Kronkelpad. Irma Joubert
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kronkelpad - Irma Joubert страница

Название: Kronkelpad

Автор: Irma Joubert

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624053880

isbn:

СКАЧАТЬ

      Kronkelpad

      IRMA JOUBERT

      Tafelberg

      Vir Madeleine

      “I stand with outdated maps in my hand … alone, without – Yehuda Amichai, Hebreeuse digter, 1955

      Hoofstuk1

      Die jong meisie voor haar het ’n dik bos rooibruin hare en bruin oë. Haar hare is in ’n bol om haar kop ge-tease en stokstyf gespuit. Sy het egalige, wit tande en ’n mooi vel – die meeste jongmense het deesdae mooi velle en tande, dink Lettie. Die meisie het ’n te groot, swart hemp aan met dik skouerstukke en ’n stywe jean. Aan haar voete het sy plat plastieksandale – “jellies”, noem die jongmense dit. ’n Moderne jong meisie, dink Lettie vlugtig.

      “My naam is Rialien Naudé,” sê die meisie effens ongemaklik. “Ek het gehoop … Dokter … kan my help?”

      Modern, miskien, maar tog ’n ietwat onseker, besluit Lettie. “Jong, ek praktiseer eintlik nie meer nie, net so nou en dan, los ek af,” sê sy vriendelik.

      “Nee, nee, dis nie … dokter-goed nie,” sê Rialien half apologeties. “Dis … ek is ’n tweedejaar-geskiedenisstudent en ons moet ’n taak uitwerk. Ek het gehoop Tannie … Dokter kan my help.”

      Lettie glimlag stadig. “Jy kan my maar tannie Lettie noem, Rialien. Maar van geskiedenis …” sy skud haar kop, “van geskiedenis weet ek nie veel nie.”

      “My ma het gesê … Tannie is ’n bekende dokter?”

      Lettie lag saggies. “Wel, ek glo darem regtig nie ek is ’n bekénde geneesheer nie,” sê sy.

      “My ma en my pa sê dokter Louw … Tannie is ’n legende in hierdie kontrei,” sê Rialien versigtig.

      Nou lag Lettie en skud haar kop. “Verduidelik maar eers vir my waaroor jou taak moet gaan.”

      “Dis eintlik nie regtig ’n geskiedenistaak nie, dis soort van …” Rialien lyk bietjie onbeholpe, sy beduie met haar hande. “Dis meer soos … e … om te wys ons kan navorsing doen, soos … emm …”

      “Soos … historiografie?” vra Lettie bietjie geamuseerd.

      Die jong meisie se mond val ’n oomblik oop, dan verhelder haar bruin oë. “Tannie weet van historiografie?”

      Lettie glimlag steeds en knik. “Hoe moet jy jou navorsing doen?” vra sy.

      “Ons moet eerstens iemand in ons gemeenskap kry met ’n storie,” begin Rialien entoesiasties, “soos, ja … iets uit die geskiedenis, en dan moet ons die storie opteken. Maar ons tegnieke en navorsingsbronne is die belangrikste, ons moet … emm … primêre en sekondêre bronne gebruik.”

      Haar hande bly besig, byna senuweeagtig besig – dit beduie, vee oor haar gesig, rus ’n oomblik op haar skoot, beduie dan weer. “Dit beteken ons moet ’n onderhoud voer, dis ’n primêre bron, en dan moet ons probeer ander primêre bronne kry, soos briewe of foto’s of iets. So as Tannie so iets het, sal ek dit versigtig gebruik en vir Tannie later weer teruggee, Tannie hoef nie te worry … te bekommer nie. En die sekondêre bronne sal ek self kry, dis geskiedenisboeke, of as Tannie dalk iets soos … emmm … koerantknipsels het, kan ek daarvan ook gebruik en teruggee, ons prof het gesê ons kry die take net so terug, ongeskonde …”

      “En jy glo ek het ’n storie?” vra Lettie en staan op. “Ek gaan vir ons bietjie tee maak, of verkies jy koffie?”

      “Tee sal lekker wees, dankie, Tannie,” sê Rialien en drentel met haar tweet-tweet-sandale agter Lettie aan kombuis toe. “Tannie het regtig ’n baie mooi huis.”

      Lettie glimlag. “Dankie,” sê sy.

      In die kombuis kyk die jong meisie ’n oomblik rond en gaan dan voort met gesels: “Ek weet Tannie het ’n storie, eintlik baie stories, want Tannie het in sulke interessante tye gelewe, oorloë en goed.”

