Название: Asbesmiddag
Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624068747
isbn:
Die skrywer kyk oor die rivierbedding uit, waar die kraai steeds op die ou matras hop. Hy pik-pik aan die klapperhaar. Verder weg flits motors op die Koelenhofpad verby. Wat sal die fakulteit se etiese komitee wat waak oor navorsingspraktyke te sê hê oor hierdie besoek van hom? Hy was al ’n keer by een van hulle vergaderings. Wat sou hulle dink van die skrywer as voyeur?
“Sit maar iets in.”
“Maar hoeveel?”
Hy haal sy skouers op. “Ag, iets. Iets by benadering. Vat maar die gemiddeld vir die vakgroep.”
“Berei jy ’n uur voor vir ’n eerstejaarslesing?”
“ ’n Uur? Nee, vader, ek –”
“Ek skryf maar ’n driekwartier in.”
“Enigiets. Ek is tevrede met enige getal.” Hy maak ’n leë gebaar na die bult wat opstyg vanuit die vuil rivierbedding na die swart woongebied, waar plakkershutte so na aan die wingerd opstapel dat dit lyk of hulle oor die druiwe hel.
“En skeppende navorsing? Hoeveel uur per dag bestee jy aan jou skryfwerk – die nadink daaroor, en die skryf?”
Hy draai om om na die sjampoemeisie te kyk. Sy staar hom ondersoekend aan, kyk dan oor sy skouer, waar hy weet sy Volvo blink en uit plek staan.
“My skryfwerk?”
“Ja, ’n getal ure per dag.”
Die vakgroephoof is ’n geduldige man. Die skrywer sug; die arme man moet ook net sy werk doen.
“Vul in: ’n leeftyd.”
“ ’n Wat?”
“ ’n Leeftyd. Wie gaan in ieder geval na daardie simpel stats kyk?”
Die vakgroephoof huiwer; hy is onder druk. Binne die Skool vir Tale waarvan hul vakgroep deel is, is daar sprake van die sluiting van sekere vakgroepe.
Die skrywer besluit om sy hoof ’n keer te wys op Foucault se “rituals of exclusion”: jy kan die tydsgees net behoorlik begryp wanneer jy na die rituele van uitsluiting kyk. Wat verwerp word, wat geweier word – kortom, wat die beskawing op daardie tydstip nie meer wil hê nie.
Maar waarom, dink die skrywer, moet hy die arme man nog verder belas? Hulle sit juis daar as benoude Afrikaanssprekende vakgroepie naas die ewe klein en benoude Xhosa-vakgroep. Dis ’n stadskampus wat meedoënloos voortbeweeg die toekoms in; daar hoor jy nooit Xhosa of Afrikaans nie. Die klompie Afrikaanse studente – bruin en wit – en die studente wat tuis Xhosa praat, steek hul private identiteit goed weg. Hulle vind mekaar en die res van die studente-gemeenskap in die globale taal, Engels. Niemand wil uncool en agterlik voorkom nie.
Die vakgroephoof kug in die stilte oor die foon. Hulle was al vantevore hier. “Wel, ek is seker iemand sal tog . . .”
“Jy weet so goed soos ek dit gaan net iewers geliasseer word.”
“Moenie so seker wees nie. Jy weet die verslag oor die vakgroep word tans gefinaliseer!”
“Sê dan maar ek bestee vier-en-twintig uur per dag daaraan.”
“Aan wat?”
“Aan duimsuig.”
Hy wil aan sy hoof sê dat hul groot probleem is dat hulle hierdie saak nie kan beveg nie, omdat die wapens wat hulle sou opneem by voorbaat reeds buite orde verklaar is. Soos gekke sal hulle hulself bedien van ’n woordeskat wat helaas geen geldingskrag meer het nie.
