Название: Die vierletterwoord
Автор: Nelia Engelbrecht
Издательство: Ingram
Жанр: Учебная литература
isbn: 9780624062943
isbn:
“En?”
“En niks.” Ek staar intens na my algebraboek.
“Ek sal jou roep as die kos reg is.”
Terwyl my ma kos maak, stuur ek vir Penny ’n SMS oor Jason se pa wat sowaar my ma se baas is.
Soos altyd het Penny nie veel simpatie met my nie. Sy dink nog steeds Jason is God’s gift to Palm Lane.
Ek kry die laaste woord in: Kry vi jou. Moet nou gan. Bi.
Ek gaan lê op my bed en druk my iPod se oorfone in my ore. As ek bietjie af voel, hou ek daarvan om na Leonard Cohen se sad songs te luister. My lewe lyk sommer beter as ek hoor hoe goor iemand anders s’n is.
Die volgende middag staan ons klomp nog so op die atletiekbaan en strek toe die heks op haar besem aangevlieg kom.
“Middag, julle. Vir dié wat nog nie weet nie: ek is juffrou Notnagel en ek gaan vanjaar die lang afstande en die landloop afrig.”
Ek dag amper ek kraam net daar. “Waar’s meneer Croucamp dan?”
“Hy het vanjaar oorgeskuif middelafstande toe.”
Soos verwag, is die oefensessie ’n disaster. Ek kry glad nie ritme nie. Ek vergeet selfs om uit te kyk vir Wilhelm.
“Jy hol reg langs die man verby en jy sien hom nie eens raak nie,” raas Penny ná die tyd terwyl ek my sweetpakbroek aantrek. “Ek kon sien hoe hy na jou kyk.”
“Tough luck,” brom ek terwyl ons na haar scooter toe stap.
“Jy moet fokus, vriendin. Jy moenie toelaat dat juffrou Notnagel jou atletiekloopbaan én ons hoofseun-projek verongeluk nie.”
By die huis wag my ma in die kombuis met ’n brokkie Cameron-nuus.
“Meneer Cameron het sy personeel genooi vir ’n braai by sy huis. Hy wil graag ons gesinslede ontmoet. Sy seun gaan glo van julle vriende ook nooi.”
“Ek hoop nie Ma het gesê ek kom saam nie?”
“Natuurlik het ek.”
“Hoe kan Ma sommer ’n uitnodiging namens my aanvaar?”
My ma frons. “Ek het nie geweet jy het iets anders aan môreaand nie?”
“Ek het nie, maar …”
“Gaaf, dan is dit afgespreek,” val sy my in die rede. “Ons moet sewe-uur daar wees. Ek sien nogal uit daarna. Ons het lanklaas saam met mense gekuier. Dit raak soms eensaam, so sonder …”
Haar sin rafel uit. Sy staar dwarsdeur die stoof. As sy so treurig lyk, smelt my ysige hart.
“Oukei dan. Solank ons net nie te laat bly nie,” sê ek en loop kamer toe.
Dis alles my pa se skuld. As hy hier was, sou ons Vrydagaand gaan fliek het.
Dis deel van die make-believe-lewe wat ek vir ons uitgedink het. Vrydagaande is fliekaande en Saterdagaande sit ons drietjies buite onder die afdak en braai tjops en wors. Sondae gaan ons saam kerk toe en agterna gaan eet ons ribbetjies by die Spur.
Ja, right.
Ek haal my boeke uit en begin met my huiswerk.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.