Oase van geluk. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Oase van geluk - Ena Murray страница 7

Название: Oase van geluk

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624057178

isbn:

СКАЧАТЬ later die aand na haar kamer gaan, ervaar sy vir die eerste keer in baie jare weer die begeerte om haar ’n slag goed uit te huil. Dis of haar lewe meteens net uit probleme en vraagtekens bestaan. Eers was dit die besef van haar oujongnooiskap wat die rustigheid kom verstoor het, toe die omwenteling wat in haar lewe teweeggebring is deur Martina se skielike troue en nou nog die bekommernis oor haar sussie se toekomstige geluk. Dis of die verantwoordelikheid meteens te swaar is, want soos menige ouer ook al moes uitvind, hou die verantwoordelikheid teenoor jou kind nie op die dag as sy of hy gaan trou nie. Baie keer begin jy dán eers ervaar wat werklike kommer is. Martina was nog altyd meer ’n dogter as ’n suster vir haar, en ook sy moet nou tot die besef kom dat haar verantwoordelikheid jeens hierdie geliefde sussie van haar nie opgehou het toe sy die dag met Kobus Coetzenbergh getrou het nie. Inteendeel, dink sy wrang, dit wil voorkom asof sy net nog meer verantwoordelikheid bygekry het. Kobus het nou ook bygekom oor wie sy haar moet bekommer.

      Daarom dat Richard vanaand groter vordering as in baie jare met haar gemaak het, dink sy. Hy het haar vanaand op ’n sielkundige laagtepunt betrap en was gou om dit te benut en sy huweliksaanbod te herhaal.

      En vanaand het sy hom nie weer sonder hoop weggestuur nie. Sy was baie eerlik met hom. Miskien, het sy gedink, is dit goed dat ek ’n bietjie kan wegkom en tyd kry om my lewe in perspektief te kry.

      “Ek wil eers vir ’n rukkie weggaan, Richard. My jaarlikse verlof is op hande. Nee, ek gaan jou nie sê waarheen nie. Ek wil alleen wees. Ek wil tyd hê om te dink. Ek besef dat ek in ’n groef verval het. Wanneer ek terugkom, sal ek jou ’n finale antwoord gee.”

      Hy moes hom weer daarby neerlê en het sy skouers filosofies opgetrek. “Goed, soos jy verkies. Jy stuur my darem nie summier weg nie. Daar is dus ’n bietjie hoop, nie waar nie?”

      Sy het skuldig gelyk. “Ek weet ek tree miskien nie mooi teenoor jou op nie, Richard, maar ... ek het jou nog nooit aan ’n lyntjie gehou nie. Jy was nog altyd vry om te kom en te gaan en te trou met wie en wanneer jy wil.”

      “Ek weet, maar ek het jou reeds gesê ek wil jóú as vrou hê. Maar die tyd stap aan, Isolde. Ons is nie meer kinders nie. Ek weet jy is ’n baie onafhanklike mens, en ek sal jou nie probeer verander nie. Van jou kant af moet jy ook nie probeer om my te verander nie. Nietemin is daar genoeg tussen ons waarop ons ’n goeie huwelik kan bou.”

      Sy het geknik. Dis waar. Afgesien van sekere dinge wat krap, deel hulle ook baie belangstellings. Die manier waarop hy sy werk doen, is egter een ding wat haar baie hinder. Maar hulle is nie meer kinders nie, en sal sekerlik ’n bestendige huwelik kan bou met dit wat oor is.

      “Goed, Richard. Wanneer ek terug is van vakansie, sal ek jou my antwoord gee.”

      Maar in plaas daarvan dat hierdie besluit haar meer gemoedsrus besorg, is dit ook een van die dinge wat haar die nag laat wakker lê. Sy kan dit nie help nie, maar die gedagte dat sy uiteindelik tog maar met Richard Latsky sal trou, maak haar onrustig. Was dit nie dat Martina se geluk die afgelope dae so opsigtelik was nie, sou sy seker nie so gevoel het nie. Maar as sy aan Martina dink, besef sy dat daar iets in haar sussie se huwelik is wat nooit in hare sal wees nie.

      Maar dan betig sy haarself weer. Jy is nie meer ’n snuiter nie, Isolde. Oë soos sterre en geluk wat soos ’n onkeerbare fonteintjie na buite bars, is bedoel vir kinders soos Martina, nie vir oujongnooiens nie. Moenie kinderagtig wees nie! Jy was te vol fiemies met jou mansvriende en nou het nog net Richard Latsky oorgebly. Jy het nie meer ’n keuse nie. Jy moet nou vat wat jy kan kry. Die dae van kies en keur is verby.

      Swaarmoedig probeer sy die toekoms inkyk. Veral die nabye toekoms lyk ekstra duister. Martina en Kobus het maklik gepraat, so asof dit wat sy moet gaan doen baie eenvoudig, eintlik kinderspeletjies is. Maar dit gaan glad nie so eenvoudig wees as wat hulle wil voorgee nie.