      Lettie stap wasbak toe en tap die ketel vol water. “Eintlik is alle tye spesiaal op hulle eie manier,” sê sy. “Die 1980’s, waarin ons nou leef, is ook baie interessante tye. Dink byvoorbeeld maar aan die bosoorlog aan die grens. Jy ken tog sekerlik baie jong manne wat grens toe is, hoekom skryf jy nie daaroor nie?”

      Die kind trek haar fyn neusie effens op. “My broer was grens toe,” sê sy, “maar dis nie geskiedenis nie, dis sommer net soos wat nóú gebeur. Ek soek iets wat lank terug gebeur het, iets wat ander mense nie weet nie, of al van vergeet het.” Sy byt ’n oomblik aan haar onderlip voordat sy aangaan. “My ma het gesê ek moet eintlik by Dokter … by tannie Lettie hoor van die polio-epidemie, my ma sê julle het dit kinderverlamming genoem?”

      Lettie se hande verstil ’n oomblik, haar oë versluier deur haar ooglede wat sy afgewend hou. Dan haal sy twee koppies en pierings uit die rak bo haar kop. “Kom ons dink eerder aan ’n ander storie,” sê sy.

      “O,” sê die jong meisie effens teleurgesteld. “Wel, ons het geleer van die rebellie …” Sy bly onseker stil. “Dit was … seker voor Tannie se tyd, nè?” glimlag sy verleë.

      Lettie onderdruk ’n glimlag. “ ’n Klompie jare voor my tyd, ja.”

      “En toe het ons geleer van die Groot Depressie en die armblankes.” Haar gesig bly onseker. “Kan Tannie dalk vir my persoonlike ervarings vertel oor die depressie? Of die armblankes?”

      Lettie skud haar kop effens. “In ’33 was ek nog ’n laerskooldogter. En ek was ’n bevoorregte kind, my pa was die dorp se geneesheer, ons het nie werklik gebrek geken nie. Nee, die depressie gaan ook nie werk nie. Ek kan dalk vir jou die storie vertel van ’n armblanke-seun wat saam met my in die klas was, Gerbrand Pieterse, sy pa was ’n bywoner op een van my vriendinne se pa se plaas. Gerbrand is later Tweede Wêreldoorlog toe, Noorde toe, maar ek ken nie regtig sy storie so goed nie.” Sy tel die skinkbord met teegoed op. “Kom, ons gaan drink ons tee op die sonstoep.”

      Rialien tweet-tweet weer agter haar aan, gesels sommer so in die loop. “Wel, miskien kan Tannie vir my iets anders vertel uit die tyd van die Tweede Wêreldoorlog? Tannie was mos toe al groter?” por sy.

      “Ja-a, ek was in matriek toe die oorlog uitgebreek het in ’39, ek onthou nog daardie dag.” Lettie dink ’n rukkie. “Ek kan jou vertel van die oorlog, of miskien van die Groot Trek- Eeufees van 1938, ek dink ek het nog ’n feesprogram en ek het beslis enkele uitgawes van Die Jongspan wat alles oor die fees bevat het, ek sal dit net moet soek. Kom ons drink rustig ons tee, dan sal ons mos baie lekkerder kan gesels, dink jy nie?”

      Rialien glimlag verleë. “Tannie, dit sal lekker wees,” sê sy, “maar ek sal nie vandag lank kan bly nie, my broer kom my oor tien minute weer oplaai. Ek wou eintlik net kom hoor het of ek dalk môre kan kom gesels? As dit … emm … reg is met Tannie?”

      “Goed,” knik Lettie, “laat my bietjie dink, dan gesels ons môre. Hoe hou jy van jou tee?”

      “Baie melk en twee lepels suiker, dankie, Tannie.”

      Nadat die jong meisie weg is, gaan sit Lettie op haar gunstelingstoel voor die venster, waar sy oor haar mooi tuin uitkyk. Ek kan seker vir haar vertel van die Groot Trek-Eeufees in 1938, dink sy, van die tien ossewaens wat deur die land getrek het, en die Voortrekkers van regoor die land wat Pretoria toe gehardloop het met brandende fakkels. Sy glimlag stadig: Sy was daardie tyd in vorm IV. Hulle het die res van die jaar op Vrydae lang Voortrekkerrokke met ’n kantnekdoek en ’n kappie skool toe gedra, en die seuns het velbroeke en onderbaadjies СКАЧАТЬ