Название: Volbloedvrou vir 'n vaalseun
Автор: Kobie Smit
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624050407
isbn:
Mitzi is glad nie op haar mond geval nie. “My goed is my goed en my man is my man, en veral dekoratiewe gasvrouens moet liewer ver van hom af bly as hulle weet wat goed is vir hulle. Ek is nou terug.”
Sy staan op voor Daan hierop kan reageer. Sy praat ook net ’n paar woorde met Tessa voor sy terugkom tafel toe.
Tessa begin verhoog toe stap en Mitzi klap haar hande opgewonde soos ’n klein kindjie.
“Nou vir die Ken-mekaar. Ouens, dit gaan vet pret wees!”
Tessa gaan staan op die verhoog met ’n mikrofoon in haar hand en dit raak stadigaan stil in die saal. Sy verwelkom almal en praat ’n bietjie oor verandering en groei, voor sy meer vertel van die Ken-mekaar.
“Ons wil graag hê elke oudleerling wat vandag hier is, moet vir ons ’n vinnige opsomming van sy lewe die afgelope tien jaar gee. Waarheen is jy ná matriek en wat het jy gedoen? Wat het alles met jou gebeur? Enige besondere prestasies waarop ons trots kan wees? Wat doen jy deesdae? Is jy getroud en het jy kinders? Waar woon jy nou? Daardie soort ding. Julle kan sommer by julle tafel bly staan. O ja, gee maar jou naam ook. Mense verander baie in tien jaar en ons wil darem weet wie met ons praat. Ons begin sommer daar in die hoek. Baie dankie.”
Daarmee beduie sy na Fransien-hulle se tafel, en stap grasieus onder applous van die verhoog af.
Fransien se oë spring amper uit hulle kasse van skrik. Sy was bewus van die Ken-mekaar, het haar trouens al by voorbaat verlekker in die reaksie wat haar toesprakie gaan ontlok. Maar heel eerste?
Terwyl sy nog verbouereerd na woorde probeer soek, staan Mitzi kalm op.
“Goeiemôre, almal. Ek is Mitzi Dreyer en ek is – soos julle kan sien – ongeveer die helfte van die Mitzi Coetzee wat julle onthou. Ná skool het ek onderwys gaan studeer en teruggekom hierheen om te kom skoolhou en ’n man te vang. Met die eerste was ek nie baie suksesvol nie, met die tweede wel. Die hunk hier langs my is Daan, my gewillige slagoffer. Toe ons ontmoet het, het ek nog soos ’n mosbolletjie gelyk, maar hy het my behandel asof ek ’n porseleinpoppie is. Dit het natuurlik ’n identiteitskrisis by my laat ontstaan en ek moes besluit wie ek nou eintlik is. Tans is ek ma van ’n pragtige tweeling van vier jaar, porseleinpop vir Daan en huisvrou in my vrye tyd, wat gelukkig maar min is!”
Sy gaan sit onder luide toejuiging en gelag.
Die ys is gebreek en Fransien het kans gehad om tot verhaal te kom. Sy is dankbaar dat haar stem nie haar innerlike bewing weerspieël toe sy begin praat nie.
“Ek is Fransien de Swardt, en ek het ná matriek saam met my ouers stad toe getrek. Aanvanklik het ek by ’n prokureur gewerk, maar ek het mos hierdie geneigdheid om nie my mond te hou wanneer ek moet nie, soos op skool ook maar. Om moord in die prokureurskantoor te voorkom, het ek ses jaar gelede besluit om iets anders te probeer. Sommige van julle kan seker onthou dat ek houtwerk geneem het. Te danke aan die onbaatsugtige toewyding en onderrig van meneer De Lange, ons gewaardeerde houtwerkonderwyser, kon ek my eie meubelwinkel begin, en ek is dankbaar om te sê dat dit besonder goed gaan daarmee. Ek woon nog steeds in die stad, het my eie huis in ’n stil buurt en wonderlike bure, naamlik my eie pa en ma. Ongelukkig kon ek nog nie ’n man vastrek soos Mitzi nie, maar sy het belowe om my ’n paar wenke te gee!”
Hierdie keer gaan die toejuiging en gelag gepaard met ’n paar wolwefluite, wat Fransien bloedrooi laat bloos.
Mitzi hou haar duim in die lug, maar is nie heeltemal tevrede nie. “ Vir wat sê jy nie jy is die eienaar van Ebony nie?” fluister sy verontwaardig.
“Moenie bekommerd wees nie, ek bêre dit vir later,” probeer Fransien haar kalmeer.
