Die paradysman. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die paradysman - Ettie Bierman страница 6

Название: Die paradysman

Автор: Ettie Bierman

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050384

isbn:

СКАЧАТЬ Nêrens is ’n vrouehand te bespeur in ’n tafellappie, ’n paar tydskrifte of ’n pot met blomme nie. Rheeder se vrou is óf ’n sersantmajoor óf ’n kliniese tegnikus. Welkome afwisseling is Griet, wat bo verwagting in die huis toegelaat word. Sy maak haar tuis op die mat by Tinka se voete en gee haar hand ’n lek.

      Tinka vryf haar ore. “Hoe lyk jou nooi?” vis sy uit. “Mooi of lelik? Vet of maer? Gaaf of kwaai?”

      Die hond stel egter meer in die voorkoms van die vlooi belang wat sy op haar stert ontdek het.

      Rheeder kom in met twee bekers koffie waaruit stoom trek. “Met wie praat jy?”

      “Met jou vrou. Sy het ingeloer om my te groet,” antwoord sy sedig.

      “Het my vrou ingeloer?” herhaal hy.

      “Ja, ons het lekker gesels.”

      Hy laat hom nie uitlok nie. Hy gaan sit in die stoel oorkant haar, neem ’n sluk koffie en kyk oor die beker se rand na haar met ’n uitdrukking op sy gesig wat sy nie kan ontleed nie.

      Griet flap haar ore en snuffel nog ’n paar vlooie op haar ribbekas uit. Sy kort ’n bad en ’n goeie borsel, dink Tinka.

      “Wanneer kom die babas?” verneem sy.

      Sy weet nie waaraan Rheeder gedink het nie, maar sy hand ruk en hy stort kokende koffie oor sy broek.

      “Dêmmit!”

      “Oe, dit brand seker. Kan ek help?” bied sy aan.

      “Hoe?” Hy vryf onbeholpe oor sy skoot en kyk vreemd na haar.

      Sy besef ook die koffie het op ’n ongemaklike plek gestort en sy sal liewer nie waag om dit te probeer droogvryf nie. Sy onderdruk ’n lag en vra vroom: “Deur ’n lap in die kombuis te gaan haal? En sommer te kyk of die aartappels en pampoen nie dalk brand nie.”

      Hy dink nie dis snaaks nie. Hy pluk sy sakdoek uit en vee sy broek droog. “Watse babas het jy bedoel?”

      Sy frons, en dán eers kliek sy … Dis snaakser as netnou se koffie oor sy skoot. Haar giggel borrel oor in ’n skaterlag.

      Hy lyk agterdogtig. “Wat is die grap?”

      “Jy.” Sy neem ’n mond vol koffie. “Wat het jy gedink?”

      Hy hou hom dom. “Waarvan?”

      “Van die babas. Het jy gedink dis na joune en jou vrou s’n wat ek so voorbarig uitvra?”

      Sy wange kry ’n kleur en hy lyk verleë. “Natuurlik nie. Natuurlik het ek geweet dis Magriet s’n wat jy bedoel.”

      Tinka besluit om hom nie verder te treiter nie. “Má Griet … Slim van jou. Jy was altyd goed met woordspelings, ek onthou dit.”

      Rheeder ontspan effens. Hy kelk sy hande om sy koffiebeker terwyl hy haar onderlangs dophou. Sy is drie jaar ouer as toe hy haar laas gesien het, en drie keer mooier. Met ’n tien keer erger uitwerking op sy hormone as toe hy destyds by die bib rondgehang het. Dêmmit en verbrands! En hy het gedink hy is oor haar en sy is geskiedenis …

      Wat het hom besiel om te sê sy kan die woonstel kry? Hy was mal; hy weet mos dis seerkry soek. Net sodra hy nuwe drome begin droom, smyt sy hom weer oorboord vir ’n ander ou. ’n Ander casanova … Waar is die vent in elk geval? Hy wil nie weet nie en hy sal nie vra nie, neem hy hom voor.

      Hy dwing sy gedagtes in ’n ander rigting. “Ek het in die koerant van die vliegtuigongeluk gelees, en van jou pa se dood. Ek is jammer.”

