Название: Louisa du Toit Omnibus 8
Автор: Louisa du Toit
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624068259
isbn:
Daar is ook ’n soort selfverwyt omdat sy nie vir Christiaan Hartogh kan help dra aan dit wat sy hom pas aangedoen het nie. Sy gewaar ’n versaktheid in sy andersins ferm skouerlyn. Hy is ’n man van sowat dertig, en een wat daarvan hou om intens te leef. Daar word heelwat agteraf gesinspeel dat die van Hartogh so na aan “hartstog” lê. Sy kan maar net raai dat die lewe so iemand ook al ’n paar taai klappe moes gegee het.
Om by haar skoonouers te kom, lê altyd soos ’n berg voor Berna. Dat die kleintjies ook nie danig opgetoë is nie, bied weinig troos. Aan haar eie ma het hulle ook nie veel nie. Dié het haar ’n klompie jare gelede in ’n dwase tweede huwelik begewe. Om in hierdie situasie te oorleef, het sy al haar kragte nodig en bly daar vir haar dogter weinig aandag oor, vir die kleinkinders net mooi niks.
Dan het sy ook nooit ’n geheim daarvan gemaak dat Ronald Joubert nie haar goedkeuring weggedra het nie. “’n Regte mamma-se-seuntjie”, was haar oordeel kort en klaar. En al het sy sedertdien self ’n groter keusefout begaan, val eie foute vir haar skynbaar in ’n meer onstrafbare kategorie as dié van kinders, veral as dit ’n enigste kind is.
Haar skoonmense het ’n mooi plek, dit moet Berna toegee. Julia Joubert het ’n hand vir tuinmaak, soos vir honde en katte. Menigmaal het Berna al gedink, nie sonder ’n tikkie wrewel nie: plante en diere vra nie vrae nie, kan nie terugpraat nie, vergewe alles. Met mense het jy meer kundigheid nodig, en moet jy meer druk uitoefen om jou wil te laat geld. Ron Joubert het onlangs afgetree na ’n halwe leeftyd in die mynwese, waar hy ’n hoog genoeg pos beklee het om meer as goedversorg verder te kan lewe.
Terwyl hy hiervoor geswoeg het, het Julia vir sosiale status geswoeg. Daar is geen ding waarop sy nie dien en geen prestigefunksie wat sy nie bywoon nie, maar die bittere ironie is dat die stoele aan weerskante van haar meestal leeg bly totdat daar geen ander sitplek meer vir die laatkommers beskikbaar is nie.
Niemand soek haar op nie, nie eens haar man nie, al deel hulle dieselfde huis. Haar twee dogters wat elders woon, kritiseer haar doen en late van ’n kant af. Dis slegs teenoor ’n buitestander soos Berna dat hulle die geledere sluit. Vir dit alles vergoed Julia ruimskoots deur haar met die allerbeste aandag en selfprysinge te vertroetel. Sy kan tog so heerlik speel met haar persoon asof die hele wêreld ’n kleuter is en sy die enigste speelding.
“Ek het vir Ron gesê ek is seker jy kom vandag,” sê Julia toe Berna met die tweeling aankom by die skuifdeur wat op die patio uitkyk. Julia staan in die deur soos ’n vorstin wat oudiënsie verleen. Ten spyte van haar intense strewe na sosiale aansien, kon sy nooit die slag aanleer om treffend aan te trek nie, een van die dinge wat haar dogters haar knaend voor die kop gooi. Vandag lyk sy soos ’n oorgroeide tiener met klere wat te styf om haar vol postuur span. Haar hare is ’n wortelkleur.
Dat Berna gekleed is in ’n bedeesde maar elegante bloes en romp, en dat haar hare hulle eie natuurlike kleur het, beëindig skynbaar dadelik die sukses van die besoek. “Jy moet jou hare ook ’n bietjie opvrolik, Berna,” sê Julia. “Die lewe is vaal genoeg, dat ’n vrou nie nog vaal hoef te lyk ook nie. Middag, Julia-se-ou-bondeltjies-pragtigheid!” Hoewel Julia hierdie geykte troeteltaal in die meervoud gebruik, is dit vir Ronnie wat sy optel. Berna lig dadelik vir Mientjie op haar eie heup en gee haar ’n drukkie.
“Jy moenie vir Hermina so voortrek nie,” sê Julia, “’n kind is baie gevoelig daarvoor.”
