Verbode liefde. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verbode liefde - Malene Breytenbach страница 6

Название: Verbode liefde

Автор: Malene Breytenbach

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050490

isbn:

СКАЧАТЬ het maar ’n oog vir ’n mooi nooi. Die brandstoftenk is nog vol, sê hy. Gelukkig is die motor naby, want ons woon net hier agter.”

      Sy haal sleutels uit ’n laai en gee dit vir Marian. “Goed, dis dan gereël. Laat ek eers vir julle vertel wat julle hier op ons eiland kan doen. Hier is ’n kaart. Kom ek merk vir julle die plekke en gee vir julle brosjures.”

      Met ’n rooi pen maak sy ’n paar kruisies by plekke op die kaart. “As julle in skeepswrakke belangstel, ons het heelwat om ons kus. In die Mull Museum hier in die hoofstraat kan julle na ’n uitstalling kyk.”

      “Ons weet van die San Juan de Sicilia, want Donald het gister daarvan gepraat,” sê Marian. “Ons het afgeluister as hy met sy toergroep praat, want hy het so interessant vertel. Ek het daardie boek van Iain MacLean oor die skeepswrakke gelees. Is hy dalk tans besig om na die San Felipe de Valencia te soek?”

      Mevrou Fraser knik haar kop. “Ja, Iain MacLean het ’n boot, en hulle is glo besig om in die see naby die Glenbogan-kasteel te soek voordat die herfs- en winterstorms begin. Ek glo nie hulle het dié seisoen al iets gekry nie. Daar is mense wat sê die skip bestaan nie regtig nie, behalwe in Iain MacLean se verbeelding. Hy moet al ’n aardige bedrag bestee het om dit te soek. Maar nou ja, die MacLeans kan dit seker bekostig. Gaan kyk gerus na die museum. As julle in skeepswrakke belangstel, sal julle dit baie interessant vind.

      “In Tobermory sal julle alles kry wat julle nodig het. Ons het ’n apteek, viswinkel, wassery, supermark, slagter, bakker en poskantoor. As julle wil visvang, is daar plekke wat visvanggereedskap verkoop. Julle moet net permitte kry. Ons het ’n bank, OTM, kuns- en kunsvlytwinkels, en natuurlik goeie pubs en restourante. Ongelukkig is die ceilidhs of konserte van die somer verby, maar daar is bootritte oral en mense kan gholf ook speel. Binnekort vind die Tour of Mull, ons beroemde motortydren, plaas. Terloops, Iain MacLean het dit al meer as een keer gewen, en ek vermoed hy neem vanjaar weer deel.”

      Marian spits haar ore. “Donald het dit genoem. Dit lyk my Iain MacLean is ’n regte aksieman.”

      “O ja, hy is, maar hy hoef nie die landgoed te bestuur nie en het dus baie tyd vir rondry. Sy broer en Andrew MacTavish, hulle steward, bestuur die landgoed en die boerdery, en Andrew MacNab bestuur die hotel. Waar was ek? O ja, ons het ook ’n heerlike koffiewinkel in Tobermory, met die beste skons en brosbrood denkbaar.”

      “Ons wil eintlik so gou moontlik by ons kothuis by die Glenbogan-kasteel uitkom,” sê Marian. “Ons kan weer later terugkom en ander toere kom bespreek. Ons wil Iona ook besoek.”

      “Goed, julle sal hierdie pad neem. Dis nie ver nie, maar die paaie hier op Mull is smal en kronkelrig, ry dus maar versigtig.” Haar pen wys vir hulle die roete. “Ek hoop julle sal dit baie geniet. Ongelukkig is die weervoorspelling nie te gunstig nie, maar doen soveel soos julle kan so gou soos julle kan. Dis nogal laat in die jaar.”

      “Ons kon ongelukkig nie vroeër kom nie, want Morag is ’n kleuterskoolonderwyseres en sy moes wag dat iemand haar plek inneem vir die laaste maand van die skooljaar. Ek kon ook nie vroeër afkry nie,” verduidelik Marian. “Ek is ’n verslaggewer en ons koerant het ’n personeeltekort. Daarom kan ek ook nie lank vakansie hou nie.”

      “Dis jammer dat julle nie die Hooglandspele in Julie kon bywoon nie. Maar daar is darem baie ander dinge om te doen. Terloops, daardie MacLeans is albei besonder goeie doedelsakspelers, al is hulle lairds. Dis die MacLeans se trots.”