      “Dankie.”

      “Ons twee het goed klaargekom.”

      “Julle het, ja.”

      “Hy het my aanvaar as sy toekomstige skoonseun.”

      Sy haal haar skouers op en speel met Griet se ore.

      “Is dit hoekom jy teruggekom het – toe jy van die ongeluk gehoor het?”

      “Deels, ja. Dit was ’n sameloop van omstandighede. My sakevennoot in Londen het uitgetree en ek was nie lus om alleen aan te gaan nie. Londen se weer het my ook begin onderkry. Toe gebeur die ongeluk – digte mis en die radar wat foutief was. Die vlieënier is op slag dood en my pa drie dae later.”

      “Was jy betyds om nog met hom te praat?”

      Sy byt op haar onderlip. “Hy was in ’n koma, waaruit hy nie wakker geword het nie. Maar ses maande tevore het ek vir hom uit Londen geskryf. ’n Lang e-pos waarin ek gesê het ek is jammer dat ek nie beter verduidelik het waarom ek destyds saam met Eugene weggegaan het nie. Vandag is ek dankbaar oor daardie dogter-pa-brief. Bly ook dat hy teruggeskryf het. Hy het gesê hy is ook jammer, en spyt dat hy nie meer geluister en minder veroordeel het nie. Hy’t erken dat hy ’n afwesige pa was in die tye van my lewe wat ek hom nodig gehad het … Daarna het ons gereeld vir mekaar geskryf en gebel en rustig gesels. Ek het gedink daar is nog baie tyd vir ons twee, maar die lewe loop sy eie draaie. Die lewe het hom hard gemaak, tog was hy ’n goeie pa vir my.”

      “Dis jammer hy het nie weer getrou ná jou ma se dood nie.”

      “My pa was met sy konstruksiemaatskappy getroud, daar was nie plek vir ’n vrou en kinders nie. Besigheid was sleg en die laaste twee jaar was dit ’n stryd om die boeke te laat klop. Die staalbedryf het in duie gestort en hy het ’n skelm makelaar gehad wat sy vertrouensposisie misbruik het.”

      Sonder om te vra, gaan haal Rheeder nog koffie. “Hoekom het jy nie in die huis aangebly nie? Dit was ruim en gerieflik.”

      “Die huis is op ’n bankrotveiling verkoop, maar dit was in elk geval te groot vir my.”

      “En dis hoekom jy ’n woonstel wil hê? Jy kan dié een kry as jy dit wil hê, Tinka.”

      Haar pa se dood was so ’n skok, en sy mis Eugene. Sy verlang na hom en wens sy kon die horlosie terugdraai … Nou het sy nog boonop vir Rheeder ook raakgeloop. Dit alles tegelyk is te veel. Sedert sy terug is, het sy min slaap gekry met die begrafnis, die winkel, die veiling en ander reëlings. Sy is suf en haar brein voel afgestomp.

      “Ek sal laat skoonmaak. Jy kan môre intrek as jy wil,” bied Rheeder aan.

      Dit sou makliker gewees het as hy aanhou verwyt het. As hy gaaf en vriendelik is, wil sy in ’n bondeltjie opkrul en huil. Sy is moeg gestry. Moeg gesoek en gesukkel …

      “Reg so?” vra hy.

      Sy aarsel, dan knik sy.

      Dit was ’n fout! Sy skrik vir haarself omdat sy so maklik toegegee het. Waarin het sy haar begeef? In kookwater tot bo-oor haar kop. En sy gaan meer as net haar vingers verbrand …

      Sy vee met die agterkant van haar gewrig oor haar oë, waar die trane vlak lê. Sy het vrede gemaak met haar en Eugene se verhouding wat in ’n droewige doodloopstraat beland het. Hoekom nou opeens verlang en wens hy was hier, wens hy was weer soos voor die seepbel gebars het? Soos toe sy in haar naïwiteit geglo het Parys is net ’n ander manier om Paradys te spel. Is dit Rheeder wat die herinneringe opgeroep het? Die skok om hom weer te sien, en die assosiasie met hul sorgvrye СКАЧАТЬ