Название: Ontmoet my in Patong
Автор: Madeleine Malherbe
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624052043
isbn:
Of selfs by hom in die bed sal val, gaan haar gedagtes op loop. Sy het al van gevalle gehoor waar dokters die verpleegsters intimideer vir seksuele gunsies. Nou sal sy droëbek sonder ’n glasie wyn moet sit sodat hy nie van haar misbruik kan maak nie, haar nie kan uitlok tot ’n los-en-vas-pratery nie. En as sy hom van al die gevoelens teenoor die beheersuster sal vertel, sal hy sweerlik dink sy dik aan.
Sy wens sy kan haar uit die afspraak wikkel, maar sy het nou ten ene male belowe dat sy sal gaan. Dis nou te laat om ander planne te maak. Sy is op slot van sake ’n betroubare mens.
Toe sy tien minute laat by die Dros instap, sien sy Wynand nêrens nie. Miskien moet sy maar vinnig omdraai en spore maak, dink sy verlig. Hy het seker geloop omdat sy laat was. Hy was dus nie regtig ernstig oor die uitnodiging nie, besluit sy en kies die hasepad. Maar sy is pas by die laaste trappie af, toe hy met ’n geskarrel daar aankom.
“Ek is jammer ek is laat. Die laaste operasie van die dag het onverwags ’n komplikasie opgelewer. Bly asseblief en eet saam met my. Asseblief. Ek sien al die hele dag uit hierna.”
Hy raak ligweg aan haar elmboog. Sy huiwer ’n lang oomblik, maar laat haar dan na ’n tafeltjie in die hoek op die stoep stuur. Hy is selfversekerd, en dit laat haar goed voel om saam met so ’n aantreklike man gesien te word. In haar agterkop pla die feit tog maar dat Dries eintlik ’n bietjie te kort vir haar is.
“Dis so lekker warm en stomend na die reën, dis heerlik om buite te sit, maar ek hoop nie die rokers pla jou nie.” Hy trek galant ’n stoel vir haar uit.
Sy moet lag. “Tot twee weke gelede sou ek hier buite móés sit,” vertel sy. “Ek het soos ’n skoorsteen gerook.”
“Dis nie waar nie!” roep hy duidelik geskok uit. “Waarvoor sal ’n verpleegster van alle mense haar gesondheid so in gevaar stel?”
“Jy mag wel vra. Ek was jonk en wou cool wees. Toe begin ek met ’n sigaret na etes, en toe ook na teetyd, en later vóór etes en vóór teetyd en as ek gestres voel, en as ek vrolik voel en as ek sleg voel. Toe word dit ’n kettingrokery.”
“Sjoe! Dis verskriklik. Gewoonlik is kettingrokers ou omies met geel hande wie se asem en klere stink. Of ou tannies met rasperstemme en rou hoesies. En hulle ruik na pepermente soos hulle die reuk probeer wegsteek. Hoe gaan dit met die onttrekkingsimptome?” vra hy simpatiek.
“Ag, aaklig! Ek voel duisend keer op ’n dag in my sakke vir die pakkie sigarette. En ek voel by tye nogal naarderig.”
“Baie lemoensap drink, onthou dit,” beveel hy. “En vasbyt. Dit sal nou net beter gaan! Twee weke se uithou: jy’s lankal oor die hond se stert.”
“Ek hoop so. Ek het vas besluit om nie weer te begin nie.”
“Mooi so! Dis die belangrikste. Van lemoensap gepraat: wat drink jy vanaand? Ek sal moet hou by alkoholvry, ek het nog ’n rondte om te doen later vanaand, maar ek kry vir jou ’n glas wyn, of ’n skemerdrankie. Wat sal dit wees?”
Dus is hy gelukkig nie van plan om ’n bottel te bestel en haar te veel te laat drink om haar onverantwoordelik te laat praat nie, besef sy.
“Ek sal ’n glasie droë witwyn drink,” vra sy. “En ’n glas water, asseblief. Ek hou nie van lemoensap saam met kos nie, anders het ek nou dadelik jou raad begin volg.”
Sy glimlag vertroulik vir hom. Sy kry ’n groot, warm glimlag terug. Hy hou ’n oomblik haar blik gevange, totdat sy wegkyk en haar servet oopvou.
“Ek bewonder jou dat jy opgehou rook het,” prys hy haar. “Wat het jou gemaak ophou?”