Maar Mitzi is steeds nie tevrede nie. “Hoekom?” hou sy koppig vol.
Fransien lag net. “Tessa is een van Ebony se kliënte,” is al wat sy bereid is om te sê, voor sy met haar vinger voor haar mond beduie dat hulle moet luister na die volgende spreker.
Snaaks dat ’n mens twaalf jaar op skool is en daar net ’n handjie vol mense is wat ’n impak op jou lewe maak in daardie tyd, mymer Fransien ná ’n ruk. Die sprekers wat sover na haar aan die beurt gekom het, was bekend, maar dis ook al. Sy het nooit na skool oor hulle gewonder of aan hulle gedink nie.
Effens verveeld begin sy rondkyk. ’n Ent van hulle af sit ’n paar onderwysers. Sy skrik effens toe sy in die houtwerkonderwyser se oë kyk.
Voor sy Mitzi se aandag kan trek, hoor sy haar onderlangs sê: “Sjoe, kyk vir Langes, dit lyk of hy jou wil doodkyk! Geen wonder nie, jy was darem lekker sarkasties oor sy sogenaamde toewyding en onderrig.”
“Ek moes dit seker nie gesê het nie, maar die versoeking was te groot. Hy het my lewe darem net te erg versuur op skool,” fluister Fransien terug.
Dan verhelder haar gesig toe die volgende spreker opstaan. “Jy’t nie vir my gesê Barnie gaan hier wees nie. Hy het dan altyd gesê hierdie plek sien hom nooit weer nie.”
Mitzi se oë is ook nou op die nuwe spreker. “Kan jy hom kwalik neem? Sy skooljare was nou nie juis ’n bed van rose nie. Hy het op die laaste nippertjie laat weet hy kom. Seker maar kom spog, soos jy. Sjuut nou!”
Barnie het verander – ten goede, dink Fransien. Die skraal, senuagtige seun met die seerkryoë is nou ’n aantreklike man met genoeg selfvertroue. Hy staan regop en praat gemaklik. Sy skouers is breed en sy pak klere is ooglopend spesiaal vir hom gemaak. Sy luister met belangstelling terwyl hy praat.
“Goeiedag, almal. Ek is Barnie Nel, en julle sal my onthou as die nerd van tien jaar gelede. Ná skool het ek in die bank gaan werk, ter wille van oorlewing. ’n Gawe bankbestuurder het my belangstelling in die aandelebeurs opgemerk en my ongemerk in daardie rigting begin stuur. Met die hulp van ’n paar ander gawe mense het ek daar ’n holte vir my voet gevind en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Die aandelebeurs het vir my ’n lieflike huis in ’n goeie buurt gegee, sorg dat ek altyd my droommotor kan ry en sit elke dag kos op my tafel. Die gawe bankbestuurder het selfs sy pragtige dogter aan my toevertrou. Sy kan ongelukkig nie vandag hier wees nie, maar ek verseker julle: ek het die mooiste vrou in die hele wêreld!”
Hy gaan sit onder applous en uitroepe soos “Bulperd!” en “Jis, ou Barnie!”
Dit voel vir Fransien of daar meteens skille van haar oë afval.
“Jy lyk snaaks. Wat is fout?” Mitzi lyk bekommerd.
Fransien praat saggies, half ingedagte. “ Weet jy, Mitzi, ek het altyd geglo al die kinders by die skool haat vir my en Barnie. Jy was die enigste een wat ons nie getreiter het nie. Maar noudat ek terugdink, besef ek dat daar eintlik net twee treiteraars was, en die ander was te bang om hulle teë te gaan. Hulle het net saamgespeel as hulle nie anders kon nie. Maar daardie twee het ons lewens elke dag vergal, tot dit vir ons gevoel het die hele wêreld is teen ons. Kyk net die reaksie op ons toesprake noudat daardie twee nie meer invloed op die ander het nie. Twee bedorwe brokkies het ons sorgvrye kinderjare gesteel. En ons het dit toegelaat!”
Mitzi knik begrypend. “Tessa en Chris. En praat van die duiwel, nè?”
Die persoon tans aan die woord is Chris de Wet. Ooglopend ryk, aantreklik en baie vol van homself. Die humor wat by die meeste ander deurgekom het, ontbreek by hom totaal. Hy lees van ’n kaartjie af en vertel langdradig van al die grade wat hy behaal het, belangrike poste wat hy al beklee het, merietetoekennings wat hy ontvang het en groot maatskappye wat tevergeefs СКАЧАТЬ