Hart vir 'n heler. Hetta Kotze
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hart vir 'n heler - Hetta Kotze страница 8

Название: Hart vir 'n heler

Автор: Hetta Kotze

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624051909

isbn:

СКАЧАТЬ

      Liana is die volgende oggend by die gemeenskapskliniek besig om die medikasie in die spreekkamer na te gaan toe Brink Fouche instap.

      “Môre,” groet hy kortaf.

      Hy hang sy baadjie agter die deur op en trek sy wit oorjas aan. “Wanneer jy daar klaar is, kan jy maar die eerste pasiënt laat inkom, suster Louw.”

      Liana is dankbaar dat hy met sy rug na haar toe staan sodat hy nie die skok op haar gesig kan sien nie. Daar was ’n verkeersopeenhoping op die snelweg en sy het net haar uniform aangetrek toe sy by die woonstel kom en haar hierheen gehaas, sonder om eers na die diensrooster by die ingang te kyk.

      Haar blik dwaal ten spyte van haar voornemens terug na sy breë rug. Hy is fors gebou en daar skuil krag in sy liggaamsbewegings toe hy na die lessenaar stap en gaan sit.

      Hy trek sy wenkbroue omhoog. “Suster … my pasiënt?”

      Sy vererg haar vir sy sardoniese blik. Sy wonder waar die mansmens uitgevind het dat sy ’n gekwalifiseerde verpleegster is. Sy hou haar gesig uitdrukkingloos en stap met ’n kopknik verby wagkamer toe.

      Hulle eerste pasiënt is ’n bekommerde ma met ’n sproetgesigseuntjie van vyf jaar. Hulle klere het beter dae gesien, maar is kraakskoon en netjies gestryk. Die vrou klou haar handsak op haar skoot vas.

      “Hy kla daar is iets in sy oor, dokter,” sê sy senuagtig, “al van gister af. Ek hoop net nie dis ’n gogga of ’n ding nie. Ek het al lankal vir mister Suleiman, ons landlord, gesê ons moet fumigate.”

      Brink lig met sy flitsie in die kind se oor en reik na ’n tangetjie. “Nee wat, lyk darem nie soos ’n ongedierte nie.”

      Hy trek iets uit die oor en die seuntjie knyp sy oë styf toe. Toe Brink die groen plastiekkarretjie in die bakkie wat Liana vashou, laat val, loer die seuntjie onderlangs na sy ma.

      “Dit was Boeta,” sê hy. “Hy het dit gisteroggend in my oor gedruk.”

      “Wag net tot jou pa van die ver paaie af terugkom!” sê sy ma kwaad. “Jou en Boeta se agterwêrelde sal albei brand.” Sy draai ’n moedelose gesig na Brink en Liana toe. “Ek moes spesiaal by die werk afvat,” kla sy, “en Meneer by die Roadhouse kan so moeilik raak. My man is ’n trokbestuurder en dikwels weg van die huis af.”

      “Daar is darem geen blywende skade in die oor aangerig nie,” paai Brink. “As jy wil, kan ek vir jou ’n brief vir jou baas gee.”

      Die vrou knik dankbaar en terwyl Brink skryf, sit die seuntjie voetswaaiend op die bed. Sy sorgvrye uitdrukking laat Liana ’n glimlag onderdruk. Toe sy opkyk, ontmoet sy Brink se geamuseerde blik oor die vrou se kop.

      Liana stap saam met die twee deur toe en gaan haal die volgende pasiënt.

      Hulle het ’n besige oggend. Hulle doen ’n swangerskaptoets vir ’n senuagtige jong meisie en verwys haar vir berading na ’n welsynwerker. Later ondersoek Brink ’n vrou wat ver swanger is, maar wat nou vir die eerste keer by ’n dokter uitgekom het. Liana kry met moeite vir haar ’n bed by die staatshospitaal.

      Net voordat die kliniek sluit, kom ’n man in ’n vuil blou oorpak met ’n verbinde voet in.

      “Dag, sustertjie,” groet hy vriendelik en stap hinkepink vooruit spreekkamer toe.

      “Wat makeer die voet?” vra Brink toe die man kreunend op die bed gaan sit.

