Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale - Deon Meyer страница 3

Название: Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Публицистика: прочее

Серия:

isbn: 9780798169479

isbn:

СКАЧАТЬ Dit is waar mense sit en kyk vir ander mense wat konsert hou.”

      “Teater.”

      “Ja. Teewater. Wanneer vat jy my ma teewater toe?”

      Ek het nagedink oor my verhouding met Buks Barnard. Ek het gedink hy is nie stout nie. Net onverwags. Ek het gedink ek sal hom verduur, selfs nou en dan kan waardeer. Soos met die regpak van my ateljee. Maar dit was blykbaar nie genoeg vir Meneer Verrassing nie.

      “Daar is seker baie ander mans wat jou ma teater toe wil vat.”

      Hy sug. “Ja. Dit is omdat sy mooi is. Maar sy wil nie gaan nie. Sy sê sy wag tot sy iemand ontmoet wat so oulik soos ek is.” Hy vou sy arms en sug swaar, asof sy oulikheid ’n juk op sy skouers is. Dan kyk hy op.

      “Sy hou van jou,” sê hy asof dit heeltemal sin maak.

      “Hoe weet jy?” vra ek voor ek kan keer.

      “Sy kyk na daardie prentjie van jou. Op snaakse tye, dan gaan staan sy voor die prentjie en dan kyk sy en dan kyk sy hier na jou huis se kant toe.”

      “O.”

      Hy spring van die tafel af, skielik opgewonde. “Jy doen mos nooit iets op Vrydagaande nie. Ek sal vir my ma gaan vra of sy saam met jou teewater toe wil gaan.” Hy hardloop deur toe.

      “Buks!”

      Hy steek vas by die deur, kyk terug met groot, onskuldige oë, wagtend dat ek nog iets moet sê.

      “Sê vir haar so teen sewe-uur.”

      * * *

      Die eerste keer neem ek vir Monica Barnard fliek toe. Ons sit elkeen met ons hande versigtig op ons skote, die gesprek veilig en oor neutrale onderwerpe. ’n Tienderjarige oppasster bly by Buks.

      Die tweede keer gaan ons “teewater” toe, ’n Nico Lewis-komedie waar ek lag sonder dat ek dit agterkom, en agterna gaan eet ons wafels met roomys en stroop, en ons gesels tot ons huis toe moet jaag om die oppasster af te los.

      Die derde keer gaan ons simfoniekonsert toe en ek hou haar hand vas, en toe ek haar by die deur groet, soen sy my op die wang. En toe kan ek dit nie hou nie en ek soen haar op haar mond, en ek skarrel huis toe met ’n hart wat soos ’n ballon styg.

      Ons neem vir Buks die vierde keer saam, ’n Vrydagaand, na ’n Disney-tekenprent, en ek moet hom van die motor af na die huis toe dra toe ons terugkom, want sy lyfie is slap en warm van die slaap. Ek sit hom in sy bed terwyl Monica die ketel aanskakel, en toe ek in die kombuis kom, sê sy sy is honger en vra of ek ook ’n broodjie wil hê. Ek sê asseblief, en sy pak die brood en botter, kaas en konfyt uit, en ons sit gesels-gesels elkeen ons eie broodjies en bou, tot ek later ’n paar pitjies vyekonfyt van haar onderlip moet afsoen en ek vir die eerste keer my arms om haar kan sit en haar teen my vashou en my hande oor haar dik, swart hare kan laat loop.

      * * *

      “Jy kan maar nog slaap. Ek sal net vir jou kyk,” sê hy te vroeg die volgende oggend, met ’n stem wat bewe van ingehoue opgewondenheid.

      Hy sit langs my bed, op ’n stoel, stip starend na my; sy hande hou iets op sy skoot vas.

      Ek kreun en draai om. “Hoe laat is dit?”

      “Die lang arm is bo en die kort arm is onder. Dit is al baie laat.”

      Ek kreun weer.

      “Jy moet die lig aansit.”

      “Ek moet slaap.”

