Met ander woorde. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Met ander woorde - Wilna Adriaanse страница 14

Название: Met ander woorde

Автор: Wilna Adriaanse

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624067030

isbn:

СКАЧАТЬ kan dalk van jou ’n man maak!” roep Cato hom agterna en Helen stamp haar in die ribbes.

      “Los hom.”

      “Ja, en om te dink die helfte van die kampus se meisies raak uitasem oor hom! What a waste of looks and brain power.”

      “Kom ons gaan koop vir ons ’n skyf pizza, ek is nou honger,” ignoreer Helen Cato se woorde.

      Cato keer haar beursie in haar hand uit. “Waarom swot ek so hard, dis nie asof ek ooit ernstig gaan geld maak in hierdie land nie. Miskien moet ek net vir my ’n ryk man soek en sy seksslaaf word. Dit klink aansienlik makliker.”

      Helen staan op. “Kom, ek sal koop. Ek het nog ’n paar rand oor van die geld wat ek verlede Saterdag met die troue gemaak het.”

      “Dis darem jammer bruide soek nie iemand om passasies uit Shakespeare op te voer nie.”

      “Hou moed, jy is dalk Charlize se opvolger en dan kan jy eendag vir ons almal vliegtuigkaartjies stuur om vir jou in Hollywood te gaan kuier.”

      “Met my luck word ek ’n kelnerin in ’n plaaslike sepie.”

      Helen haak by haar vriendin in toe hulle buite kom en hulle stap in stilte die straat af. Dis koud en hulle wikkel hulleself dieper in hulle baadjies in.

      “Moet julle twee nie swot nie?”

      Die stem bring hulle tot stilstand en toe hulle opkyk, staan Willem, Lisa, Ben en Sanet voor hulle by die ingang na die winkelsentrum.

      “Moet julle nie mense red nie?” kap Cato terug in Willem se rigting.

      “Ons het ons kwota reddingswerk vir die dag gedoen.”

      “Waarheen is julle op pad?” wil Lisa by Helen weet.

      “Om ’n skyf pizza te gaan koop. Ons is broke en honger.”

      “Julle is ook net bankrot as julle moet kos koop.” Lisa skud haar kop, maar begin in haar handsak vroetel en haal ’n honderdrandnoot uit. “Dis om kos mee te koop, nie drank nie.”

      Willem sit sy arm om Lisa se skouers. “Jy klink nou nes my ma.” Sy blik verskuif na die twee meisies. “Wil julle nie gou iets gaan drink nie? Ons het ’n paar minute voor die fliek begin.”

      Helen skud haar kop voor Cato kan instem. “Ons het reeds iets gedrink. Kos sal nou meer welkom wees, want ons albei moet nog vanaand gaan werk.”

      Terwyl Helen praat, kyk Cato na Ben en Sanet, wat stil die gesprek volg.

      “Hallo, dokter, gaan dit nog goed?”

      “Goed genoeg, dankie, en met jou?”

      Sy pruil haar mond. “Met my kan dit altyd beter gaan.” Dan hou sy haar hand na Sanet uit. “Ek dink nie ons is al aan mekaar voorgestel nie; ek is Cato.”

      Sanet huiwer ’n oomblik voor sy haar hand ook uitsteek. “Sanet de Klerk.”

      “Wil julle nie saam met ons gaan fliek nie?” nooi Willem toe dit weer stil raak, maar Cato skud haar kop.

      “Do not lead us into temptation, dis moeilik genoeg om op ’n Vrydagaand te moet swot.”

      “Geniet julle fliek,” begin Helen groet en dan soen sy Lisa op die wang. “Dankie vir die geld. As ons eendag ryk is, betaal ons jou dubbel en dwars terug.”

      Lisa lag net voor hulle omdraai en met die trappe begin opstap.

      “Helen . . .” Albei meisies draai om en Ben gee ’n tree nader. “Ek is op soek na Marcus Brink. Hy is blykbaar ’n goeie vriend van Kristina.”

      Helen knik. “Ek sal hom die boodskap gee.”

      “Hoe de hel moet ek nou met so iets kompeteer?” laat Cato onderlangs hoor toe hulle wegstap.

      “Met wie wil jy kompeteer?”

      “Met die sexy dokter se aanhangsel.” Sy sug. “Die lewe is darem vrek unfair. Wie het besluit sy mag so lyk? En wat het sy gedoen om so te lyk?”

      “Cato, hou op maak asof jy Aspoestertjie se stiefsuster is.”

      “Ek weet ek is nie, maar ek lyk ook nie só nie.”

      “Troos jou daaraan dat seker net tien persent van die vroue in die wêreld so lyk.”

      “Maar waarom kon ek nie ook een van die tien persent gewees het nie?”

      Helen skud haar kop laggend. “Ek weet nie, Cato. Dis seker maar deel van die misterie van die lewe. En ten minste het jy ’n stunning persoonlikheid.”

      Cato snork deur haar neus. “Wys my die man wat vir ’n girl se persoonlikheid val.”

      “A, om weer student te wees!” sug Willem toe hulle ná die fliek koffie drink by ’n eetplek wat nog oop is.

      “Ék wil nie weer ’n student wees nie,” antwoord Sanet.

      “Ek sal nie omgee om weer vir ’n maand of wat een te wees nie.” Ben lag in Willem se rigting. “Ons tweede jaar – ek sal nie omgee om ons tweede jaar oor te hê nie. Ek dink as daar ooit ’n perfekte jaar in ’n mens se lewe is, is dit daardie een. Twintig is so ’n lekker ouderdom. Jy is beslis nie meer ’n tiener nie, maar die grootmenswêreld lê nog ver genoeg om jou nie daaroor te bekommer nie.”

      “Ek kan verstaan waarom julle twee daardie jaar wil oorhê. Julle was ’n law unto yourselves. Dis ’n wonder julle het deurgekom.”

      Willem lag alwetend. “ ’n Mens moet net weet hoe. En ons hét vrek hard gewerk ook.”

      Sanet kyk van Willem na Ben. “Maar julle het nog harder gespeel.”

      “Ons het niemand skade aangedoen nie,” protesteer Ben terwyl hy hom lui uitstrek in sy stoel.

      “Behalwe ’n streep gebroke harte agter julle.”

      “Dit was nie so erg nie, en ek is seker almal het dit oorleef en die meeste is vandag gelukkig getroud met een en ’n halwe kind, ’n huis in die suburbs, ’n Volvo en ’n paar kredietkaarte in die beursie.” Willem sit ook gemaklik agteroor.

      Ben knik. “Of hulle werk êrens in ’n lab met die hoop om een van die dae die voorblaaie te haal met ’n nuwe kuur vir enigiets van vigs tot ouderdom. Daar was beslis ’n paar wat nie sal gaan vir die man, een en ’n halwe kind en die Volvo nie.”

      Sanet skuif haar leë koppie eenkant toe en staan op. “Ek is nie lus vir julle twee se trip down memory lane nie. Ek gaan slaap liewer.”

      Die ander staan ook op en by die motors groet hulle. In die motor wil Sanet weet of Ben die nag by haar gaan bly, maar hy skud sy kop.

      “Nie vanaand nie, dankie. Ek sal jou môre bel.”

      Haar mond gaan oop asof sy iets wil sê, maar dan draai sy net haar kop en staar deur die venster.

      Ben СКАЧАТЬ