Название: Die wolkversamelaars
Автор: Nadia de Kock
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780795709043
isbn:
Sy biografie het ook gesê dat hy ’n wolkversamelaar is, met ’n skakel na die Cloud Collection Appreciation Society se webwerf. Talla het daarop geklik en ’n paar uur later haar wolkboekie bestel.
Daardie aand by die huis het sy in die skoendoos met ou Kers- en verjaardagkaartjies en ander memento’s gaan krap en ’n paar kaartjies van Astian af uitgehaal om te lees. Die klein Sterns-boksie het sy vir laaste gehou, al het sy geweet wat daarin is. Sy het die silwer Sint Christopher wat Astian vir haar gegee het, uitgehaal, dit aangesit en die skoendoos toegemaak. Sint Christopher is die beskermheilige vir reisigers – as sy hom ooit nodig gehad het, is dit nou.
Natuurlik het sy Astian nie laat weet dat sy Skotland toe kom nie. Hoekom sou sy? Hulle het nie weer kontak gehad nadat hulle uitmekaar is nie. Sy was ook verbaas oor die kloppende hartseer die paar dae nadat sy Astian se foto gesien het. Vyf-en-twintig jaar het immers verloop vandat hulle uitmekaar is.
Sy sluk haar wyn klaar. Sy moet haar gedagtes streng beheer, geen nostalgiese drome oor Astian word nou meer toegelaat nie. Die verlede kan nie uit die dood opgeroep word nie, dis verby.
Daar is ’n reusagtige wolk ’n ent van die vliegtuig af. Sy skat dit omtrent ’n kilometer hoog, maar dis moeilik om te sê. Dit is glad aan die bokant – ’n lenticularis, ’n lenswolk. Maar toe sy mooi kyk, sien sy dat dit eintlik twee wolke is. Die boonste een, die gladde een wat soos ’n wit baret windmakerig skeef op die onderste een sit, is ’n pileuswolk, nie ’n lenswolk nie. Talla blaai na die betrokke bladsy in haar boekie en bestudeer die foto van die pileus. Sy kyk na die foto en dan weer by die venster uit na haar wolk. Dit lyk beslis soos ’n pileus. Dié wolk is ook ’n volle vyf-en-veertig punte werd.
Sy teken die datum, tyd en plek waarop sy dit gesien het onder die foto aan. Dit is verreweg die waardevolste wolk in haar versameling.
Terug na die wolk buite die vliegtuig. Dit verdwyn vinnig, soos pileuswolke blykbaar doen. Terwyl die boonste een disintegreer, vorm die figuur van ’n man in die middel van die onderste wolk. Hy staan in ’n vegtersposisie. Hy het lang hare en lyk na die een of ander mitiese figuur, ’n god. Hoe verder hulle van die god af wegvlieg, hoe langer word sy hare.
Later bly net lang, dun slierte hare en een arm oor. In sy oorblywende hand hou hy nou ’n swaard vas. Hy is net enkele minute herkenbaar voordat hy heeltemal vervorm.
2
Dit is ná vieruur die middag en reeds donker toe hulle by die afdraaipad na Glencoe-dorp stop. Talla strek haar bene terwyl sy wag dat die busbestuurder die luik onder die bus oopsluit en haar tas uithaal. Die lug wat sy inasem, is so skerp soos glasstukke en ysig koud. Toe sy hoes, vorm wasem voor haar mond en bly in die lug hang.
Glencoe Mountain Rescue is teen die muur van ’n gebou oorkant die bushalte geverf. Daar staan ’n helikopter geparkeer en ’n straal lig uit een van die gebou se vensters val op sy registrasienommer. ’n Man beweeg kort-kort agter een van die vensters verby. Dalk ’n reddingswerker; die berge teenaan die pad hierheen het maar taamlik onheilspellend gelyk. Hier is seker gereeld ongelukke.
Talla groet die bestuurder en kyk die bus agterna toe dit wegry. Toe haal sy haar paspoot uit haar jeans se sak. Dit het effens gebuig, maar lyk darem nie of dit beskadig is nie. Sy probeer dit platstryk en pak dit dan tussen Die ysterkoei moet sweet en die wolkboek bo in haar rugsak sodat dit glad kan bly. Toe trek sy haar geleende tas se lang handvatsel uit en kry ’n stewige greep daarop.
“Hier gaan ons nou, Theresa,” sê sy oor haar skouer na die tas en begin aanstap. Sy glo die as is nog veilig in die roomysbak. Sy gaan belis nie nou haar tas oopmaak en kyk nie. “Ons is in jou Glencoe.” Sommer gou is sy in Glencoe-dorp se hoofstraat. Sy dínk dit is die hoofstraat, sy het pas by ’n klein kerkie verbygeloop en ’n ent verder hang ’n verligte blou-en-wit advertensiebord teenaan ’n gebou. Dit is nog te ver om te kan lees wat op die bord staan.
