Название: Ons raaiselpad met alzheimersiekte
Автор: Elise Nel
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796321763
isbn:
Om die plaatjie in te sit en uit te haal en gereeld te dra het in die volgende maande maar baie op en af gegaan. Party dae was hy in die wolke omdat hy weer lekker kon kou; ander dae het hy die plaatjie sommer net uitgehaal en weggegooi. Soms het hy die plaatjie maklik ingesit en ander dae het dit drama veroorsaak. Ek het later die plaatjie vir hom ingesit en uitgehaal en skoongemaak. Menige kere het ek die plaatjie met sy pienk lyfie buite opgetel. Die plaatjie was ’n groot uitdaging wat mettertyd al groter geword het. Ek het by voorbaat geweet so iets is nie regtig haalbaar vir ’n alzheimerpasiënt nie, maar solank dit vir hom meer gerief kon bring, was dit die moeite werd.
Later, toe die tekstuur van kos hom begin irriteer en al sy kos baie fyn gemaak moes word, was die plaatjie nie meer nodig nie. Al was dit ’n duur en langsame proses, was dit volkome die moeite werd om sy tande te laat versorg. Ek het nou die versekering gehad dat pyn en ongerief in sy mond uitgeskakel was.
’n Artikel in ’n tydskrif oor ’n sekere behandeling wat in ’n versorgingsoord vir bejaardes toegepas word, het op ’n dag toevallig my aandag getrek. Dit het gegaan oor die bevordering van die bloedsomloop na die brein. Planke is in die middae skuins teen die inwoners se beddens neergesit en hulle moes ’n halfuur met hulle koppe laag en hulle voete omhoog lê. Die bejaardes van daardie oord het, volgens die artikel, baie verbeter wat hulle algemene gesondheid en onthouvermoë betref.
Met ’n plank het ek dié storie probeer toets, maar dit het nie vir ons so goed gewerk nie, want my man wou nie langer as ’n paar minute lê nie. Later het hy net geweier om dié snaakse idee te beproef.
Die volgende plan was ’n baksteen onder elke poot aan die voetenent van ons bed. Ons het maande lank só geslaap. Maar met hierdie soort planne kan ’n mens ongelukkig nooit bepaal hoe doeltreffend dit regtig is en wat die uitkoms daarvan is nie, want waaraan meet jy dit?
Die einde van 2010 het ons by die einde van ons eerste studie by die kliniek gebring. My man het nou reeds ses maande lank daagliks die medisyne vir alzheimers (Aricept) getrou gedrink.
In die eerste tien dae van 2011 het ons, soos ons gewoonte was, weer ’n heerlike tyd as gesin in ons goeie Karoo-vriende se vakansiehuis in Wildernis deurgebring. Daar, met die branders se altyd teenwoordige geruis, het ons oor ’n tyd van byna twee dekades wonderlike herinneringe opgebou. Eers saam met ons drie skoolgaande dogters, later saam met hulle en hulle jeugliefdes en uiteindelik hulle en hulle lewensmaats. Só het ons familie gegroei totdat ons kleinkinders die kring voltooi het.
Elke jaar daar het ons saam gelag, gekuier, geswem en in vreugde net saam gewees. Die pa van hierdie gesin het met kinderlike vreugde en genot die sondeurdrenkte dae saam met sy geliefdes beleef. 2011 sou ons laaste vakansie saam in daardie lieflike huis en omgewing wees. Maar die baie foto’s wat deur die jare heen daar geneem is, sou ons help om ons kosbare herinneringe lewend te hou.
Ek het gereeld teruggeblaai deur my herinneringe en hom op sy branderplank sien uitgly tot op die sand, met sy hare soutwaterslierte oor sy voorkop en sy oë verlig deur die son. Ons almal saans by die lig van die vuur om ’n tafel met speletjies wat die pret daarvan laat oorspoel tot ’n uitbundige gelag. Drafsessies op die strand, hy heel voor in die bondel. Balspeletjies op die sand totdat ons spore kruis en dwars diep nat holtes gekerf het.
