Название: Die dae van ons nietigheid
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624069669
isbn:
“Nie kans sien om met ons verhouding voort te gaan nie?”
“Ja. Ek wil ’n mens, ’n dokter in eie reg wees – nie net ’n tweede opinie nie.”
Sy kyk eindelik weg. “Ek verstaan.”
Hy kyk ook weg. “Ek dink nie so nie, maar ons laat dit daar. ’n Lykskouing sal ons nêrens bring nie.”
Toe hulle mekaar die volgende dag, elkeen in ’n doktersjas geklee, in die hospitaal raakloop, is albei se oë versluier en koel. In die loop van die daaropvolgende maande sou dokter Willem Claassen dit liewer waag om van sy seniors te verskil, as om dokter Lizl Landman se diagnose in twyfel te trek. Tot op ’n dag dat dokter Lizl, soos sy alombekend staan, bewys dat sy ook menslike feilbaarheid in haar omdra en dat selfs ’n genie, soos dokter Willem haar noem, kan fouteer. Sy maak ’n verkeerde diagnose en die pasiënt verloor amper haar lewe.
Ironies genoeg is dit juis Willem wat ná haar aan diens kom en onmiddellik besef dat iets ernstigs verkeerd is en dat die pasiënt gaan sterf. Dis bloot net deur sy blitsige optrede dat Lizl Landman nie daardie nag haar eerste pasiënt as gevolg van nalatigheid aan die dood afgee nie. Of dalk is nalatigheid ’n te kras woord om in hierdie geval te gebruik. Miskien is oorversekerdheid ’n beter keuse.
Die skok wat hierdie voorval egter vir haar inhou, laat amper ’n blywende letsel op haar latere loopbaan. Juis omdat sy nog nooit uit die kol was nie, is dit vir haar ’n verskriklike gedagte dat sy wel gefouteer het en daardeur amper ’n mens laat sterf het.
Sy staan bleek en hewig ontsteld voor Willem. “Jy het ook gister die pasiënt ondersoek, Willem. Wat was jou diagnose? Het dit verskil van myne?”
“Ja.” Hy kon nie anders as om dit te erken nie. Hy het van haar verskil, maar hy het al tevore ook van haar verskil en uiteindelik was dit tog altyd sy wat gelyk gehad het.
“Hoekom het jy niks gesê nie?”
“Jy het nie gevra nie.”
“En as ek gevra het?” Hy bly stil en die ontsteltenis klim al hoër in haar op. “Besef jy deur stil te bly, het jy amper van my ’n moordenaar gemaak?”
Hy kyk haar vinnig aan, frons hewig. Sy oorreageer. “Nou is jy belaglik. Daar was nog nooit ’n dokter, en daar sal nooit een wees, wat nooit in sy lewe ’n verkeerde diagnose maak nie. Dan moet jy alle dokters moordenaars noem. Ruk jou reg, Lizl! Jy ruk hierdie ding heeltemal uit verband. Ons bly mense, hoe briljant ons ook al mag wees.” Hy het nie bedoel om so streng te praat nie; ook nie om miskien selfs ligweg sarkasties te klink nie. Maar hy is meer ontsteld oor Lizl se reaksie as wat hy op hierdie oomblik self besef. Een van die gevaarlikste dinge wat met ’n dokter kan gebeur, is om selfvertroue te verloor. Dan word hy of sy beslis ’n potensiële moordenaar. Om die altyd so beheerste Lizl só te sien is ontstellend.
Dat hierdie ding veel dieper gaan as wat hy aanvanklik vermoed het, word die volgende dag bewys toe hy aan diens kom en Lizl hom inwag.
“Ek wil asseblief jou opinie oor hierdie pasiënt hê, dokter,” sê sy en stap om die afskorting.
Hy volg fronsend, kyk ná ’n rukkie op, sy oë skerp. “Ek dink nie jy het ’n probleem met hierdie geval nie, dokter. Ek kan nie verstaan hoekom jy nog nie met die aangewese behandeling begin het nie.”
Sy volg hom vinnig toe hy begin aanstap. “Dokter … Willem, asseblief … ”
“Ja, dokter Landman?”
