Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal. Riens Vosloo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal - Riens Vosloo страница 6

Название: Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Huistaal

Автор: Riens Vosloo

Издательство: Ingram

Жанр: Учебная литература

Серия: Piekfyn Afrikaans

isbn: 9781775891031

isbn:

СКАЧАТЬ Heel laaste haal hy sy ring af en bêre dit in so ’n slim wegsteekplek dat nie een van sy bediendes of sy baie vroue of sy baie, baie kinders ooit sal kan raai waar dit is nie. En wanneer hy klaar gebad het, sit hy heel eerste die ring weer aan. Eers dan mag iemand weer naby hom kom.

      Maar eendag toe hy uit sy bad klim en drup-drup in die sonnetjie staan, kom hy agter sy ring is weg. Verbysterd, en toe bevrees, soek hy in die geheime wegsteekplek en toe oral rondom hom. Maar die ring is weg. Iemand – een van sy bediendes of sy baie vroue of sy baie, baie kinders – moes die wegsteekplek gekry het, en het dit durf waag om die ring te vat.

      Die koning is woedend. Maar hy is ook bang. Hy kan nie eens ’n beloning uitloof vir die een wat die ring sal kry nie, want dan weet almal hy is sy ring kwyt. En hulle weet, sonder sy ring het hy nie meer beskerming teen gevaar nie. Hulle sal weet hy is nie meer die magtigste koning in Afrika nie.

      Vir dae sit die koning hom siek en bekommer. Hy loop op en af in sy slaapkamer. Hy sit ure lank en staar na die grond en na die lug. Hy kan nie slaap nie. Sy vroue skud verdrietig hulle koppe, en sy kinders bly uit sy pad.

      Uiteindelik kry sy lieflingsvrou hom sover om vir haar te sê wat fout is, en sy gaan reguit na die slimste van al die towenaars toe – ’n man genaamd Zafusa.

      Met wilde oë en kletterende armringe kom Zafusa in die paleis se binnehof aan. Met veerpluime wat om sy kop dans en repe diervel wat om sy middellyf bengel, stap hy na die koning en gaan by hom sit. Hy lyk soos ’n luiperd met vere en ’n honderd sterte. Doodstil luister hy hoe die koning vertel van sy ring wat gesteel is.

      Toe maak Zafusa een van die leersakkies aan sy kralegordel los en haal die dolosse uit waarmee hy altyd antwoorde kry op sy moeilikste vrae. Hy vee ’n kring glad in die sand. Hy hou die dolosse in die lug, gee ’n hoë skreeu en laat die dolosse val. Hy kyk mooi na die patroon waarin hulle lê en kom orent.

      “Die ring sal uitkom, o Koning,” sê hy. “Die dief is sommer hier naby.”

      “Wie is dit?” eis die koning.

      Zafusa skud net sy kop. “U sal sien. Towerkuns is nie nodig nie. Laat kom net die houtkappers.”

      Die koning maak so en Zafusa sê vir hulle wat om te doen.

      Toe die son die volgende môre opkom, word almal wat selfs die geringste kans gehad het om die ring te steel na die plein voor die paleis ontbied.

      Die koning verskyn aan die bopunt van die trap by die ingang van die paleis. Sonder ’n woord staar hy oor die skare heen, en die mense buig voor hom. Hy klap sy hande en skielik staan daar ’n ry soldate reg rondom die plein. Hulle hou skerpgemaakte spiese gereed, niemand kan wegkom nie.

      Toe kom Zafusa by die klein poort uit. Hy lyk vreesaanjaend. Om elke oog is ’n wit kring geteken, en daar is vreemde donker patrone op sy lyf. Agter hom aan kom die houtkappers en elkeen dra ’n bondel reguit stokke. Hulle gooi die stokke op ’n hoop in die middel van die plein.

      Zafusa dans om die stokke, en hy sing-praat in ’n taal wat niemand ken nie, en almal weet dat dit toorwoorde is wat hy sê. Toe gee die koning ’n bevel, en elkeen op die plein kry ’n stok.

      “Wees baie versigtig!” bulder Zafusa. “Dit is toorstokke dié! Moet dit nie laat wegraak nie. Dra dit heeldag met julle saam. Bring dit môre teen dagbreek hiernatoe terug. Wanneer die son opkom, sal ons sien wat ons sal sien.”

