Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray страница 17

Название: Ena Murray Omnibus 26

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624049548

isbn:

СКАЧАТЬ beter as ek om spoke te vang.”

      “Wat praat jy tog?”

      “My kollega, die Slams. Tant Liefie sê die Slams is eintlik die regte dokter vir jou. Miskien moet ek hom tog maar ontbied.”

      Sy blik hom vererg aan. Tant Liefie praat gans te los. Sy roer onrustig. Wat sou tant Liefie alles teenoor hom kwytgeraak het? Sy staan op. “Jy is nie reg wys nie, Paul van Drüten.”

      “Dit het jy my al voorheen vertel. Kom.”

      Toe hulle by die hospitaalhekkie uitry, vra Anmar: “Waar bly hulle?”

      “Voorlopig in my pa se huis. Hulle kan eers volgende maand ’n huis kry.”

      “Maar jy bly dan ook daar! Hoe kan sy jou dan vir ete nooi in jou eie huis?” Sy byt haar onderlip vas. Genugtig, sy laat haar darem maklik deur hierdie man vang. Hy antwoord nie, omdat ’n antwoord duidelik nie nodig is nie en sy vra weer opnuut vererg: “Hoekom is dit vir jou so dringend belangrik dat ek Clive se vrou ontmoet? Wat voer jy in die mou?”

      Hy trek weg by ’n stopstraat en antwoord. “Jy sal sien. Ten minste, ek hoop jy sal.”

      “Jy praat in raaisels.”

      Hy loer vlugtig na haar. “Wil jy my sê dat jy en Clive nog nie een keer oor sy vrou gepraat het sedert hy hier aangekom het nie?”

      “Nee. Ons het nie. Ek weet jy glo my nie, maar dit is so. Ek het net gevra hoe gaan dit tuis en toe sê hy onder omstandighede goed.”

      “En jy het nie gewonder wat hy daarmee bedoel nie?”

      “Nee. Ek . . .” Sy swyg skuldig. Sy was so vol van haarself, vol van haar eie bevryding en die wonderlike gevoel van los wees van die verlede, dat sy nie werklik aandag gegee het aan wat Clive gesê het nie.

      Langs haar verstroef Paul van Drüten se gesig. Dan hou hulle voor die huis stil en sy voel hoe hy haar aan die elmboog uit die motor help.

      Daar is ’n nare, hol gevoel op die krop van haar maag en sy is dankbaar vir sy arm wat haar ondersteun toe hulle die huis binnestap. Haar vingers knel spontaan sy sterk hand stywer vas toe hulle in die sitkamerdeur verskyn en sy op die vrou in een van die stoele neerkyk.

      Sy neem alles in ’n oogwenk waar – die blonde hare wat ’n bietjie slordig met ’n rekkie saamgevat is, die paar los hare wat oor die voorkop hang, die te maer gestalte wat netjies geklee is, hoewel die rok los en onooglik is, die ongegrimeerde gesig met oë wat diep in hulle kasse versink is, die geel kleur van die vel wat te styf oor hoë wangbene span, die rimpels wat beslis te vroeg op die voorkop en om die mond en oë keep.

      Dit kan nie Clive se vrou wees nie, dink sy verbyster. Dit kan nie die vrou wees wat haar verloofde so te sê op die vooraand van haar troue van haar gesteel het nie! Dit kan nie hierdie vrou wees wat Clive van haar afgerokkel het nie!

      “Goeienaand, Louise. Ek is jammer ons is ’n bietjie laat, maar daar was ’n klein oponthoud by die hospitaal. Dit is nou ons matrone, Anmar Cloete. En dis Louise, Anmar.”

      Versteen sien Anmar hoe die vrou uit die stoel opsukkel en onvas nader staan, asof sy moeilik beweeg. Dan sien sy die hand wat na haar uitgestrek word, slap en willoos, die duidelike tekens van semiverlamming. Sy voel Paul se hand teen haar rug druk en sy beweeg werktuiglik vorentoe, neem die willose hand.

      “Goeienaand, Louise. Baie welkom by ons op Kruisrivier.”