      “Ons weet eintlik niks van hulle af nie, behalwe dat albei skrywers is. Ons het Iain vlugtig in Suid-Afrika ontmoet, by ’n boekefees,” sê Marian.

      Mevrou Fraser se gesig kry ’n vertroulike, byna skelm uitdrukking.

      “Dis nou vir jou ’n interessante spul mense, dié MacLeans. Die ongeluk het hulle ook al bloots gery. Hulle oupa was ’n kolonel in die Argyll and Sutherland Highlanders en hy is sleg gewond in die Tweede Wêreldoorlog. Hy het eintlik ’n halwe man teruggekeer. Gelukkig het hy al ’n seun gehad, Roderick senior. Dié was nou vir jou ’n harde man. Die MacLean-mans was nog altyd almal besonder aantreklik, en sjarmant op die oppervlak, maar hard en ongenaakbaar. Die kolonel se arme vrou het glo by die trappe afgeval in een van die torings van die kasteel en haar nek gebreek. Mense het geskinder dat dit nie ’n ongeluk was nie. Hy is kort daarna self dood.”

      “Hemel, dis vreeslik,” sê Marian geskok.

      “Skinder die mense baie hier?” vra Morag.

      “Almal wil altyd alles van ander weet. Ons is maar ’n klein bevolking, en die doen en late van die hoëlui interesseer almal. Daardie Iain MacLean is ook so roekeloos, ek hoop nie hy kom iets oor nie. Roderick moet alles aan die gang hou, maar Iain is die playboy. Ag, maar ek praat nou gans te veel. Kom ek gaan wys waar julle die motor kan kry. Ek verwag my kollega enige oomblik, maar ek wil nie die kantoor te lank onbeman laat nie.”

      3

      Marian en Morag vind die klein geel Morris Minor waar mevrou Fraser beduie het.

      “Oulik, maar oud, baie oud,” merk Morag wrang op. “Eintlik bejaard.”

      “Ek hoop dis regtig padwaardig,” mompel Marian, want sy sien roeskolle. Die voertuigie lyk beslis asof hy beter dae geken het.

      “Ons kan nie ’n gegewe perd in die bek ruk nie,” sê Morag. “Ons kry dit mos verniet, en ons moet dankbaar wees.”

      “In die bek kýk, niggie, en ons ís dankbaar. Ek het die sleutels, dus sal ek bestuur.”

      Binne is die motor duidelik baie oud en die sitplekke is verslete, maar toe Marian die enjin aanskakel, vat dit gelukkig dadelik. Sy ry terug na die hotel en parkeer voor die ingang. Hulle gaan betaal hulle verblyf en kry hulle rugsakke, wat hulle op die agtersitplek inlaai, want die kattebak is te klein.

      “Ek doop jou Katonkeltjie,” sê Morag toe sy inklim. “Iets soos jy het te veel persoonlikheid om anoniem te bly.”

      Hulle ry by die dorp uit en neem eerste die pad na die noorde.

      “Daardie klomp MacLeans klink maar na ’n vreemde lot, met duistere verledes,” merk Morag op. “Dit maak hulle natuurlik net meer fassinerend.”

      “Inderdaad. Dit lyk asof hulle al baie tragedies beleef het. Dalk is dit hulle straf, tot in die derde of vierde geslag, vir die sonde van die Clearances.”

      “Ag, ek wil nie nou aan lelike dinge dink nie. Is dié plek nie absoluut stunning nie? Die berge, heuwels, lochs en kus. Al die voëls. Die wilde glens, die heide, die varings. Dis so waterryk ook.”

      Marian kyk vlugtig by die venster uit. “Die skoonheid van die omgewing moes dit vir die mense wat hier weggejaag is ’n dubbele verlies gemaak het. Verloor jou tuiste en verloor die skoonheid van dié landskap. O, die son verdwyn agter ’n wolk. Dit word sommer dadelik grou. Ek hoop die reën bly weg, want die pad is nie van die beste nie.”

      Marian maneuvreer die dreunende klein motortjie oor die smal eenbaanpad en dink dat dit moeilik sal wees as ’n toerbus nou uit die teenoorgestelde rigting sou aankom. Daar is net plek vir een motor op dié pad.

      By ’n hoë waterval, Eas Fors, een van die plekke wat mevrou Fraser aangedui het, hou hulle stil en kyk rond. Die wolke pak egter saam en dis koud. Hier is die bome krom en windverwaai.

      Vervolgens ry hulle na die dorpie Dervaig. Mevrou Fraser het ’n mini-Stonehenge daar naby gemerk.

СКАЧАТЬ