Название: Boomwortels in die hemel
Автор: Pierre du Plessis
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796321794
isbn:
Dink aan die regverdigste, godsdienstigste groep mense waarvan jy weet – of dalk eerder ’n groep wat diep geestelik is, om meer hedendaagse taal te gebruik. Dalk ’n groep nonne, of monnike, dalk mense wat lang tye in stilte deurbring. Dalk mense wat onder die armes werk. Hulle is dalk meer soos die Fariseër in die storie.
Dink dan aan mense wat deur niemand vertrou word nie. Korrupte politici is die eerste wat in my kop opkom. Hoekom moet ons vir hulle die waarheid vertel oor ons eie inkomste? Hoekom moet ons die boetes betaal wat korrupte polisie uitskryf?
Dit gee dalk ’n beter prentjie.
Die vraag wat die gelykenis vra, is waarin stel God belang? Wat is vir Hom belangrik? Die mooi van die verhaal is vir my die beskrywing van die twee figure se gebede en liggaamstaal. Die beskrywing van die Fariseër se gebed is lank en gedetailleerd en die beskrywing van sy postuur, kort. Die tollenaar se gebed is kort en tog is die beskrywing van sy postuur en sy houding veel langer as die een van die Fariseër.
In die apokriewe boek Henog word daar beskryf hoe gevalle engele glad nie hul oë na die hemel kon oplig nie. Die tollenaar staan ver, kop na onder, slaan op sy bors, bedroef. Meer as net ’n les dat ons nie op ander moet neersien nie, is hierdie gelykenis ’n voorbeeld van eerlikheid, weerloosheid en naaktheid voor God.
Dit is wat die Here soek: egtheid. Jesus se hardste woorde in al die Evangelies is seker dié in Matteus 7:22, 23 (Die Boodskap) waar die mense wat Hy van Hom af wegstuur, vir Hom vra: “Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.” Jesus se antwoord is skokkend: “Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!”
Jesus ken hulle nie.
Met hoeveel pretensie kom ek nie na die Here toe nie; met my mooi woorde en goeie dade, met my Bybellees en bid, met my betrokkenheid by die kerk en by die armes. Al ooit in die spieël gekyk en gedink: ek is eintlik oraait? Dit is dit waarvan hierdie verhaal praat, die belaglikheid om te dink jy is oraait, die belaglikheid om te dink dat ons in elk geval iets vir God kan wegsteek. Ons sit nog steeds elke dag en vyeblare aanmekaar, spoeg en plak en dink ons kan ons naaktheid vir God wegsteek. Hoe kan Jesus ons ken as alles wat ons voorhou vals is?
Jesus hou Hom nie met maskers op nie.
Daar is ’n bekende verhaal van Herkules waar die sentour, ’n perdmens, Herkules se vrou ontvoer en haar wil verkrag. Herkules skiet toe ’n pyl af en wond die sentour noodlottig. Terwyl die sentour besig is om dood te gaan, vra hy die vrou om vergifnis en vra dat sy, na sy dood, sy vel vir Herkules moet gee. Sy doen dit toe, maar dit was ’n lokval. Die sentour se vel was vergiftig en toe Herkules dit met trots om sy skouers gooi, toe vreet die gif in sy vel in. Sommige weergawes van die verhaal vertel dat hy dit nie weer kon afkry nie, terwyl ander vertel dat hy van die gif dood is.
So is dit met ons wat identiteite aanneem wat nie ons eie is nie. Na ’n tyd kan ons nie meer onderskei wat vals is en wat waar is nie; asof die masker wat ons dra, wat ons selfs voor God dra, in ons gesig in gevreet het.
Dit is beter om kaal te wees.
Hier is ek.
Hierdie woorde weerklink deur die hele storie van die Bybel. Keer op keer hoor ons hoe iemand antwoord wanneer God roep.
Hier is ek.
Adam antwoord: “Hier is ek.”
Abram antwoord: “Hier is ek.”
Jakob antwoord: “Hier is ek.”
Moses antwoord: “Hier is ek.”
Samuel antwoord: “Hier is ek.”
Ananias antwoord: “Hier is ek.”
Die woord in Hebreeus is hineni. Dit beteken meer as “hier is ek”. Dit beteken ook “ek is gereed, gebruik my”. Die woord vir waarheid in die Nuwe Testament, aletheia, beteken “iets wat ontbloot is”, wat nie meer toegemaak is nie.
Ek glo dit is wat die tollenaar doen. Hy sê met sy hele liggaam hineni.
Ek glo ten diepste dit is al wat ek en jy vir God kan antwoord. Dit is al wat ons Hom kan bied wanneer Hy ons in die tuin kom soek waar ons probeer wegkruip en ons sonde probeer toemaak. Hineni.
Dit is moeilik om met ’n oop hart te leef. Harte kry maklik seer. Om weerbaar en broos te leef voor die Here is een ding, maar voor die mense in ons geloofsgemeenskappe, ons kerke, is dit éérs moeilik. Ons is maar stukkende en gebroke mense, en stukkende mense het skerp kante wat diep kan sny.
Tog glo ek ten diepste dat ons saam in ons gebrokenheid moet leef, dat ons oor en oor ons harte vir mekaar moet oopmaak, braaf moet wees, met die wete dat ’n mens tien teen een weer sal seerkry. Dit is hierdie deel, hierdie saam oefen hoe om agter Jesus aan te loop, hoe om eerlik en opreg te leef, wat ons stadig maar seker meer mens maak. Dit is hierdie skerp kante wat dalk net help om die masker wat so aan ons gesigte vasgegroei het stadig los te sny. Dit is nie toeval dat die woord courage van die Franse coeur (hart) kom nie.
Om braaf te leef, is om met ’n oop hart te leef.20
Jesus word gereeld met ’n oop hart uitgebeeld, die sacred heart, ’n hart wat brand en bloei. Jesus is ook naak gekruisig sodat ons nie hoef skaam te wees oor ons naaktheid voor God nie.
Jesus skeur alles oop tussen ons en God.
Dit vat verskriklik baie tyd en moeite om jou masker te begin losskeur, grimering te begin afvee en ons kragdrag uit te trek.
Ons is baie gewoond aan die wapenrusting wat ons teen die wêreld dra, die honderde verskillende maniere waarop ons van God wegkruip, en ook van onsself.
Dit is baie moeilik om naak te wees en kaal vir jouself in die spieël te kyk. Ons reis is een terug na onsself, na die self wat God gemaak het. Ons Self, Godsbeeld Self met ’n hoofletter S, is diep weggebêre onder jare se toemaak.
Gereeld op ’n Sondag lees ons saam as gemeenskap hierdie stuk deur Rachel Held Evans (wat nou onlangs oorlede is). Frieda het dit vir ons mooi vertaal uit Evans se boek Searching for Sunday (2015):
Ons kom soos ons is – sonder om weg
te kruip, sonder om toneel te speel, sonder
om bang te wees.
Ons kom met ons materialisme,
ons trots, ons kleinlike griewe teen ons
bure, ons skynheilige minagting vir die
veroordelende mense in die kerk langsaan.
Ons kom met ons angs oor die dood,
ons desperaatheid om liefgehê te word, ons
stormagtige СКАЧАТЬ