Название: Hans gee Herklaas horings
Автор: Rudie van Rensburg
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780795802331
isbn:
3
Vaaltuin Marais se sketterstem sny deur murg en been.
“Die kraak in my kamermuur is nou al so groot dat ek my arm daardeur kan druk. Dis oor ’n paar maande winter en wat gaan ek dan doen? Soos Racheltjie de Beer verkluim? ’n Arktiese ysdood sterf? Of het julle ’n ander vorm van bevriesing in gedagte vir my?”
Hans sluit die kantoordeur met ’n kreun en steun oop en gaan sit agter die lessenaar. Die vyf ander beswaardes val agter Vaaltuin in.
“ ’n Span bouers staan in die wegspringblokke gereed om al die krake in Huis Madeliefie te kom regmaak. Ons wag net op ’n tjap van die bankbestuurder, dan is die lening vir strukturele verbeterings aan die plek goedgekeur,” sê Hans. As deel van ’n afvaardiging was hy teenwoordig toe die lening aangevra is. Die bestuurder het gesê die kanse vir goedkeuring is gering, die tehuis skuld al te veel. Maar dít hoef Vaaltuin nie nou te weet nie. Anderdag se probleem.
Voor hy sy baberbek weer kan oopmaak, sê Hans luid: “Next!”
Sy moed sak in sy skoene. Ou Nella Vos is ’n gewoonteklaer.
Die los velle aan haar nek skud soos ’n boomkoggelmander s’n toe sy begin praat. “Twee vloerteëls in my kamer én die spieëltjie bo my wasbak is gekraak.”
“Krake, krake, krake,” prewel Hans. “Ons kan jou nie nou ten dienste wees nie. Ons soek tans vloerteëls, maar kry nêrens in die Kaap van die soort wat in ons kamers is nie. En ek sit jou naam op die waglys vir ’n nuwe spieël.”
Hy maak die lessenaar se boonste laai oop en trek ’n vel papier uit, pen Nella se naam neer. “Jy is nommer vier-en-dertig. Ons vervang die spieëls stuk-stuk soos ons begroting dit toelaat. Gewoonlik so drie ’n maand.”
Nella sug.
“Next!” roep Hans.
Voëltjie Trollip kom met sy gebruiklike jakkalsdraffie nader. Die enkele haar op sy kop wieg soos ’n lugdraad heen en weer.
“Ek het al van gister af nie elektrisiteit in my kamer nie.”
Hans trek nog ’n vel papier uit die boonste laai uit, beskou dit aandagtig. “Jy’s net betyds met jou klagte, want ons het nog een lantern in die stoor oor. Ek sal reël dat Breker dit vir jou kom aflewer.”
Voëltjie tuit sy budjie-mondjie verontwaardig. “Maar ek het nie nét lig in die kamer nodig nie!”
Hans rol sy oë. “Jy hoef seker nie ná jy soggens gestort het, daai een haar van jou droog te blaas nie?”
Voëltjie snork vies en stryk die lugdraad plat. “Nee, man, sonder krag kan ek nie kookwater vir koffie maak nie.”
“Gaan kook jou koffiewater by jou buurman. Daar is nie nou geld in die begroting vir elektriese werk nie. Next!”
Klaas Benadie stap nader. Dié se broekspype sit vanoggend weer minstens ’n voet bo sy skoene. Lyk altyd of hy te diep in sy broek gespring het.
Die oud-diamantprospekteerder van Garies vee eers die ontbyt se papkrummels van sy vlesige lippe af. “Die plafon in my kamer lek nou op twee plekke.”
“Hel, maar jy’s gelukkig!” sê Hans.
Klaas trek sy oë op skrefies. “Gelukkig?”
Hans knik. “Volgens ons opname van ’n maand gelede is daar gemiddeld vier lekplekke per kamer.”
Klaas se lippe vibreer liggies. “Nou wát gaan julle daaraan doen?”
“Ons wag op die bankbestuurder se tjap. Dieselfde span bouers wat die krake kom regmaak, sal die gebreekte dakteëls vervang. Dit sal die lekkrisis besweer. Next!”
Careltjie Conradie huiwer ’n oomblik, draai dan om en stap saam met Klaas uit, maar by die deur kyk hy beskuldigend terug na Hans. “My plafon lek soos ’n gieter. Op séwe plekke.”
Hans steun. In die winter gaan die plek toe onder die water wees. Hy het juis gisteraand ’n nagmerrie gehad oor hoe hy skubatoerusting vir die tehuis aankoop nadat die verdrinkings dubbelsyfers geslaan het.
Die laaste beswaarde tree nader.
Hans is verlig om te sien dis Liesbet, een van sy vertrouelinge en ’n gewese kabinetslid wat gehelp het om matrone Van Dussen se diktatuur omver te werp. Haar uitrusting verras Hans nie. Dis ene Liesbet. Haar rok se helder kleurspatsels skree teen mekaar en bots ook gruwelik met die groen en pers tinte in haar kapsel.
Sy trek ’n stoel met een van haar beringde vingers nader terwyl die tallose stringe krale om haar nek saggies klingel, en gaan sit.
Hans glimlag. “Kom jy ook kla?”
Sy skud haar kop. “Nee, Hôns, ek is nie hier om te klô nie,” sê sy in daardie kenmerkende Pretoriaanse aksent. “Ek’s hier om ernstig met jou te kom prôt.”
Hans lig sy wenkbroue. “Oor wat?”
“Oor jou.”
“Oor my?!”
“Jô, Hôns, oor jóú.” Sy sug. “Dis vir my bôie moeilik. Jy was die môn wôt ons uit die drôkoniese kloue van môtrone Vôn Dussen verlos het, wôrvoor ons jou ewig dônkbôr sôl wees. Môr nou … tree jy ôl nét soos Vôn Dussen op.”
“Soos Van Dussen?!”
Sy knik. “Kyk môr net hoe jy vônoggend se klôgtes hônteer het. Sonder enige empôtie vir die inwoners.”
“Mens word moeg om heeldag oor kleinighede gekapittel te word.”
“Dis nie vir hulle kleinighede nie, Hôns. Dit rôk hulle lewenskwôliteit.”
Hans wil instinktief kapsie aanteken, maar die woorde besterf op sy lippe. Liesbet se opmerking dra die stempel van waarheid. Hy sug. “Ek’s net sat vir hierdie voortdurende stroom …”
Liesbet hou haar hand op. “Jy hoef nie te verduidelik nie, wônt ek besef dit. Dôrom wil ek voorstel dôt ek en Môtjie jou soms ôflos sodôt jy jou bôttery kôn herlôi.”
“Maatjie?”
Sy knik. “Jô, hy wôs mos ’n boekhouer op sy dôe. Begrotings is sy kos.”
Dalk nie so ’n slegte idee nie, dink Hans, wat al amper vergeet het Maatjie was sy minister van finansies in die versetkabinet. Hy kom orent uit die stoel.
“Ons kan vanmiddag daaroor praat. Ek het net ’n dringende ding om nou in my kamer te gaan afhandel.”
Op pad kamer toe hang Hans se vlerke. Liesbet se woorde het ’n teer snaar aangeraak, want sy het hom onbewimpeld die waarheid vertel. Hom tot rede gebring, moet hy erken.
СКАЧАТЬ