      Toorstokke! Die mense is verbyster – die toorstokke lyk nes gewone stokke. Hulle vergelyk hulle stokke met mekaar – almal lyk dieselfde. Party is ’n bietjie dikker of ’n bietjie dunner as die ander, maar almal is ewe lank. Om die waarheid te sê, almal is presies ewe lank. Vreemd …

      Toe staan die soldate eenkant toe sodat die mense kan gaan. Hulle loop natuurlik agteruit, want niemand mag ooit sy rug op die koning draai nie. En dis hoe dit kom dat almal sien hoe die koning sy lieflingsvrou na hom toe wink om iets vir haar te sê.

      Toe sy voor hom kniel, fluister hy in haar oor: “Die dief is so goed as gevang. Die stok sal hom vang. Die dief se stok gaan vannag langer groei, so lank soos drie vingers breed is. Maar moet vir niemand vertel ek het so gesê nie.”

      En toe die koning by die ingang in verdwyn, drom al die vroue en kinders en bediendes om die lieflingsvrou saam om te hoor wat die koning gesê het.

      Nou ja. Die lieflingsvrou was ’n betroubare vrou. Sy het niks vir niemand gesê nie. Behalwe nou vir haar ekstra spesiale vriendin. En die vriendin is ook ’n versigtige vrou. Sy het net vir haar ma en haar wyse ou tante gesê. Maar snaaks genoeg, toe die son daardie aand sak, weet elke liewe mens wat op die plein was die dief se stok gaan teen dagbreek drie vingerbreedtes langer wees as al die ander s’n.

      Die nag kom net so vinnig en so stil soos altyd. Toe die eerste spore van die dagbreek wys dat die nag verby is, kom almal bymekaar op die plein, en elkeen het sy stok by hom.

      Die son glip oor die horison, en skielik staan Zafusa daar met ’n blink spies in sy hand en hy gluur die mense aan. Die koning kom uit op sy spesiale drabed met die volstruisvere. Langs hom loop die meesterbouer van die koninkryk en hy dra sy meetstok in sy hand.

      Stok na stok word gemeet, reg rondom die plein. Nie een van hulle het eens ’n vingernael langer geword nie. Almal is nog presies ewe lank. Behalwe een. Die een in die sweterige hand van ’n bediende met skelm oë. Sy stok is presies drie vingerbreedtes korter as al die ander.

      “Daar’s die dief!” gil Zafusa, en hy spring hoog in die lug en skud sy spies.

      “Gryp hom!” brul die koning aan die koninklike wag. “Gooi hom vir die leeus!”

      Die dief vergeet skoon dat die ring hom beskerm. Hy val op sy knieë en hy huil en hy kerm en hy haal die ring af van sy hand wat hy agter sy rug weggesteek gehou het. Hy gee die ring vir die koning en toe huil hy nog harder en smeek om genade.

      Die koning was so bly om sy ring terug te hê en weer die magtigste koning in Afrika te wees dat die koninklike leeus sonder hul ontbythappie moes klaarkom. Die dief is vrygelaat. Hy is net een ligte straf opgelê. Hy moes drie keer om die stad hardloop terwyl die kinders hom heelpad jaag – en die kinders het dit baie geniet om hulle stokke vir ’n heel ander doel te gebruik.

      “Hoe het jy dit reggekry?” wil die koning weet waar hy in sy kamer herstel van die gebeure. Zafusa staan en kyk hoe sakke en sakke goud uit die koning se skatkamer vir hom aangedra word. “Jou towerkrag moet selfs sterker wees as die mag van die ring.”

      “Nee,” antwoord Zafusa. “Ek het mos gesê towery is nie nodig nie. Al wat nodig was, was een baie skuldige man. Hy het so goed geweet dat hy die dief was dat hy regtig geglo het sy stok het drie vingerbreedtes langer geword in die nag. En toe sny hy sy stok drie vingerbreedtes korter en hy dink niemand sal dit raaksien nie.”

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Beskryf die koning se klere in drie sinne.
2.Waarlangs het die diamante in die ring gekom?
3.Min of meer hoeveel sentimeter langer sou die dief se stok die volgende oggend wees?
4.Wat is die belangrikste verskil tussen Zafusa en die moetievrou in die verhaal “Die towersak”? Sleutelwoord: toor.
5.Wat gebruik Zafusa om die dief aan die kaak te stel? Skryf net die regte antwoord neer: toorkuns / skelmstreek / mensekennis.
6.Beskryf die koning se karakter in drie sinne.
7.Beskryf die koning se lieflingsvrou se karakter in twee sinne.
8.Skryf twee sinne om te sê wat die twee lewenslesse СКАЧАТЬ