Januarie het vinnig uitgesif in die volgende maande. In Maart is ons Kaap toe om ons kinders daar te gaan groet. Hulle was besig om klaar te maak vir hulle verhuising na Australië. Dit het nie gelyk of die finaliteit van die groot omwenteling wat emigrasie bring werklik tot my man deurgedring het nie. Ek het dit dus op my eie verwerk. Die feit dat so baie mense in ons land geraak word deur kinders wat emigreer, het ek gebruik as troos en versterking.
Paasnaweek is ons weer as familie Karoo toe. Hierdie keer het ons in die dorpshuis van ons oom gebly. Ons kon almal deel hê aan die doop van ons kleindogter. Sy is op 24 April 2011, Paassondag, op ons tuisdorp gedoop. Dit was ook ’n tyd om ou vriende op te soek, te kuier en die dorp van ons jeugdae opnuut te verken. Hy was baie stil en apaties, maar het steeds meegedoen.
Terug by ons aftreehuisie het ons so normaal moontlik voortgegaan. Ek moes nou hand bysit met sy uittrek, bad en aantrek. Stadigaan het hy rusteloser begin raak. Ons nagte is ongemerk al hoe meer onderbreek. Die meeste oggende het ek die nuwe dag vaal en moeg aangepak.
Sy medikasie het nou behalwe die Aricept, ook ’n slaapmiddel sowel as ’n kalmeermiddel bevat. Hy het nie so goed op laasgenoemde reageer nie en later was ek spyt dat ek nie gouer gevra het dat dié kalmeermiddel vervang word nie.
Kersdag van 2011 het ons saam met ons kinders gevier, en voor die laaste dag van die jaar het ons Karoo-kinders en ons kinders uit Australië vir ’n somerkuier gekom. Ek moes my man nou al meer versorg, en hy was baie stil en soms selfs apaties terwyl ons kinders daar gekuier het. Ek het besef dat dit ook vir ons kinders baie swaar was om hom so te sien. Tog het ons moedig en vrolik saamgekuier.
Aan die begin van 2012 is ons weer genader vir die volgende navorsingstudie. Weer was hy gretig om daaraan deel te neem. Hy het dit steeds geniet om by die kliniek te wees. Die MMSE-toets is op 23 Februarie 2012 gedoen. Hierdie keer was sy telling 16. Dit het dus met vyf punte gedaal, maar hy is steeds vir die studie gekeur. Die studie het die veiligheid en doeltreffendheid van ’n nuwe eksperimentele middel getoets.
Hierdie middel, Ebixa, was die nuutste en doeltreffendste medikasie om alzheimers te bestuur. Ek het nie een oomblik onseker oor die medikasie gevoel nie, want ek het met sy eerste deelname gesien dat hierdie mense die pasiënte se veiligheid baie hoër op prys stel as die goeie uitkoms van hulle navorsing.
Gou kon ons agterkom dat sy deelname aan die studie hom gouer uitput as die vorige jaar.
In hierdie tyd moes ek een oggend ’n vraelys saam met een van die personeel invul. Op elke vraag moes ek ’n punt uit tien toeken aan hoe ek reken hy verskillende situasies ervaar. In my gedagtes was sy ervaring van situasies oor die algemeen baie traumaties. Ek het gereeld in die stilligheid gehuil omdat hy so dikwels onmagtig was om normaal of in beheer op te tree.
Wat ek nie geweet het nie, was dat dieselfde vraelys ook saam met hom ingevul is.
Groot was my verbasing toe die manier waarop al hierdie belewenisse hom negatief beïnvloed het, baie minder blyk te wees as wat ek gedink het. Hulle het vir my verduidelik dat hy op byna elke vraag met: “Nee wat, dit ontstel my nie baie nie,” of: “Nee wat, dit is nie vir my erg nie,” geantwoord het. Sy positiewe eindpunt was agt uit tien, terwyl my eindpunt van hoe hy die wrede wêreld ervaar maar drie uit tien was.
Hierdie belewenis was vir my soos ’n stukkie suiwer genadetroos uit die hand van die Meester. Dit het baie van die wroeging weggeneem en my gedra deur al die maande wat nog moes kom. Die wete dat hy nie regtig so swaargekry het soos ek gedink het nie, was ’n wonderlike gerusstellende geskenk wat ek by die kliniek ontvang het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, СКАЧАТЬ