      “Ek weet alles,” sê hy met groot genoegdoening. “Van gisteraand.”

      Ek sit skielik regop in die bed. “Van gisteraand?” vra ek en sit die bedliggie aan.

      “Ja,” sê hy en glimlag sy kuiltjie-glimlag. Dan hou hy die konfytbottel triomfantlik omhoog. “Kyk,” sê hy met wysheid ver verby sy jare. “Daar is bottervisse in ons jêm.”

’N MAN WAT KAN HUIL

      “Hoe pleit jy, meneer Liebenberg?” vra professor Vermaak.

      “Skuldig, professor.” Ek vou my hande op my skoot. Hulle hoef nie te sien hoe ek bewe nie.

      Hy sit in die middel van die driemanskap wat die dissiplinêre komitee vorm. Links van hom is die adjunkregistrateur: studentesake, meneer Ronsard Steyn, ’n klein, skraal mannetjie met ’n potloodstreep-snorretjie en ’n been wat senuagtig onder die tafel rukspring. Regs is prof Tienie Grobbelaar, die bejaarde hoof van die departement Romeinse Reg en Regsgeskiedenis, sy lang, grys hare deurmekaar soos gewoonlik, sy oë toe, asof hy slaap. Ek sit oorkant hulle, ’n eiland op ’n stoel in die somber vertrek.

      Dit is Steyn wat nie kan wag om sy stuiwer in die armbeurs te gooi nie: “En met reg ook, meneer Liebenberg. Jy besef dat jy geskors kan word vir dié oortreding?” Hy vra dit asof hy nie kan wag om die vonnis uit te spreek nie.

      “Ja, meneer.”

      “Ek is seker daar is versagtende omstandighede,” sê prof Tienie rustig, sonder om sy oë oop te maak.

      “Natuurlik,” sê prof Vermaak, die lang, formele een.

      Hulle kyk na my met afwagting. Steyn se springende been maak ’n ritmiese skuifelgeluid op die dik mat.

      Ek wil hulle so graag alles vertel. Maar sal hulle verstaan? Sal dit regtig ’n verskil maak? Ek kyk van my swetende hande af op. Steyn se kraalogies is soos dié van ’n kobra – reg om die gif van skorsing met ’n blitsige pik uit te deel. Hy sal nie verstaan nie. Vermaak? Miskien. Maar hy lyk nie na ’n man wat ooit verblind was deur die liefde nie. Prof Tienie? Hy is die een wat elke dag ’n angelier in die lapel van sy gekreukelde baadjie dra. Miskien is hy my enigste hoop. Ás hy wakker is. Ek wend my tot hom, al kyk hy nie na my nie.

      “Dit was die liefde, professor.”

      Steyn se been raak stil. Hy beur vooroor. “Die liefde?”

      Ek knik.

      “Dit lyk my nie jy besef hoe ernstig jou posisie is nie, meneer Liebenberg.” Sy been het weer begin spring. “Lighartigheid is uiters onvanpas.”

      Vermaak lyk ongemaklik, maar sê niks. Ek weet ek is gedoem.

      “Laat die jong man verduidelik,” sê prof Tienie.

      “Dit sal goed moet wees,” sê Steyn.

      ’n Sweetdruppel loop langs my neus af. Die das druk teen my keel. Ek is nie ’n goeie prater nie. Maar nou hang my toekoms daarvan af.

      Ek maak my keel senuagtig skoon, my oë weer op my hande. “Alles was okay gewees tot ek vir Sara Nieuwoudt gesien het,” sê ek, en my stem klink soos dié van iemand anders. “Toe het alles verander.”

      * * *

      Ek sien haar die eerste keer terwyl ek besig is om met Willem ’n sinlose argument te hê. Ek en Willem is die slotpaar van die Shimlas. Ons was ook die slotpaar van die universiteit en die Vrystaat se ondertwintigspanne – en almal sê ons gaan vanjaar die slotpaar van die Vrystaat wees.

СКАЧАТЬ