      Isolde was nog altyd ’n eerlike mens. Dit was juis hierdie eienskap wat haar verlowing met Richard laat skipbreuk ly het. Hulle besef nie watter swaar ding hulle van haar vra om mense doelbewus te gaan bedrieg nie, al wil hulle haar wysmaak die doel heilig die middele. Sy sou ook meer gerus en moedig gevoel het as dit net Kobus se ma was wat op haar wag. Maar sy het ’n nare gevoel dat daardie Zak-broer van Kobus vir haar die wêreld moeilik gaan maak.

      Die daaropvolgende paar dae is daar egter min tyd om te veel moontlike probleme met “daardie Zak-broer van Kobus” op te tower. Sy moet haar werk op datum kry voordat haar verlof begin en tussendeur moet sy Martina en Kobus help met die voorbereidings vir hul Argentynse besoek.

      Dis paspoorte en baie ander dingetjies wat in orde gekry moet word en voordat sy reg besef, groet sy hulle op die lughawe.

      Sy voel maar eensaam en half verwese toe sy terugstap na haar motor. Dis die eerste dag van haar vakansie en sy moet nog vanaand die trein haal, suide toe.

      Sy wou met haar eie motor gaan, maar Kobus het haar afgeraai.

      “Jy ken net teerpaaie, Isolde. En daardie wêreld is vir jou heeltemal onbekend. Jy kan maklik verdwaal. Die dorpe lê ver van mekaar en party grondpaaie is maar sleg. Ook die plase lê ver uit mekaar. Onthou, hierdie wêreld se plase is ’n paar hektaar, terwyl Karooplase ’n hele paar duisend kan wees. Gaan liewer met die trein, dan weet ons jy sal veilig anderkant aankom,” het Kobus gesê, en sy het maar stilswyend kopgegee.

      Dis ’n bietjie laat in die dag om haar nóú oor haar welsyn te bekommer. Die vraag is nie of sy anderkant sal aankom nie. Die vraag is of sy anderkant die lewe sal bly behou en weer oor ’n paar weke heelhuids en sonder ’n omgedraaide nek daar sal kan padgee.

      Isolde moet aan die een kant van die jeep vasklou om nie uitgeskud te word nie terwyl sy en die vreemdeling wat haar op die stasie ontmoet het, al stampend en rukkend op die slegte plaaspaadjie voortbeweeg.

      Met elke stamp en skud styg haar wrewel jeens Zacharias Coetzenbergh. Kastig so ’n wonderlike broer, so ’n perfeksionis, en kyk hoe lyk sy pad! Haar onervare oog sien natuurlik nie die tekens van ’n onlangse donderstorm op die Karoo-aarde nie. Wat sy wel sien, en nogal oor verras is, is dat die Karoo nie werklik ’n klipperige woestyn is soos sy haar dit voorgestel het nie.

      Dis ook haar onkunde oor hierdie wêrelddeel wat maak dat sy nie besef dat die Karoo onlangs goed reën moet gehad het om so te vertoon nie. Daarby kom nog die feit dat Zak Coetzenbergh ’n konsensieuse boer is wat nie sy plaas laat vertrap tot stof en kaal vlaktes as gevolg van oorbeweiding nie en dat hy baie pligsgetrou is om gronderosie in die beginstadium te bestry.

      Maar van sulke goed weet Isolde natuurlik niks. Al wat sy sien, is dat die vlaktes groen voor haar uitstrek en gedurig afgewissel word met rantjies en heuweltjies met interessante patrone.

      Maar die pad! Sy moet weer vinnig vasgryp toe hulle deur ’n diep knik gaan en sy loer tersluiks na die man langs haar. Hy sit agter die stuurwiel asof hy op ’n gemakstoel sit, dink sy vererg. Natuurlik al gewoond aan hierdie primitiwiteit. Dis Jan Poggenpoel, die voorman, wat haar op die stasie kom haal het met die verskoning dat “meneer Zak vandag te besig is en nie self kon wegbreek om juffrou te kom haal nie”.

      Nog ’n punt teen die grootmeneer van Rocklands. Niks is so belangrik as hy self en sy eie belange nie. Nie eens ter wille van goeie maniere en vir die feit dat dit darem sy broer se aanstaande is wat arriveer, is hy bereid om sy program te verander nie.

      Dis ’n warm dag, soos wat die Karoo kán warm word in die hart van die somer, nadat dit lekker gereën het en die donderwolke wit op die westerkim saampak met die belofte van nog reën wat aan die kom is. Die son bak op die aarde neer en die wind waai lustig deur die oop jeep en veroorsaak chaos in haar hare wat met soveel sorg gekam is om haar sogenaamde aanstaande skoonfamilie te imponeer.

      Jan СКАЧАТЬ