Karoonag. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Karoonag - Deon Meyer страница 7

Название: Karoonag

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157483

isbn:

СКАЧАТЬ kampie, staan die vark. Met die eerste oogopslag ’n lelike dierasie, duidelik ’n uitlander, g’n selfrespekterende boerevark sal só lyk nie: lang swart wimpers, gekreukelde snoet wat in ’n boheemse vorm eindig en ’n lyf wat so effens aan ’n boelterriër herinner. En dan besef jy die ding is eintlik mooi van lelikgeit, soos tannie Liefie van Humansdorp destyds sou gesê het.

      Die Gautengers is nog almal sterk op pad en ons ry aan, in Okkie se klofie op, oor die rug, Skuinskop se kant toe. Dis tipiese Bo-Karoolandskap, klowe en rûens, koppe en riviertjies, altyd interessant, dikwels skouspelagtig. Oor Bultfontein, Gansfontein, Slangfontein, Ramfontein, Lakenvlei (wie’t gesê hier’s nie water nie?) tot by Erasmuskraal, waar ons die Bokpoortpad terug Loxton toe vat vir petrol.

      By die koöperasie se pompe loop ons vir oom Joe van Wyk raak, wat dadelik sê ons moet kom koffie drink. Dis ’n uitnodiging wat jy nie van die hand wys nie, want oom Joe kan gesels, om nie eens van tant Annetjie se koffie en beskuit te praat nie.

      En toe ons en die hele kaboedel Gautengers elkeen met ’n koppie en ’n bordjie in die groot sitkamer tot ruste gekom het, vra ek of hy dalk weet watse vark dit is wat daar by Okkie Wiehahn uithang en oom Joe sê hy dink dis ’n Sjinese model. Wat hom toe dadelik herinner aan die ander storie:

      In die dae voor hy die boerdery aan Johannes oorgegee en hulle dorp toe getrek het, is daar een aand ’n klop aan die voordeur van Rietpoort se opstal. Toe oom Joe oopmaak, staan drie Sjinese op die stoep – sjarmante pa, mooie ma en die oulikste ou kindjie wat ’n mens jou kan indink: groot donker oë, pragtige, steil swart haartjies en ’n glimlag wat lyk soos die sonsopkoms oor Rooikop se berg.

      So in gebroke Ingels (die Sjinese s’n, natuurlik) word daar verduidelik van ’n pap wiel op die Fraserburg-pad en nadat die gaste binnegenooi is vir innerlike versterkings, het oom Joe gaan hand bysit om hulle weer mobiel te kry. Met die groetslag is dit die ene Oosterse hoflikheid en dankbaarheid en hy ry terug huis toe, diep onder die indruk van die toeval wat mense uit alle oorde bymekaar bring.

      Die volgende dag hoor oom Joe die res van die storie. Vroegoggend klok die uitheemse gesinnetjie by een van Loxton se winkels in en vra of die mense dan tog nie kan help met kleingeld vir ’n R200-noot nie. Die winkelier is dadelik bereid, maar omdat die dorp nie noodwendig die besigste metropool in die land is nie, hou sy so vir die interessantheid ’n oog op die Sjinese wanneer hulle straataf ry. En sien die motor hou by die volgende kafee stil.

      Met dié bekyk sy die R200-noot van nader en sien dis nie heeltemal soos ons geld moet lyk nie. Toe bel sy die kafee, waar die Sjinese pa al weer aan die uitkom is. “Wou hulle kleingeld vir R200 hê?” vra sy die kafee-eienaar.

      “Ja,” kom die antwoord.

      Toe weet sy daar’s ’n slang in die gras en dis nie ’n tuinslang nie. Sy bel vir Frikkie by die poliesstasie en sê sy dink hier’s fout en Frikkie en sy span gryp die vên en hulle kom. Toe die Sjinese die lang arm se vuurwa gewaar, sit hulle voet in die hoek, Carnarvon toe. Dit raak ’n wilde jaagtog oor die vlaktes, met Frikkie wat op die radio klim en sê hulle moet keer voor, want hier’s vandag groot pêre.

      Om ’n lang storie kort te maak: ’n Mens weet nie of dit die woema in die SAPD-vên of net die gereg se intieme kennis van die plaaslike paaie was nie, maar hulle keer toe die verdagtes net duskant die Gansvleirivier aan – en in die sedan se kattebak is genoeg vervalste geld om ’n groot Karooplaas mee te koop.

      Wat toe van die Sjinese geword het, weet oom Joe nie. Gerugte wil dit hê dat hulle vir ’n sindikaat gewerk het en dat die man in die tjoekie sit en die ma en die oulike ou kindjie teruggepos is Beijing toe.

