of in die eiland gehad nie. Nou, met die dansende figure al krullende teen die vuurgloed voor haar, die klaende note van die Polinesiese lied swaar dralend in die stilte om hulle, besef sy eers werklik watter grootse ervaring sy so teësinnig meemaak. Sy kan haar kwalik op hierdie oomblik voorstel dat sy duisende kilometer ver van Suid-Afrika sit, in die hart van die Stille Oseaan, op die nawel van die aardbol, en dat sy hierdie vreemde toneel voor haar werklik met haar eie oë gadeslaan.

      Sy is totaal onbewus daarvan dat daar minstens een blik is wat nie gefassineer op die swaaiende gestaltes voor hulle rus nie, maar op haar gesig, die oë effens nougetrek, terwyl hy elke ekstatiese gesigsuitdrukking van haar met tevredenheid beskou.

      “Hou u daarvan, mevrou?”

      Pauli sukkel om haar blik weg te skeur en na haar gasheer op te kyk.

      “O, dis … onbeskryflik! Wat sing hulle?”

      “Dis die eiland se tradisionele lied, of, soos die groter wêreld dit sal noem, die volkslied. Hulle sing van Hotu Matua, hul aartsvader, en hoe hy eeue gelede van ’n ver land gekom het en op hierdie eiland uitgespoel is en toe ’n eie beskawing begin het.”

      ’n Oomblik later verskoon hy en professor Islinger hulself en gaan die huis binne om die formaliteite af te handel, terwyl die ander drie agterbly om na die dansers te kyk en na die lied te luister. “O hoi! Te kere te vake te Hotu Matua!” kom dit uit baie kele.

      Meteens begin die ritme verander, raak vinniger, hoewel die dralende noot nog hoorbaar bly. En dan staan die dansers soos standbeelde verstom. Toe begin hulle stadig na agter wyk, uit die ligkring van die vure. ’n Oomblik lank wonder die gaste wat aangaan … en dan sien hulle haar …

      Soos ’n nimf uit ’n vreemde, onaardse wêreld verskyn sy in die ligkring, haar bewegings soepel, die rooi gloed spelend oor haar volmaakte liggaam, die rooi hare soos lewende rooi drade in die vuurgloed. Dan skeur die tromme se diep, misterieuse slae weer deur die aandstilte terwyl die beeldskone vrou haar arms soos kronkelende slange omhoog bring.

      Die drie gaste sit verslae en kyk na die kronkelende liggaam voor hulle, na die donker blik wat onafgebroke op Louw vasgenael is … en dis of daar meteens iets sinisters in die atmosfeer ingesluip het.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив СКАЧАТЬ