Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal. Riens Vosloo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo страница 8

СКАЧАТЬ Dit is 'n gebeurtenis wat die hoofkarakter in ’n stryd met homself of met ’n ander karakter bring, en oploop na die hoogtepunt (climax).

       Ontknoping (unravelling of the plot): Die einde van die verhaal, en ’n gemotiveerde oplossing.

      Tyd

      Tyd is die verloop van gebeure. Dit is die tydperk waarin die verhaal afspeel, byvoorbeeld een dag, twee maande, ensovoorts. Die tyd van ’n kortverhaal hou ook gewoonlik verband met die tema en die ruimte.

      Ruimte, agtergrond

      Dit is die fisiese agtergrond of tydperk waarin die verhaal afspeel. Die plek en omstandighede kan bydra tot die tema, atmosfeer en karakterisering.

      Toon

      Dit is die atmosfeer wat in die verhaal heers. Sekere woordkeuses bevorder die stemming en beskryf die omstandighede/situasie en die skrywer se gevoelens daaroor.

      Taal en styl

      Styl is die manier waarop die taal aangebied word. Woordkeuse, sinslengte en sinstruktuur dra by om ’n bepaalde atmosfeer te skep.

      Die reis

      Barry Hough

      Prelees – groepbespreking

      Bespreek die volgende met ’n maat:

       Ken jy iemand wat hakkel of stotter?

       Hoe, dink jy, tree mense op teenoor mense/kinders wat hakkel?

       Hoe behoort ’n mens op te tree?

       Kyk na die illustrasie en voorspel wie die hoofkarakters in die verhaal is.

       Voorspel wat die betekenis van die titel is. Waarna kan die “reis” moontlik verwys? Dink aan ’n letterlike reis en ’n figuurlike reis. (Raadpleeg ook ’n woordeboek, indien nodig.)

       Gesels oor die bekroonde film The king’s speech – wat het julle die meeste aangeraak?

      Die verhaal

      “Hoekom hakkel jy nie as jy skree nie?”vra Thembi hom waar hulle pouse op die bank onder die peperboom met sy fyn blommetjies sit. Sy draai haar gesig weg van Johan sodat sy lippe aan haar dun vlegseltjies met die krale raak.

      “Ek soen nie ’n seun wat hakkel nie. And do we really want to spoil a lovely friendship by complicating it?” Haar lippe trek en hy kan sien sy probeer hard om nie te glimlag nie.

      “M-m-maar dis d-diskriminasie,” lag hy. En tog klem sy vuiste sodat sy naels in sy palms insny. “Ek h-hakkel ook nie as ek sing nie.”

      “Die lewe is nie ’n musical nie. Wanneer jy vir my kan fluister sonder om te hakkel, whisper sweet nothings, dan kan jy my soen.” Thembi vou Johan se vuis oop en druk sy hand saggies.

      Die klok lui.

      Gedurende Wiskunde ruik hy nog steeds die soet geur van Thembi se vlegsels en haar wreedheid krap aan hom. Hy begryp dit nie.

      Toe sy by die skool gekom het, was hy van die begin af vriendelik teenoor haar, al het sy hom eers gewantrou. Haar ouers het ver weg gewoon en sy was ’n kosganger. Hy het haar eensaamheid aangevoel en sy ouers gevra om haar een Sondag vir middagete te nooi. Thembi en sy ma het goed klaargekom en sy het ’n gereelde besoeker geword.

      Hy het sy ore oopgehou. Niemand het rêrig nare dinge gesê nie. Maar die uitdrukking in die ander se oë het erger gekwets. En dis dié stil “taal” wat hy eerste leer lees het – vandat hy geweet het sy manier van praat maak hom anders as ander kinders.