Haar oë pleit. “Ek wou net seker maak dat my diagnose … ”
“Beteken dit dat jy van nou af elke keer aan jou eie oordeel gaan twyfel, selfs as jy ’n verkoue moet diagnoseer, dokter? Of is jy met ’n ander speletjie besig?”
“Speletjie?”
“Ja.” Sy stem en oë is beslis kil. “As dít jou manier is om my jou meerdere te laat voel, kan ek jou nou al sê dit gaan nie slaag nie. Jy hoef nie tot sulke uiterstes te gaan nie. Ek het betyds gekeer dat ek nie heeltemal deur jou opgeslurp word nie.”
Hy sien die skok in haar oë – en die seer – voordat sy dit kan verbloem, maar sy gesig versag nie.
Maar ’n paar dae later, toe dieselfde soort ding weer opduik, besef hy Lizl se selfvertroue het ’n geweldige knou weg. Dit kan maklik hand uitruk en in ’n sielkundige probleem ontaard. ’n Uitstekende dokter sal vir die mediese wêreld verlore gaan as hy nie nou wal gooi nie.
Hy roep haar eenkant toe hy van die pasiënt af wegdraai.
“Wat gaan met jou aan? Hierdie pasiënt moes al in die operasiesaal gewees het!”
“Ek weet, maar … ”
“Maar wat?”
“Ek wou net eers jou opinie hoor. Asseblief, Willem, moenie weer kwaad word nie. Dis geen speletjie nie.” Toe hy in haar oë kyk, besef hy dis die waarheid. Lizl is nie met ’n speletjie besig nie. Hierdie vrou voor hom ís so onseker van haarself as kan kom! “As jy my net sal belowe … ”
“Wat belowe?”
“Dat jy asseblief in die toekoms met my sal stry as jy nie met my saamstem nie! Asseblief, Willem!”
Hy glimlag, sy oë skielik sag. “Ek belowe jou plegtig, dokter Landman, van nou af gaan ons soos kat en hond baklei.”
2
In die maande wat volg, is dit presies wat gebeur. Willem en Lizl baklei soos kat en hond – hoe later hoe kwater.
Wat Lizl nie besef nie, is dat sy nou ’n langtermynpasiënt van dokter Willem Claassen is. Hy het daardie dag onmiddellik besef dat wantroue in haarself, in haar gesonde oordeel, in haar kennis en opleiding, ’n uitstekende dokter stadig maar seker laat verbrokkel. Dit kon hy nie toelaat nie. Dit mag nie met Lizl Landman gebeur nie. Daar was net een soort behandeling wat sou help, wat haar weer vertroue in haarself sou gee: om haar deur en deur reg te bewys.
En daar was net een manier om dit reg te kry: om van haar te verskil. Die jong dokter Willem bevind hom in ’n onbenydenswaardige posisie. Ten spyte van sy minderwaardigheidsgevoel teenoor Lizl, is hy self ’n dokter van bogemiddelde formaat. En nou moet hy dikwels van Lizl verskil, teen sy eie beterwete in, sodat sy reg bewys kan word. Dis geen grap nie, nog minder om hierdie rol oortuigend te speel. Natuurlik sorg hy dat hy nooit ’n pasiënt se lewe daardeur in gevaar stel nie. Hy verskil net lank en heftig genoeg van dokter Lizl om haar daarvan te oortuig dat háár diagnose die regte een is. Dan kapituleer hy gewoonlik met ’n ongeërgde optrek van die skouers en sê gedwee: “Jy is reg, dokter Lizl. Reg soos altyd. My fout.”
Wat Willem nie weet nie, is dat hy ’n bron van diepe kommer vir háár word. Feit bly, soos een van hul professore eendag in die lesingsaal uitgewys het, ’n briljante student beteken nog nie ’n briljante dokter nie. Om ’n magdom boekekennis te hê beteken nog nie sukses in die praktyk nie. Dis wanneer daardie kennis prakties toegepas moet word, dat die koring van die kaf geskei word. Dit is dus ’n ontstellende gedagte vir Lizl dat die СКАЧАТЬ