Die universiteit het hom met ’n ander woordeskat begin uitdruk. Lost in translation. Lammers is hulle, lammers ter slagting; die groot teregstelling lê voor. Die ancien regime sak weg soos die watertafel onder hierdie dorp. En of hy en sy hoof dit nou wil of nie: uit baie oorde word hulle gesien as twee kwynende eikebome.
Hy beëindig die gesprek en draai terug na die jong vrou, wat hom sinies betrag. Sy sê niks nie. Roep dan na die kind wat wil afdwaal rivier toe.
“Wel.” Hy beduie na die hond, die huis, die rivier. “Wel, ek sal nou weet waar om die fortuinverteller te kry.”
Hy draai om, huiwer by die hond en dink: water. Maar dan stap hy weg, en wuif na haar van agter sy motor se ruit, met die lugverkoeler wat reeds druis en verligting oor hom uitblaas.
In sy truspieël sien hy in die verte ’n motor staan. Vir ’n oomblik verbeel hy hom hy herken die man agter die stuurwiel: die swart man wat sy hare gesny wou hê, die man in die netjiese pak – die een wat so kwaad vir Giuseppe was.
Maar hy verbeel hom dit seker, en hy ry uit, die bult op. Die Doktor kom oor ’n week terug uit Zürich, het Giuseppe gesê. Die skrywer kyk op sy horlosie na die datum en maak ’n nota in sy gedagtes van die magnaat se aankoms.
“Wat is die beperkings van wat Coetzee genoem het ‘white writing’ hier in Afrika?” het hy sy studente onlangs gevra. Nou kan hy byvoeg: En van die voyeurisme wat die navorsingsdekaan so vrygewig “skeppende navorsing” noem?
Hy het voorgelees aan die klas. “Luister wat skryf Herman Charles Bosman: ‘. . . how can a white man get into a black man’s skin – and vice versa? That sort of thing is a presumption, and can produce only falseness in art. No, they must write their own literature. We must write ours.’ ”
Met die opkyk gesê: “ ’n Mens se eerste reaksie is natuurlik: dis rassisme! Natuurlik is dit. ’n Mens wil sê: maar beteken dit ’n jong mens kan nie oor ’n bejaarde skryf nie? Of ’n vrou oor ’n man nie? Die skryfdaad mag immers nie so beperk word nie. Ons is almal ten slotte mens!
“Die probleem is egter: wat dink mense wérklik?
“Byvoorbeeld: Wie teken die verhale in hierdie land op en slaan munt daaruit in die buiteland? Wit skrywers! Baie mense beweer daar is nou genoeg jong swart skrywers. Dis nie waar nie. Kyk na wat in Afrikaans geskryf word deur jong wit mense. Vergelyk maar. Boonop: met watter skeptisisme gaan ek ’n roman opneem wat ’n jong swart vrou geskryf het oor ’n middeljarige wit Afrikaanse man? Wat natuurlik beteken dis iemand wat gekonfronteer word met die veranderinge in sy land; iemand wat gaan sterf in ’n ander land as die een waarin hy gebore is, soos Kundera dit gestel het. Wat gaan ek as leser antisipeer?”
“A demolition job!” het die skerpsinnige student met haar ronde brilletjie geantwoord.
“Waarom sou sy haar wou begeef op die terrein van die irrelevante?” Dit van die student wat sy brood verdien as joernalis by ’n middagblad.
“Presies. Vir hoe lank kan die wit skrywer deur die vensters van sy motor staar, en wonder?”
Die ander studente om die tafel lyk of hulle nie ’n snars omgee vir die gespreksonderwerp nie. Buitendien skryf hulle in Engels, en voel meeste van hulle, luidens hul eie getuienis, hulle nie juis gebonde aan die begrip Afrika nie. Hulle is skrywers, dis al. Niks van die gewroeg oor white writing en die wit man as Afrikaan al dan nie en wit skryfwerk as deel van of buite die kanon Afrika-literatuur vir hulle nie.
СКАЧАТЬ