“Stink asem, ’n kêrel wat dit verpes het, my longe – alles was net gereed vir ophou. En toe ek die besluit geneem het, was ek oortuig daarvan dat ek dit moes doen. Wilskrag is blykbaar die enigste manier.”
“Dis waar! Kry eers jou kop reg en die res kom vanself. Dis dieselfde met oorgewig en ander slegte gewoontes.”
“Wel, só maklik was dit nou nie, maar ek het nog nie een maal toegegee nie.”
“O, maar dan is jou kop deur. En so van koppe gepraat: ek haal my hoed vir jou af.”
Hy haal kamtig ’n hoed af en swaai sy arm galant, sodat sy moet lag. Sy voel hoe sy ontspan en hoe die ergernisse van die dag uit haar vloei. Dié man het ’n lekker loslitaanslag wat haar laat vergeet van die dinge wat haar pla.
“Heerlik,” teug sy aan haar koue wyn. “Gelukkig is die wyn én die glas yskoud.”
“Ek wens ek kon saam met jou wyn drink,” erken hy. “Maar selfs een glasie is taboe, want by my gaan dit baie gou kop toe, al is ek so groot. Veral op ’n nugter maag. Ek weet nie wanneer ek laas geëet het nie.”
“Nou sal ek weer vir jóú moet preek: ’n mens moet gereeld eet,” sê sy en wys vermanend met haar voorvinger. “Kleiner maaltye, en meer gereeld, eerder as een groot ooreet nadat jy verskriklik honger geword het.”
“Ja, suster Els! Jy is natuurlik honderd persent reg. Maar ek was heelmiddag in die teater, en as ’n mens eers geskrop het, is daar nie eintlik tyd vir eet nie.”
Hy leun moeg terug en laat sy blik oor haar gaan, sodat sy effens selfbewus voel. Sy het net vinnig ’n kam deur haar kort swart hare getrek en haar lipstif opgeknap. Sy weet sy lyk gewoonlik goed al het sy so min moeite gedoen. Trudi, haar haarkapper, kán sny: haar hare val mooi in lae en het bitter min ekstra versorging nodig. Dis maklik, so kort. “Pikant,” het Trudi dit genoem. “Franse chic.”
“Jy lyk mooi maar moeg,” is dit asof Wynand haar gedagtes lees. “Wat gebeur in jou lewe? Het jy naweekplanne, vakansieplanne, langtermynplanne, korttermynplanne?”
“Wag, hokaai,” lag sy. “ ’n Ietsie van alles: hierdie naweek na my ma-hulle in Vanderbijlpark. Desembervakansie op Phuket, dalk ’n werkverandering.”
“Dis ’n geweldige spul planne. Jy’s ’n besige vrou. Vertel nog.” Hy leun vorentoe en kyk haar in die oë. “Dit lyk my jy weet wat jy in die lewe wil hê.”
“Nee, dis juis oor ek nié weet wat ek wil hê nie dat ek so baie planne het.”
Voor sy haar kom kry, vertel sy vir hom die agtergrond van die skielike vakansie op Phuket. “Ek was daar. Ek het die verwoesting gesien. Ek móét gaan kyk of die plek en die mense reggekom het.”
“Wat ’n storie!” roep hy verbaas uit. “Om te dink jy was daar met die tsoenami. Dit was een van die grootste natuurrampe in die geskiedenis van die mensdom en as jy dit meegemaak het, moet jy dit sekerlik dikwels herleef. Daar is min Suid-Afrikaners wat eendag vir hulle kinders sal kan vertel dat hulle daardie gebeure beleef het. Maar ek dink dis so reg dat jy weer gaan; om nou weer die gebied te besoek, is belangrik. Dis seker eintlik nódig om daardie hoofstuk af te sluit, sou ek dink.”
“Dis hoe ek ook voel,” erken sy, dankbaar dat hy verstaan. “Ek was laas jaar voor die tsoenami in Bangkok. Ons het die stad bekyk en mooi klere gekoop, maar ons het toe nog nie die eilandvakansie, die tweede deel van ons vakansie soos ons dit beplan het, beleef nie: die eilande, die strande, die palmbome. Net toe ons by daardie deel van die vakansie gekom het, is alles vernietig.”
“Soveel meer rede om terug te gaan.”
“Ja, СКАЧАТЬ