Название: Katastrofes
Автор: Breyten Breytenbach
Издательство: Ingram
Жанр: Зарубежные стихи
isbn: 9780798173117
isbn:
GEEL GEVAAR
“Hy wat in dié wêreld die lewende skepsels, of hulle nou ook een of twee maal gebore is, laat ly, wat in hom geen meegevoel met lewende skepsels het nie, laat hom beskou word as ’n paria.” (Vasalasutta)
As die nag diep en dik is word ek wakker met ’n hik die duisternis wurg my aan die strot ek staan op muisvoet om sodoende nie my vrou (wandelend in drome deur paleise van winkels vol jasse en skoene met ligte snorke van misnoeë) te steur nie my kop bibber ek loop na die wasbak skakel klieks die gloeilamp wit HIERJY die vloer is uitgeslaan van kakkerlakke. Ek skrik my ’n boggel. Maar met die hande voor die oë skoert die swart dopdraers vlugpotig die onopsigtelike swart gaatjies langs die lyste af. Toe die son skyn lag ek so op my eentjie vir my ou bangbroekskrik van die vantevorese nag maar die daaropvolgende aand is dit weer so. En as ons saans tuiskom sit die vetgatte reeds en knibbel aan ons daaglikse brood asof waar hulle vandaan kom daar ’n groot droogte heers. Net die lig skrik hulle af. Ek was naderhand daarvan oortuig dat hulle bedags padgee na waar dit nag is. Maar hulle is tegelykertyd vinnig aan ’t aanteel. En hulle moes besef dat ek nie weet wat om te doen nie. Van my vriende wou dat ek hulle versuip of versmoor maar hoe kon ek? Sou ek van myself ’n uitgedrewe brak kon maak? Hulle gaatjies in die vloer interesseer my. So probeer ek dus een rustig-stomende dag die diepte meet en laat sak die een end van ’n tol gare in een skuilte: na 47 tolle gare en 8 uur 23 minute se afrol was daar ’n ligte pluk en toe ek uiteindelik die gare teruggeryg het swaai daar ’n vreemde ovaalvormige ryskorrel aan die punt. Noudat hulle my dilemma besef is hulle minder beskeie en een goeie môre sit ’n flukse tiental sowaar salig op die vloer en klets. Nou is dit klaarpraat. As ek afbuig sien ek hulle het donkerbrille op en hoor met ’n rilling hulle praat Sjinees! My huis is te koop en ek is bereid om enige billike aanbod te oorweeg/te aanvaar/aan te gryp. Ek werk nou as diepseevisser in Hammerfest.
FRAGMENT VAN ’N KWITANSIE
Ek het ’n pampoengesig-man gesien wat sy droë rooi baard in ’n beker winternagswart bier doop en weier om te betaal en ek het gewalg uitgeloop uit die kroeg buitentoe en buite het ek ’n jongeling gesien met een verrotte handjie nutteloos voor die bors soos ’n pap roos en hy had pienk skoene aan en ek het in die plasnat pad geloop met die wind in my broekspype verby ’n boom wat met sy takke op ’n ringmuur gestut in die pad leun en vir die meisies fluit en ek het by ’n blou deur ingedraai die trappe opgeloop en my tande in ’n nou glimlag gewys vir ’n kat en ’n hond en ’n baba met ’n neus vol snot en ’n vrou met vuil toonnaels en ’n man met verleë skouers soos die knieë van skooldogters en ek het op ’n stoel gesit en vis met tamatiesous en radyse en ertjies en aartappels met skille en botter en brood en slaai en lekkers geëet en gebraak en gelag en ek het die reën soos die voete van duiwe op die dak en teen die vensters gehoor en ’n vliegtuig god weet hoe hoog in die lug en ek het in die groen boggeltjies van die man se oë gekyk en weggekyk en teruggekyk en ek het op die kat se stert getrap en ek het opgestaan en in my oor gekrap en stilletjies in die hoek ’n wind gelaat en by die deur uitgeloop met die trappe af en by die blou deur uit en gesien dat die pad wild en blou soos ’n winterlug is en daarin geloop en met ontferming gedink aan die lot van my powere deurweekte tone maar nietemin en ek het ’n man gesien wat ’n lamppaal vashou en ’n vrou wat aartappels sit en skil op ’n sypaadjie en berge agter die torings van die katedrale van ’n dorp en ’n bus wat rinkel soos ’n ou klavier en ’n koerant met ’n hoed op op die trappe van ’n blok woonstelle en ’n mossie wat kaalvoet sit en rook in ’n palmboom en ek het my neus en ore vertel van al my soet geheime.
SIN VIR WAARDES HO! MANNEKYNE
Dis ’n liederlike affêre tot my ontsteltenis moet ek erken dis ’n liederlike affêre en hoe ek my daaruit gaan wikkel daar’s nou vir jou ’n breinbreker want ek is seker ek sal binnekort in eensaamheid leef vriende weg selfs mnr. Hiert weier om Saterdagagtermiddae sy grasperk nat te lei en dit het alles so onskuldig begin. Op die vismark het ek dié rare swart swemmertjie gekoop ’n ou vrou met pers tande had hom in ’n klewerige konfytbottel en my eerste indruk was ha-ha sy probeer my ’n kat in ’n sak afsmeer want hy het oënskynlik leweloos op die bodem van die bottel gelê maar toe roer hy sy handjies en na ’n beleefde gekibbel oor die prys koop ek hom vir 50 centimes en dra hom huis toe ek was opgewek en op vensterbank in visbak gedompel hy was ’n lui gedoente dae lank in week winterson gelê en koester stadig gegroei snaaks olierig-swart en glad. En die water het vergeel. Skielik eendag besef ek o heiland dis gewoon urine en ontstoke met kouende kake oor visbakrand geloer urine uitgesmyt ek was die herrie in. Toe hy waterloos op glibberige bodem lê en splosjel skielik piep hy visgraat-stemmetjie: Sin vir waardes ho! Mannekyne! Natuurlik was ek oorbluf handbewe en met sorg vars water in sy glashuis getap hy was tevrede. En hy het groter geword. Visbak te klein. Is verplaas na skottel van skottel na emmer van emmer na balie van balie na tenk en leef nou in die bad in die badkamer en het nie veel verander nie net die stem is sterker en dra bril en sy talent vir urineer is ontstemmend ek spandeer my dae met opdrooglappe ens. want nou flep hy ook rond en sit selfs soms in tuin in son veral noudat die somer in die bome hang. Die bure kla ek probeer my uiterste om hulle te paai maar o heiland veral aangesien hy gedurende die laaste paar dae die gewoonte het om deur die heining in anderman se jaart te pis mnr. Hiert se grasperk is stoppeltjies. En die polisie het kom murmureer dat die rioolsisteem nie al die urine kan wegvoer nie die hele buurt stink mense pak op en trek weg en die bure sê hulle word op die onmoontlikste oomblikke gesteur stilte verbrysel deur ’n bulderende kreet van: Sin vir waardes ho! Mannekyne! Wat sal ek doen? Dis ’n liederlike affêre tot my ontsteltenis moet ek erken dat dit ’n liederlike affêre is en hoe ek my daaruit gaan wikkel daar’s nou vir jou ’n breinkraker want ek is seker ek sal binnekort in eensaamheid leef vriende weg selfs mnr. Hiert weier om Saterdagagtermiddae sy grasperk nat te lei en dit het alles so onskuldig begin. Maar dit kon erger gewees het. Hy kon vaste stowwe ook moes eet.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.