“Jy trek dan vir Ronnie so voor,” sê Berna doodkalm. Nie dat sy hoop om hiermee agter Julia se skanse in te kom nie, want dié is ondeurdringbaar. Julia het net ’n mond, nie ’n oor nie. Geen dialoog vir haar nie. Berna loop agter haar skoonma die huis binne. “Waar sit jy, Julia, dan kom ek ook daar sit.” Sy het haar vroeg daarmee versoen om Ronald se ouers op die naam te noem, aangesien ’n ysige stilte haar eerste poging tot “tannie” begroet het. En “mevrou” kon sy tog nie aanhou sê nie. So het “Pa” en “Ma” nooit aan die beurt gekom nie.
“Sit? Ek sit?” Julia lag vergewend. “Die dag as jy my sien sit, moet jy weet ek is nie meer Julia Joubert nie.” Sy spreek dit “Djoelia Djoebêr” uit. Dit was ’n groot en dankbare meevaller toe die lewe vir Julia hierdie welluidend rymende getroude naam geskenk het. Berna skaam haar nie eens meer vir hierdie soort gedagte nie, want dis dikwels haar enigste verweer.
“Nee, ek is mos aan ’t reël vir die baie groot welwillendheidstee vir gades van erelede van die …”
Berna skakel innerlik gerieflik af terwyl dit tog lyk of sy luister, een van die oorlewingskunsies wat sy in die sakewêreld aangeleer het.
“Waar is Ron?” vra sy toe sy dit gepas ag. Vra sy te gou, kan Julia, doodjaloers op haar man, dink dat Berna reddeloos verlief op haar skoonpa is. Wag sy te lank, dink Julia dat Berna skandelik ondankbaar is oor “alles wat ek en Ron vir haar en die kinders doen”. Die “alles” sluit dan die geldnootjie in wat elke kind met elke kuier ontvang, en ’n geheimsinnige verwysing na Ron se testament. Berna sal nie verbaas wees as laasgenoemde neerkom op sowat vyf persent vir elke kleinkind nie, betaalbaar op vyf en twintig, en met die uitdruklike bepaling dat Berna of ’n volgende eggenoot nie die hande daarop mag lê nie.
“Ron?” eggo Julia, en haar gegrimeerde oë dans onrustig rond sonder om iewers te vestig. ’n Ontwykende blik. “Seker maar hier iewers rond, hy is nogal bedagsaam as dit by my vol program kom.” Wat stellig beteken dat Ron kaal blaarslaai en sardiens op roosterbrood vir middagete gehad het. In hierdie huis het Berna geleer dat alles wat blink, nie goud is nie.
Ron kom egter tydens die hele besoek nie te voorskyn nie. ’n Vermoede wat Berna lankal koester, du sterker na vore. Sy het Ron een keer met ’n vreemde vrou by ’n voetoorgang sien wag, sy hand onder haar elmboog. Sy was in spitsverkeer en kon nie deeglik kyk nie, het aldus die man net skuinsweg gesien. Maar die hele wese was dié van Ron Joubert.
Toe sy dit durf noem het teenoor Annalien, die enigste een met wie sy met hierdie vertroulike tipe inligting gedeel het, het Annalien net geglimlag. “Ja, jong, van mans en hulle skelmpies weet ek ook.” Annalien se man was een wat letterlik Annalien se beursie leeggemaak het voor hy vir goed na sy skelmpie toe is.
“En hoe gaan dit met die twee kinders by daardie oppasvrou?” As Julia uitvra, is dit nie op die verkryging van inligting gemik nie, maar op suspisie en aanklag. Berna weet al hoe om dit te systap, maar vanmiddag speel sy oop kaarte: “Hulle is nie meer by haar nie, Julia. Ek het hulle weggevat.”
Julia, wat bly moet wees omdat al haar profesieë teen hierdie dagmoeder en die buurt waar sy woon waar geword het, kyk geskok op. “En nou? Aan die verwaarlosing oorgelaat? Ek het jou lankal gesê ek sal hulle by my vat. Dit hoort so. Ronald was my enigste seun, ek is dit aan sy nagedagtenis verskuldig.” Dat Ron Senior ’n aandeel in sy seun se ontstaan en bestaan gehad het, blyk nie spesifiek nie.
“Hulle is nie aan die verwaarlosing oorgelaat nie, Julia. Ek het my werk bedank. Ek gaan weg, platteland toe. Ek het daar vir my werk gekry.” Noudat Berna dit wat blote voorneme was so in woorde stel, word dit ’n vaste besluit.
Julia se geskoktheid ken geen perke nie. Haar hand vol vroeë ouderdomsvlekke (dit kan sy nie doeltreffend weggrimeer nie) klem om die goue hangertjie wat die te diep V van die styfpassende bloes versier. ’n Cleavage is een ding, ’n spillage is iets anders, sê Annalien altyd, en van Julia se verslappende boesem is dit waar. By snykunde sal sy nie uitkom nie, doodgewoon omdat sy reken sy is perfek.
СКАЧАТЬ