Название: Marlene en die macho man
Автор: Anita du Preez
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624081081
isbn:
Voor die huis se toringhoë gietyster-dubbelhekke staan sy eers en huiwer. Daar’s geen klokkie nie. Sou mens net instap? En die honde? Met haar nuuskierigheid oor die ou huis het sy so half en half uit die oog verloor dat die moontlikheid groot is dat sy hulle sal teëkom. En sy het nogal ’n ding oor vreemde honde. Wapens, misdadigers, moordtonele en selfs bloed skrik haar nie meer af nie, maar honde … jis! Van haar vroegste dae as polisievrou het sy hierdie vrees – nee, respék – vir honde. En as die lot só kan sing, kan hulle seker byt ook?
Sy is bly dat dit ophou reën het sodat sy haar nat jas in die kar kan los en sy vat-vat aan die Z88 9 mm-pistool onder haar arm, want dié is skielik nie bloot ’n burgerlike kuiertjie nie. Daar was immers ’n klag en sy is nie nét hier om haar nuuskierigheid te bevredig nie. “Solank jy in uniform is, my kind, is dit nie speletjies nie,” hoor sy weer haar pa se waarskuwing.
Sy bespied die tuin deur die gekrulde tralies. Die grasperk is wyd met ’n klippaadjie wat kunstig tussen blombeddinkies tot by die swaar voordeur kronkel. Geen honde nie. Weerskante van die huis is hoë heinings met trosse pienk rankrose en nog gegote hekke wat sekerlik na die agterplaas lei. Hoog genoeg om selfs die mees entoesiastiese hond te keer, dink sy en stoot aan die swaar hek. Dit swaai onverwags oop.
Komaan, Marlene! Jy wat groot kêrels kan laat bewe, kan nie nou hier staan en bang wees vir ’n huilerige ou hondjie nie, sê sy vir haarself en trek instinktief haar rug hol en haar skouerblaaie agteroor. Maar die paadjie lyk skielik baie lank en die grasperk baie oop en sy voel baie blootgestel. Sy loer benoud na die syhekke. Hoe hoog kan ’n hond wat so hard blaf actually spring? En dit klink na ’n klomp honde. Who are you kidding, Marlene Burger, vra sy vir haarself terwyl sy tree vir huiwerige tree oor die ongelyke klipplaveisel neem. Sy praat nooit daaroor nie, al sit die merke steeds, maar sedert oom Marthinus se onbeskofte bulterriër haar aan die boud beetgekry het toe sy sewe jaar oud was, is sy so bang vir ’n kwaai hond soos ’n flippen bok vir ’n skoot hael.
Sy maak dit tot by die gekerfde donkerhoutvoordeur en klop. Sy wag. Die honde weet van haar, dit kan sy hoor aan die stygende desibels van die geblaf, maar niemand reageer nie. Sy loer weer ’n slag benouderig sykante toe en toe niks roer nie, klop sy weer.
Wag.
Vaderland. Sy mors nou net haar tyd hier en al waaraan sy kan dink, is ’n vet steak … nee … sout-en-asyn-slaptjips … Liewe genade, maar sy is honger! En nie vir slaai nie. Al sê Tom ook wát van die voordele van verdomde gestoomde vissies en vaal hoenderborsies met Brusselse spruitjies. En ja, sy kan voel haar uniform se broek sit deesdae bietjie stywer, maar as sy honger is, is sy honger. Sy moet nou óf omdraai en loop óf iets moet nou hier gebeur. Geduld is nie haar forte nie. Was nog nooit. Sy draai ergerlik aan die groot koperdeurknop.
Soos die hek, swaai die voordeur geluidloos oop. Sy tree liewer binnetoe en trek die deur agter haar op knip. Nou is sy darem buite die bloeddorstige dierasies se bereik. Maar sy sal hierdie mense moet aanspreek! Verstaan hulle nie dat Kaapstad nie Slaapstad is as dit by misdaad kom nie? Honde of nie honde nie, weet hulle nie van sekuriteit nie? Onverskillig! En dan as die papaja die waaier tref, moet sy en haar span agterna die spatsels kom opvee. As mense dit net wil verstaan, maar nee, almal dink mos net die bure kan besteel of vermoor word. Tot dit met hulle gebeur en dit die polisie se saak word. Háár saak.
Marlene is so besig om haarself op te werk dat sy nie eens regtig die Bataafse teëltjies van die yslike voorportaal of die manjifieke stel trappe na bo inneem nie. Iewers kraak ’n deur oop en Marlene se liggaam gaan onmiddellik na aanvalsposisie oor met haar hand op haar wapen.
Wie die grootste skrik, weet sy nie.
Die klein grys vroutjie wat skielik by ’n sydeur verskyn, gil, en onwillekeurig glip daar ’n skreeugeluid uit Marlene se keel. Want saam met die pieperige vroutjie bars daar drie yslike swart honde by die deur in. Marlene sien net grynsende tande en kwylende bekke terwyl die honde reguit op haar afpyl. Sy weet onmiddellik haar enigste uitweg is die swierige trap knap regs van haar. Sy spring die trappe drie-drie op in die vae hoop dat daar iewers ’n deur of ’n ding sal verskyn waar sy kan in. Angspyltjies skiet deur haar hele lyf. Haar kopvel prikkel en haar mond is kurkdroog. Net adrenalien dryf haar.
Op, dis al genade, dink sy hygend en sy gryp die trapreling vaster en probeer haar treë rek. Boontoe. Die honde lawaai soos waansinniges en sy kan omtrent al voel hoe slaan hulle daardie afgryslike tande in haar vleis in. Dit lyk soos Dobermanns. Sy kyk vinnig om.
Dis toe dat haar lyf kennis maak met iets ysliks wat van bo af kom. Hard. Vir een oomblik huiwer sy op die rand van een van die trappe asof swaartekrag geen saak met haar het nie. Toe voel sy verbaas hoedat sy begin tuimel sonder dat sy enige beheer daaroor het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.