      “Bietjie visgevang, dok. Toe trap ek in ’n hoek.”

      “En dít?” vra Brink toe hy die pappery van die erg ontsteekte toon afhaal en Liana naderstaan met ontsmettingsmiddel.

      “My ouma se resep,” sê die man trots en vee sy verkoueneus met die agterkant van sy mou af. “Boegoebrandewyn en boraks, gemeng met mieliemeel. Dit werk soos ’n bom. Ek sou dit nog ’n bietjie kans gee, maar die ouvrou hou aan karring dat ek maar kliniek toe moet kom.”

      “Dit werk nie vir hierdie toon nie,” sê Brink droog, “jy’t bloedvergiftiging.”

      “Nooit!”

      Hulle pasiënt se selfvertroue taan ietwat toe Liana die nodige vir ’n inspuiting uithaal. Hy loer na Brink en lek oor sy lippe. “Dokter … julle het nie miskien net ’n paar pille nie?”

      “Ongelukkig is dit te laat vir pille.”

      Brink trek die inhoud van die botteltjie in die naald op en hou dit teen die lig. “As ons nie daardie infeksie dadelik keer nie, gaan dit na jou hele voet en been versprei,” verduidelik hy geduldig. “Jy kan in die hospitaal beland, of selfs die voet verloor.”

      Die man skud sy kop. “Ek kan nie nou afvat by die werk nie.” Hy knyp sy oë styf toe. “Spuit maar, dok,” beduie hy.

      “Bly eerder in die toekoms weg van die boegoebrandewyn en mieliemeel af,” maan Brink toe die man in die blou oorpak uithink. “As die kliniek nie oop is nie, sal my spreekkamer hier langsaan oop wees.”

      Die man knik. “Dankie, dok.”

      Hy neem die pakkie pynpille en antibiotikum wat Liana na hom uithou. “Dankie vir jou ook, sustertjie.” By die deur draai hy met ’n verontregte uitdrukking terug. “Die mielies is ook nie meer veilig vandat hulle hormone en goeters gebruik nie. Dis ’n skanne!”

      Liana lag toe hy uit is. “Laas was dit sy arm.” Sy skud haar kop. “Selfde boereraat en selfde resultaat. Jy het ’n wonderwerk verrig, dokter. Laas wou hy niks van ’n inspuiting weet nie.”

      Brink se blik bly vasgenael op haar gesig en Liana draai weg om die bed op te ruim.

      “Hoe gaan dit met Johnnie?” vra hy agter haar.

      “Baie goed.” Sy lê ’n skoon, gevoude handdoek op die bed se voetenent neer en kyk na hom. “Mandla hou vakansie daar tussen die donkie en ganse, en Martha – dis my opsigter se vrou – sorg dat hulle elke dag hulle groente en vleis inkry.”

      Hy vou sy sterk, bruingebrande arms voor sy bors. Sy armhare is dieselfde kleur as sy wenkbroue, merk Liana op.

      “Hoekom loop die kleintjie so kruppel?” vra hy.

      Liana plaas ’n klomp botteltjies in gelid en skuif die instrumente reg op die rakkie.

      “Sy ma se kêrel het hom aangerand toe hy jonger was,” sê sy toe sy terugdraai, “terwyl Johnnie by sy ouma in Natal skoolgegaan het. Toe Johnnie terugkom, was dit te laat, die bene het reeds begin aangroei. Mandla is nooit na ’n dokter geneem nie. Hulle het nie ander familie nie, dis waarom Johnnie hom strate toe gebring het ná hulle ouma se dood.”

      Sy kyk na haar polshorlosie. “Ek dink dit was die laaste pasiënt, ek gaan nou maar die deure toemaak. Die volgende skof begin eers seweuur vanaand.”

      “Waarom het jy nie vir my gesê jy verpleeg nie?” keer Brink haar toe sy wil uitstap. “Daar was genoeg geleentheid terwyl ons Johnnie toegewerk het, en as ek reg onthou, het ek nog gevra ook.”

      Sy trek haar skouers op en glimlag effens. “Ek het nie gedink dis belangrik nie. Buitendien het ek die indruk gekry dat jy my reeds geklassifiseer het. Hier in die stad laat ’n mens maar СКАЧАТЬ