Sy is die enigste mens op straat en dit is so stil dat haar voetval in haar ore weergalm. Sy begin ’n paar versreëls wat sy gememoriseer het sag resiteer: die lewe is heerlik, heerlik, heerlik: die hart brand soet en seer. Ritmies, saam met haar voetslag. heerlik, heerlik, heerlik. Uit Katalekte. Sy moes die bundel ook ingepak het, nie net Die ysterkoei moet sweet nie. Dit is tog nie swaar nie.
Talla hou op prewel toe sy by die uithangbord aankom. Dit is ’n Co-op-winkel. Sy huiwer by die deur en kyk na binne. Dit lyk soos ’n klein Spar of ’n KwikSpar. Dit lyk lekker warm, miskien moet sy ingaan. Sy vat aan die deurknop. ’n Maer vrou met dun haartjies sit agter die toonbank en ’n man in ’n sweetpak en rubberstewels staan kopskuddend by haar en gesels terwyl hy sy mandjie uitpak.
Sy laat sak haar hand, nie lus om los geselsies te probeer aanknoop terwyl haar kakebeen so stram van die koue is nie. ’n Warm bad gevolg deur ’n warm bed is wat sy nou nodig het.
Dit is natuurlik nie die ingesteldheid wat sy moet hê nie. Hierdie mense sal dalk weet waar sy die stories kan kry wat sy in Skotland kom soek het.
Daar is ’n warmoond met toegewasemde vensters skuins agter die toonbank. Dit is waarskynlik gepak met goue pasteitjies, stomend en souserig. Sy kan dit in haar verbeelding ruik. Steak-and-kidney en pepper steak. En sy ís so honger. Sal sy nie maar een koop nie? Nee, skud eerder op en kom by Munro’s uit. Daar sal sy vir haar ’n behoorlike aandete bestel nadat sy ingeboek, ontvries en haar georiënteer het. Haar kakebeen is beslis te styf om te gesels.
Sy vat die tas se handvatsel vas en stap verder. Dan hoor sy water loop en dit is nie lank nie of daar is ’n brug voor in die pad. ’n Bordjie sê dis die Coerivier wat hier verbyvloei en ’n tweede bordjie wys dat die Slagtingmonument regs is. Dit is ter herinnering aan die vermoorde MacDonald-clan opgerig. Dié voorval is skynbaar nog vars in die geheue van die Skotte, al het dit reeds in 1692 gebeur. Sommige skrywers sê dit is hoekom Glencoe die “weendal” genoem word. Talla het redelik baie geleer tydens haar meanderende maar hoofsaaklik vrugtelose ure op die internet.
’n Entjie ná die brug begin sy uitkyk vir ’n sitplek. Tyd vir ’n sigaret. Sy het amper vier uur gelede buite die bushalte in Glasgow laas gerook en het haar fix nodig. Verdomde gewoonte.
Daar is oral klippe langs die paadjie en sy soek die grootste een uit om op te gaan sit. Sy stroop haar handskoene af voordat sy haar rugsak uitpak op soek na die sigarette. Eindelik kry sy die pakkie raakgevat en skud ’n sigaret uit.
Die klip is yskoud. Sy steek die sigaret aan en pak met een hand alles wat sy uitgehaal het terug in die rugsak. Terwyl sy rook, sit en kyk sy na die kaal, donker bome langs die pad. Sy bewe. Dis snerpend, dit voel asof ’n mens die koue lug met ’n mes kan sny. Miskien sal sy nog van die ontbering omkom voordat sy haar storiemissie hier kan voltooi.
Sy kan haar nie voorstel dat Theresa na die herberg sou loop nie. Theresa was immer stylvol. Sy het regop gestap, altyd sykouse gedra, en haar silwergrys hare keurig versorg. Sy het blink oë en ’n tinkellaggie gehad. Toe word sy siek, en so broos soos ’n klein voëltjie.
“Jy sou ’n taxi neem, nè, Theresa?”
Talla staan strammerig op. Sy moet bly beweeg, anders vries sy dalk op die plek aan die klip vas. Sy trap die sigaret dood, tel dit op en sit dit in die Marilyn Monroe-blikkie wat Zani vir dié doel saamgegee het. Toe vat sy die tashandvatsel vas en begin aanstap. Die stilte word net verbreek deur haar voetval en die tas wat sy oor die flenter teeroppervlak aansleep. Dit is nou heeltemal donker. Sy gaan staan. Die eggo van haar laaste voetstap verdwyn en dit raak so stil soos in ’n onontdekte grafkelder.
Dit СКАЧАТЬ