Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10). Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10) - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 7

Название: Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10)

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия: Israel-reeks

isbn: 9780796320858

isbn:

СКАЧАТЬ ook van rooi baksteen, wat soos ’n soort fabriek gelyk het. Maar die skoorsteen was een wat hy nog nie tevore by ’n fabriek gesien het nie. Wat hom verstom het, was dat dit ’n kolom vlamme ’n paar meter hoog die lug in geskiet het.”

      “Krematorium,” sê Henok gedemp.

      Yitzchak knik. “Dit het hy byna onmiddellik besef. Hy het ook gemerk daar was ’n entjie verder nóg een. En oplaas het hy ’n derde agter die bome opgemerk. ’n Effense windjie het die rook in hul rigting gewaai en hy het geweet die mislike reuk is dié van hare en vleis wat brand.”

      “O my genade,” kreun Sarah so sag dat net Henok dit hoor.

      Yitzchak vee met sy oop hande die grys hare van sy voorkop af weg. Sy vingers bewe effens. “Miklós kon nie te lank wonder oor dié gesig nie, want die volgende stadium van die keuring het al begin. Mans, vroue en kinders moes in ’n enkel ry voor die SS-komitee, met Mengele as keurarts aan die hoof, verbyloop. Met ’n enkele handbeweging is die mense weer in twee groepe verdeel, sommige na links en die ander na regs. Miklós het gou agtergekom dat, behalwe die vroue met kinders onder 14 jaar, almal wat na links verwys is, hoofsaaklik ouer mense was en dié wat afgetakel, siek of baie moeg daar uitgesien het.”

      “Hoe oud was sy eie dogter?” wil Sarah weet.

      “Sy was 15. Hy kon sien dat Margareta en Zsuzsana na regs beduie word. Na die groep wat gelyk het asof hulle fiks genoeg is vir werk.”

      “Kon enigeen nog fiks gelyk het ná so ’n reis?”

      Yitzchak trek sy skouers op en beduie met sy hande. “Hoe dit ook al sy, dis hoe hulle verdeel is. Rooi Kruis-bussies het van die hoog bejaardes, dié wat ernstig siek was en gestremdes opgelaai, en het in dieselfde rigting as die links-gekeurdes verdwyn.”

      “Wat het van Miklós geword?”

      “Mengele het ál die dokters van die regterkantste groep gevra om na vore te tree. Daar was omtrent 50 van hulle. Hy het iemand gesoek wat aan ’n Duitse universiteit klaargemaak het, deskundige kennis van outopsies gehad het en bekend was met forensiese medisyne. ‘Jy moet onvervalste kwalifikasies hê,’ was sy woorde, “‘of anders …’ Hy het met sy hand oor sy keel beduie.”

      “En dít was Miklós.”

      “Dit was Miklós, Sará. Hy was die enigste een daar wat so ’n kwalifikasie gehad het. Hy moes presies uitlê waar hy studeer het, onder watter professor hy geleer het om outopsies te doen, watter owerheid hom toelating gegee het om forensiese medisyne te praktiseer, ensovoorts.

      Blykbaar het sy antwoorde Mengele tevrede gestel, want hy is beveel om eenkant te staan terwyl die res van die groep aangesê is om na die kamp te marsjeer. Die linkerkantste groep is in ’n ander rigting geneem.”

      Daar heers vir ’n rukkie ’n veelseggende stilte. Die kelner het met die koffiekan nader gekom en hul koppies weer opgevul.

      Nadat hy ’n slukkie geneem het, praat Yitzchak weer: “Miklós vertel dat hy hom ’n paar minute byna alleen op die perron bevind het. Maar toe word die stilte verbreek deur gevangenes in gestreepte uniforms wat besig was om ál die bagasie wat in die waens agtergelaat is, uit die trokke te haal en in vragmotors te laai. Mengele het nog ’n paar opdragte aan SS-ondergeskiktes gegee, toe in sy Opel-motor agter die stuur gaan sit en vir Miklós beduie om in te klim. Hulle is deur ’n hek wat eerbiedig vir Mengele oopgemaak is die kamp in en met die middelste pad af tussen die rye barakke deur.”

      “Dis nou Auschwitz of Birkenau?” wil Sarah weet.

      “Birkenau. Waar julle gister laaste was en waar die krematorium was wat deur die Duitsers verwoes is.”