      Dit was sy begrip vir hierdie taal wat hom na aan Thembi en beskermd teenoor haar laat voel het. Nie dat Thembi eintlik ooit beskerming nodig gehad het nie. Sy was bekkig, skerp. En deesdae is sy voorsitter van die debatsvereniging. Hoewel haar Afrikaans soms bietjie skeef uitkom, is haar Engelse uitspraak volmaak.

      En Thembi is slim, veral in Wetenskap en Biologie. Sy wil ’n dokter word, soos haar pa. Sy wil dinge dóén, nie net praat nie. Van politici hou sy nie. “Hulle is almal word pedlars,” sê sy. “En woorde is goedkoop. Hulle praat almal ’n gat in die kop.”

      Tog het Johan haar betrap op die dag van president Mandela se inhuldiging. Hy en Thembi en ’n paar maats het by sy huis TV gekyk. Thembi het lekker saamgelag oor die snaakse hooftooisels en uithangmodes – oor Marike de Klerk wat ’n bietjie soos Meryl Streep in Out of Africa lyk, en oor Mandela se dogter wat so onder haar groot-groot hoed wegkruip.

      Johan het saamgeskerts hoewel sy aandag meer vasgevang is deur die sprekers. Hulle praat almal seepglad, het hy gedink. Die mense wat kommentaar lewer, en die imbongi wat so singpraat.

      Maar toe Die Stem en Nkosi Sikelel’ iAfrika speel en die kanonsaluut opklink en die vliegtuie verbyvlieg terwyl Mandela met sy hoed op sy bors staan, loer Johan vir Thembi en sien hoe sy trane afvee. Hy stamp aan haar. “Ek dag hulle’s almal w-word pedlars.”

      “Suka!” sê sy vir hom en maak ’n vee-gebaar met haar hand. Later is haar enigste verweer: “You also shed a tear, Boertjie.”

      Die voorlaaste periode is Engels. Terwyl Miss Cooke voortteem oor die voortreflikhede van Shakespeare se Romeo and Juliet en hoe eietyds Shakespeare eintlik bly, beland ’n nota op Johan se lessenaar.

      See you on the rugby field after school.

       Thembi xxx

      Hy probeer haar aandag trek, maar sy luister aandagtig na Miss Cooke. Gedurende die laaste periode kry hy ook nie met haar gepraat nie.

      Maar ná skool wag sy vir hom op die rugbyveld. Toe hy by haar kom, sê sy: “As jy kan skree sonder om te hakkel, kan jy praat én fluister sonder om te hakkel. Ek het ’n plan. Ek begin by die een stel pale en jy by die ander. Dan loop ons na mekaar toe. Jy skree vir my sodat ek jou kan hoor. En hoe nader jy aan my kom, hoe sagter praat jy. Later sal jy kan fluister.”

      Johan ontplof. “Julle kan almal in julle hel in vlieg!” skree hy. “Dink jy ek probeer nie al jare nie? Spraakterapeute en sielkundiges. Vandat ek só hoog is. Oor die foon sukkel ek. Met mondelinge. Die kinders het vir my gelag. Altyd vir my gekyk of ek dom is. Die familie het altyd raad gegee. ‘Maak hom skrik. Sit klippe in sy mond. Laat hom sing.’ Ek is keelvol! En nou jý!”

      Hy sien Thembi wil haar hand na hom uitsteek maar sy huiwer, sê sag: “Dink jy ék weet nie hoe dit voel nie?” Sy draai om en loop weg.

      Toe sy deur die hek is en om die hoek verdwyn, brul Johan en gooi klippe teen die pale.

      Die volgende dag is dit hy wat ’n briefie aanstuur.

      Ná skool wag Thembi op die rugbyveld.

      In die weke wat volg, is sy stem dikwels hees. Niemand behalwe hy en Thembi weet waarom nie.

      Toe die peperboom vol rooi trossies staan, begin hulle nie meer by die pale nie en Johan skree nie meer nie. Hy praat net hard. Soms raak hy so opgewonde oor sy vordering dat hy СКАЧАТЬ