      Die moeë oë glimlag na haar op, maar die mond bly stram. “Baie dankie, matrone. En aangename kennis. Kom sit, dan drink ons iets terwyl ons vir Clive wag. Hy is uitgeroep na ’n kind wie se neus glo vreeslik aan die bloei gegaan het. Hy sal seker nou-nou terug wees.” Sy sukkel weer terug na die stoel en Anmar voel hoe Paul haar na ’n stoel du. “Sal jy vir ons iets gooi, Paul?”

      “Seker.”

      Anmar ontvang haar glas en soek desperaat na iets om te sê, maar dis of sy, soos Clive nou die aand, opgedroog het: asof alles in haar stom en lamgelê is. Maar Paul se rustige stem dra hulle deur die klein stiltetjies tot Clive skielik in die deur verskyn.

      “Jammer dat ek julle laat wag . . . Anmar!” Hy is onverhoeds betrap en ’n oomblik heers daar ’n ongemaklike swye. Anmar kyk versteen hoe Clive roerloos in die deur bly staan en Paul sit diep weggedoke in sy stoel.

      Dis Louise wat die swaar stilte verbreek. “Ek het hulle vir ete gevra vanaand. Jy is nie te erg laat nie. Ons sit nog met ’n drankie. Skink gerus vir jou ook iets, dan gaan kyk ek solank of alles in die kombuis reg is.”

      Sy sukkel orent en Anmar maak ’n spontane gebaar om op te staan en haar te help, maar staalvingers om haar voorarm hou haar op die stoel vasgepen en toe sy haar kop draai, skud Paul syne woordeloos. ’n Trilling van wat weet sy self nie gaan deur haar en sy voel hoe die vingers sag, kalmerend oor haar vel streel. Vir die tweede keer vanaand moet sy stry teen die trane. Sy weet nie hoekom nie, waarom nie, maar dis of sy in ’n put van hartseer afsak terwyl sy luister hoe Clive se vrou se slepende voetstappe in die gang wegsterf.

      Clive se gesig skuif in haar gesigsveld in toe hy op die stoel plaasneem waaruit sy vrou opgestaan het, en sy besef nie dat hulle ewe bleek vertoon nie.

      “Weet sy van my, ek bedoel . . . wie ek is?” kan sy nie help om te vra nie. Sy moet weet.

      Hy skud sy kop, neem ’n sluk uit sy glas, leun dan terug in sy stoel en sluit sy oë. “Nee. Ek het haar nooit van jou vertel nie. Nie tot vandag toe jou naam genoem nie.”

      Anmar sluit haar oë in stille dankbaarheid, maar dan vlieg hulle weer oop toe die stil man tussen hulle se stem opklink.

      “Maar sy weet.”

      Albei kyk verskrik na Paul en hy kyk kalm terug.

      “Hoe kan sy weet? As niemand haar vertel het nie . . .”

      “Ék het haar vertel, Clive.”

      “Maar hoekom? Hoekom! O, Paul van Drüten, as jy net wil ophou om jou neus in my sake te steek!” Anmar voel sy kan die huis uithardloop.

      Ook Clive frons ontevrede. “Daar was geen nodigheid . . .”

      “Louise is geen gek nie, Clive. Sy is ’n intelligente vrou. Al het ek haar ook nie vertel nie, sou sy dit onmiddellik agtergekom het met jou verskyning. Sy het genoeg om te dra, sonder om nog te wonder oor jou reaksie.” Die groen oë kyk hulle beurtelings vas aan. “Is daar rede hoekom julle die feit dat julle vyf jaar gelede verloofdes was, geheim wil hou? Wat daarvan? Hoekom mag sy dit nie weet nie?”

      Clive sak weer terug in sy stoel, sy mond bitter. “Ag, ek het maar net gedink . . .” Hy neem ’n laaste teug uit sy glas. “Ag, dit maak nie saak nie.”

      Anmar se blik sak mat toe. Ja, hoekom mag hierdie vrou nie weet nie? Soos Paul tereg gesê het – wat daarvan? Sy kyk weer op, vas in die peinsende groen oë. Of is daar iets wat julle twee wil wegsteek? vra hulle duidelik en sy swaai haar kop vinnig weg. Natuurlik is daar nie!

      Die ete is, anders as die gasvrou se voorkoms, keurig en smaaklik. Was dit nie dat daar telkens ’n lastige knop in Anmar se keel gekom het nie, sou sy dit baie geniet het. Maar sy is dankbaar toe die koffie en likeurs verby is en Paul opstaan.

      “Dis СКАЧАТЬ