      Sy knik.

      “Hy is na die Schreibstube geneem om ingeskrywe te word.” Daar kom ’n vreemde trek om die ou man se mond. “In sy boek verwys Miklós na die mans wat daar agter ’n paar lessenaars gesit het. Almal in gestreepte uniforms en met kaalgeskeerde koppe. Hulle het intelligente gesigte gehad, skryf hy. Sonder ’n woord het hulle almal onmiddellik op aandag regop gekom.”

      “’n Mens kan jou alleen maar voorstel watter professies hierdie manne voorheen beklee het. Advokate, prokureurs, dokters, onderwysers, professore.”

      “Ken, Chanok, ken. Die room van Europa se Jode.” Yitzchak sug, stryk weer oor sy voorkop. “Miklós moes uiteraard al sy persoonlike details gee wat alles in ’n groot lêer vasgelê is voor hy ’n indekskaart gekry het. Daarna is hy deur ’n SS-offisier na ’n barak gebring. Hierdie keer was die aanwysing bo die ingang: Bad en Ontsmetting. Hy is volledig deursoek en moes ál sy klere uittrek. Sy kop is kaal geskeer en toe moes hy stort. Die kalsiumchloried in die water was so sterk dat hy ’n paar minute lank nie sy oë kon oopmaak nie.”

      “Kan enigiets meer vernederend wees?” Henok skud sy kop.

      Die ou man knik.

      “Ken. Hy het egter nie ’n gestreepte uniform gekry nie, maar ’n ordentlike skoon grys hemp en swart broek. Sy skoene het hy wel teruggekry, maar eers nadat dit in ’n emmer met chloor geweek is. Hy sê hy kon nie help om te wonder wat van die vorige persoon geword het wat die klere gedra het nie. Een van die gevangenes het sy linkermou opgeskuif en baie handig en gou ’n nommer op sy voorarm getatoeëer. Dr. Miklós het ophou bestaan. Hy was nou eenvoudig nommer A8450, ’n konsentrasiekampgevangene.”

      Henok laat sy asem stadig uit en skud sy kop.

      Sarah kyk af op haar hande in haar skoot. “Het hy ook in een van die kasernes gaan bly?” vra sy gedemp.

      “Ken, in die amptelike hospitaalkamp F se dokterskwartiere in Blok 12.”

      “Watse soort hospitaal was dit?”

      “Hospitaal?” Yitzchak lag smalend.

      “Nu, die gebou was ongeveer 100 m lank, met ’n lang gang in die middel en drie lae slaapbanke. Dit was vol gepak met siek gevangenes. Toe Miklós daar aankom, het die sogenaamde blokopsigter, ’n krimineel uit ’n tronk in Duitsland, maar nogtans ’n Reichsdeutcher – die besef duidelik by Miklós tuisgebring dat die Auschwitz-konsentrasiekamp nie ’n werkskamp was nie, maar die Reich se vernaamste uitwissingsfabriek.”

      “Fabriek …” herhaal Sarah sag, onbewus dat sy dit doen.

      “Uit sý stories kon Miklós ’n duidelike prentjie kry van wat die lewe in die kamp beteken. Tienduisend gevangenes is in die primitiewe barakke saamgehok. Geleenthede wat vir slaap toegelaat is, was bitter weinig. En dan moes jy probeer om tussen die ander liggame op iemand anders se bene óf kop óf lyf gelê te kry.”

      “Maar dis mos nie moontlik nie,” prewel Sarah.

      ’n Siniese laggie kom weer uit Yitzchak se mond. “Miskien nie vir jou en my nie, Sará, maar vir hulle was daar nie ’n ander moontlikheid nie.”

      “Behalwe die oonde.”

      “Behalwe die oonde, Chanok.” Hy sug effens. “Die blokopsigter het hom in besonderhede vertel van die weeklikse keuring in die barakke en kamphospitale waarna die slagoffers in vragmotors gelaai en na die krematorium ’n paar honderd meter daarvandaan gery is. Maar om terug te kom na die slaapgeriewe vir gevangenes. Die nagstilte in die kamp het soggens om drieuur geëindig. Die funksionarisgevangenes – m.a.w. dié wat gedwing is om saam met die blokopsigter te werk – het СКАЧАТЬ