      Maar die punt van die hele storie is dat as dit nie vir Okkie Wiehahn se vark was nie, ons nooit dié juweel uit oom Joe se welsprekende mond sou gehoor het nie. O, en natuurlik die feit dat die Karoo se bekoring eintlik in die mense en hul stories lê. En in die kos. En in die landskap …

      DIE PERFEKTE MOORD

      Die twee dokumente lê langs mekaar op speurder-kaptein Bennie Griessel se lessenaar – die oorspronklike bekentenis, in Forensies se deursigtige plastiek, en die een wat hy nou moet bestudeer, die fotostaatkopie. Hy steek ’n sigaret aan, kyk daarna.

      Ses bladsye wit Sappi-A4-papier. Vasgekram in die boonste, linkerkantste hoek. Netjiese rye letters en woorde en sinne, volgens die rekenaarkenner by die laboratorium, in Times New Roman 12-punt, waarskynlik gedruk op die oorledene se HP-LaserJet 1020, bes moontlik geskep in Microsoft Word.

      Heil die leser, sê die aanhef. Die formele blymoedigheid daarvan irriteer Griessel vaagweg.

      Hy weet wat in die eerste paragraaf staan – dit het hy haastig op die toneel gelees voor hy gefluit het en dit versigtig in die bewysstuksak geplaas het.

      Hy trek aan die sigaret en lees.

      My naam is Quartus Lombaard. Ek het moord gepleeg.

      Net dit, in die eerste paragraaf.

      Dit is moeilik om te sê presies wanneer ek besluit het om my vrou dood te maak – nog moeiliker om te verduidelik waarom. Daar was sekerlik kranksinnigheid aan my kant. Nie die soort met wilde oë en skuim om die mond nie, maar die ander een, stil en stadig sluipend.

      “Stadig sluipend.” Griessel sug. Melodrama op ’n Maandagmiddag, met die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares. Vier-en-dertig dae sonder alkohol.

      Die smagting na risiko was groot, dit moet ek beken. Die afhanklikheid aan adrenalien, aan die berekende bang, die fyn vrees van die buik wanneer jy na aan die afgrond beweeg. Ek het dit geken. Ek is Quartus Lombaard …

      “Berekende bang”. “Fyn vrees”. Wat noem hulle dit? As jy woorde so met dieselfde letters of klanke begin? Hy kan nie dadelik onthou nie, maar Griessel se irritasie groei. ’n Ryke wat selfmoord pleeg. Omdat hy sy vrou vermoor het. En dan ’n vreeslik literêre bekentenis nalaat. Hy was in Quartus Lombaard se huis, met die uitsig oor die see, die skilderye, die moerse TV, sportmotors.

      Hoe gooi jy dit alles net so weg?

      Omdat jy ’n doos is. Kan nie anders nie.

      Ek is Quartus Lombaard, wat eers Prime Technologies en drie jaar later DigiCard van hart-in-die-keel kleinsake met karige kontantvloei opgebou het tot sappige appels wat vir ’n totale bedrag van drie-en-twintig miljoen rand verkoop is. En floreer het op die druk en stres, die vinnig praat, vinnig groei, vinnig leef.

      En toe genoeg gehad het, terwyl Louwna haar verdomde kantoorbeplanningsmaatskappytjie aanhou bestuur het met soveel geesdrif en toewyding, asof dit al is wat sy met haar lewe wou doen.

      Afguns. Sy was so ooglopend gelukkig en tevrede. Elke oggend, sonder uitsondering, het sy om 06:00 opgestaan en gewas en aangetrek en met ’n lied in die hart en ’n glimlag gegroet en gaan werk. En ek het alleen in die huis agtergebly met net die vae reuk van haar parfuum wat stadigaan verdwyn.

      Haar genot in die sinnelose roetine. Maandag en Dinsdag in die Kaap, Woensdagoggende Johannesburg toe. Donderdagmiddae terug, Vrydag ’n speeldag, inkopies, tee met vriendinne, ’n kunsfliek . .

      Afguns het verander in irritasie, irritasie het oorgegaan, iewers, in sterk afkeer, wat stadigaan haat geword het. Verpesting. Aangeblaas deur die lugleegte van verveling en die afwesigheid van opwinding.

      Laat ek nie rasionaliseer nie. Laat ek volstaan by my teorie van waansin – dit is die eenvoudigste. Laat ek beken – ek het by my lessenaar gesit met ’n oefeningboek СКАЧАТЬ