Orion. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Orion - Deon Meyer страница 13

Название: Orion

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157438

isbn:

СКАЧАТЬ ek kan doen? Iemand wat ek kan bel?”

      “Nee. Net ek.”

      “Hoe lank sal dit neem?”

      “’n Week. Tien dae.”

      “Ek het nie so lank nie.”

      “Meneer, dit neem gewoonlik ses tot agt weke …”

      “Ek het gehoor. Daar onder.”

      Dan sug die man diep. “Dit sal help as julle ’n hofbevel kan kry. Of ’n geregtelike versoek.”

      “Hoe lank neem dit dan?”

      “’n Dag. Selfs minder. Pretoria neem hofbevele baie ernstig op.”

      “O.”

      Die man sug diep. “Gee my solank die besonderhede. Ek sal kyk wat ek kan doen.”

      Hoop is nie op kantoor nie.

      “Sy het ’n sake-ete,” sê die vrou by ontvangs.

      “Waar?” vra hy.

      “Ek dink nie sy wil gesteur wees nie, meneer.”

      Hy kyk na die keurig versorgde middeljarige vrou. “Ek is Van Heerden.”

      Geen reaksie nie.

      “As sy terugkom, sê vir haar ek was hier. Sê vir haar ek het haar dringend gesoek in verband met die Smit-saak, waarvoor ons nog net ses dae oor het, maar jy wou nie sê waar sy is nie. Sê vir haar ek is met middagete en ek weet nie wanneer ek sal terug wees nie, maar as haar personeel nie die Smit-saak as belangrik beskou nie, dan aanvaar ek ook dit is nie belangrik nie.”

      Die vrou trek stadig, afgemete ’n dagboek nader. “Sy is in die Long Street Café.”

      Hy stap uit. Dit reën. Hy vloek sag. Daar gaan nie parkering wees in Langstraat nie. Hy sal die een of ander tyd ’n sambreel moet koop.

      “Table for one?” vra die vrou as hy instap.

      “Nee,” sê hy en soek met sy oë na Hoop. Praat niemand meer Afrikaans nie? Hy sien haar sit, agter teen die muur. Hy stap in, die water op sy skoene wat ’n spoor op die vloer laat. Sy sit saam met ’n ander vrou, albei vooroor geleun, koppe bymekaar, in druk gesprek. Hy gaan staan langs die tafel.

      “Hoop.”

      Sy kyk op, gesteurd, haar oë wat effens rek. “Van Heerden?”

      “Ons moet ’n hofbevel kry.”

      “Ek …” sê sy. “Jy …” Sy kyk na die vrou oorkant haar. Van Heerden kyk ook na haar. Sy is beeldskoon. “Dit is Kara-An Rousseau. Sy is ’n kliënt.”

      “Hallo,” sê die vrou en steek ’n slanke hand na hom toe uit.

      “Van Heerden,” sê hy en neem haar hand, maar wend hom tot Hoop.

      “Jy sal moet kom. Ek het inligting van Binnelandse Sake nodig en dit neem ses tot agt weke …”

      Sy kyk vir hom en hy sien die sekelmaan herrys, dof en stadig.

      “Net ’n oomblik, Kara-An,” sê Hoop en staan op. Sy stap na die deur, uit, tot op die sypaadjie. Hy stap agterna, die humeur wat in hom opstyg soos ’n lighoofdigheid.

      “Wie het vir jou gesê ek is hier?”

      “Wat maak dit saak?”

      “Weet jy wie Kara-An Rousseau is?”

      “Ek gee nie om wie sy is nie. Ek het ses dae oor om jou kliënt se gat te red.”

      “Sy is hoof van Nasionale Pers se Korporatiewe Maatskaplike Betrokkenheid. En ek gaan nie toelaat dat jy so met my praat nie.”

      “Jy sien al hoe Nasionale Pers se rande instroom, Hoop. Onthou jy iemand met die naam Wilna van As?”

      “Jy gaan nie insinueer dat ek die een belangriker as die ander ag nie. Wilna van As is nie my enigste kliënt nie.” Die sekelmaan is nou in volle glorie.

      “Sy is mý enigste kliënt.”

      “Nee, Van Heerden. Ék is jou enigste kliënt. En ek is nie nou ’n vreeslik gelukkige kliënt nie.”

      Hy kan nie meer keer nie. “Jy is niks van my nie.” Hy draai om en stap in die reën van Langstraat in. Hy steek in die middel van die straat vas en draai om. “Kry iemand anders om rond te fok.”

      Dan ’n nagedagte: “En watse fokken naam is Kara-An?”

      Hy loop die twee blokke na sy motor toe, onbewus van die reën.

      Hy smyt die nat klere in die hoek van die badkamer en stap kaal slaapkamer toe. Hy maak die klerekas oop en soek ergerlik na ’n denim, hemp en trui. Hy het dit nie nodig nie, dink hy weer. Hy vrek liewer van die honger. Hy gaan nie rondgefok word nie. Nie deur haar nie, nie deur Kemp nie, nie deur vyf vet tandartse nie. Hy het dit nie nodig nie.

      Wie gee om as daar vir niks geld is nie?

      Wie gee om vir enigiets? Niemand. Ook nie hý nie. Hy is vry. Vry. Los van dit wat ander mense bind – die gejaag na niks, die versameling van statussimbole, die leë, nuttelose, voorstedelike bestaan. Bowenal is hy vry van die verraad, klein en groot. Die gelieg en bedrieg, die rugstekery, die wantroue, die speletjies.

      Fok haar.

      Hy sal netnou na haar kantoor toe ry en die restant van die voorskot op haar fokken netjiese ontvangsdame se fokken netjiese lessenaar gaan neergooi en sê sy moet vir Hoop sê hy het dit nie nodig nie. Want hy is vry.

      Hy ryg die seilskoene vas en staan op. Sy huis is donker, somber in die vroeë middag. Koud. Sy huis is koud in die winter. Eendag ’n verwarmer koop. Kaggel laat inbou. Stap deur die te klein sitkamer.

      Hy maak die voordeur oop. Hy gaan ’n dop in Table View kry.

      Fok haar.

      Net soos hulle is. Die een dag is Wilna van As die belangrikste ding in die wêreld, want daar is net sewe dae oor en, o, ons moet die arme vrou help, want sy het haar afgesloof vir ’n man (asof sy nie ’n keuse gehad het nie) en die volgende dag is dit Karin Setzkorn-Barnard of wie de fok ook al, hoof van Nasionale Pers se Korporatiewe Kakpraat of wat de fok ook al, en Hoop Beneke sien net rande rol. Net soos hulle is. Almal van hulle. 24-uur-lojaliteit.

      Hy maak die deur toe.

      Maar nie hy nie. Hy is vry.

      Binne lui die telefoon.

      Fok dit.

      Prokureurs. Bloedsuiers. Parasiete.

      Die telefoon lui.

      Hy steek vas.

      Seker Hoop. Ek is jammer, Van Heerden, kom terug, Van Heerden, ek is ’n armsalige sot, Van Heerden.

СКАЧАТЬ