Название: Koors
Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Жанр: Ужасы и Мистика
isbn: 9780798173865
isbn:
Ek draal kamer toe. Pa haal nog asem.
* * *
Die huis is eenvoudig, ’n lang reghoek, met die leefgedeelte by die voordeur, drie slaapkamers en twee badkamers agter. Ek verken al die ander kamers van die huis sorgvuldig, maak kaste oop, kyk onder beddens. Daar is nie speelgoed in die kaste nie, daar is nie boekrakke teen enige van die mure nie. Daar is tydskrifte in ’n houtkis langs ’n stoel in die sitkamer. Sarie en Rooi Rose en Huisgenoot. Ek hou nie daarvan om dit te lees nie, want al die mense daarin is nou dood, al die TV-goed en flieks bestaan nie meer nie. Die hele wêreld is anders.
Ek kyk glad nie in die yskas nie, want ek en Pa weet daar is goed wat vrot geword het in al die yskaste, mens los hulle liewer toe.
Hoog in ’n koskas is twee groot pakke Simba-skyfies. Gerookte bief-geur. Ek hou meer van die blatjang-geur. ’n Groot staaf Cadbury-sjokolade. Ek maak die sjokolade oop. Ek weet dit sal vaal en uitgeslaan en sleg wees, maar ek hoop, want ek is dertien jaar oud.
Die sjokolade is sleg.
Ek eet een van die pakke skyfies leeg. Die smaak het al begin vervaag, maar dit is krakerig en vullend. Ek eet die ander pak ook.
Ek gaan kyk na Pa. Hy bewe nie meer nie. Hy het die kombers afgegooi. Hy sweet. Die wonde waar die honde hom gebyt het, is vlamrooi en opgehewe.
Ek sit teen die muur van sy kamer en kyk vir hom. Dit is verskriklik stil. Net Pa se asem wat ek hoor. In en uit. Te vinnig.
Die koors het hom.
4
Die man onder die veselperskeboom
Hulle het geweet Die Koors kom uit Afrika. Hulle het geweet dit was twee virusse wat gekombineer het, een van mense en een van vlermuise. Destyds het hulle baie daaroor geskryf, voor almal dood is.
Een dokter het in ’n tydskrif gesê niemand weet presies hoe dit alles begin het nie, maar hier is hoe hulle dink dit kón gebeur het: ’n Man lê iewers in tropiese Afrika onder ’n veselperskeboom. Die man se weerstand is laag, want hy is MIV-positief én hy kry nie behandeling daarvoor nie. Daar is al klaar een koronavirus in die man se bloed. Dit is nie eienaardig nie. Koronavirusse kom nogal algemeen voor. In die era voor Die Koors het hulle van minstens vier geweet wat griep- en verkouesimptome in mense veroorsaak.
Koronavirusse leef ook in diere. Soogdiere én voëls.
In die veselperskeboom sit ’n vlermuis, met ’n ander soort koronavirus in sy bloed.
Die vlermuis is siek. Diarree veroorsaak dat hy mors op die man onder die boom se gesig, sy oë, of sy neus, of sy mond. Die tweede koronavirus is nou in die man se bloed, die twee virusse vermeerder saam in dieselfde selle van die man se lugpyp. En hulle genetiese materiaal raak deurmekaar. ’n Nuwe koronavirus word gebore – een wat maklik ander mense kan aansteek wanneer dit ingeasem word, en wat die vermoë het om jou baie siek te maak.
Die man onder die veselperskeboom bly in ’n arm gemeenskap, waar mense dig op mekaar woon, waar MIV algemeen voorkom. Hy infekteer gou ander. Die nuwe virus trek deur die gemeenskap en hou aan met muteer. Een mutasie is net perfek: Dit versprei maklik deur die lug, dit neem net genoeg dae om mense dood te maak sodat elkeen baie ander mense kan aansteek.
Een van die man onder die veselperskeboom se familielede werk by ’n lughawe in die groot stad daar naby. Die familielid dra dié perfekte virus. Hy hoes op ’n reisiger, net voor dié vrou met die vliegtuig Engeland toe gaan.
In Engeland is daar ’n baie groot internasionale sportbyeenkoms.
Al die Eerstewêreldlande het ’n protokol vir dodelike, aansteeklike siektes. Selfs die meeste ontwikkelende lande het uitgebreide planne vir só ’n gebeurtenis. Daar is maatreëls en stelsels vir ’n epidemie. In teorie behoort hulle te werk.
Maar die natuur steur hom nie aan teorieë nie. Die feilbaarheid van mense steur hom nie aan teorieë nie.
5
21 Maart
Ek sit daar op die vloer langs die bed waar my pa met die koors lê en ek raak per ongeluk in die laatmiddag aan die slaap.
Iets maak my wakker. Ek hoor ’n kar. Ek dink eers ek verbeel my dit. Die geluid raak harder. Ek loop sag en vinnig na die voorkamer toe.
Dit is regtig ’n voertuig, die enjin hoog soos hulle teen die bult na die dorp toe uitjaag. Ek hardloop terug na die slaapkamer toe.
“Pa.”
Hy hoor nie.
“Pa,” sê ek harder, dringend. “Ek hoor ’n kar.”
Pa se asemhaling is vinnig. Sy mond is oop. Hy roer nie. Ek wil skree, ek wil baie hard vir hom skree, moenie doodgaan nie, ek is bang, hier is ’n kar hier buite, ons vertrou net vir mekaar. Kom terug uit die koors uit, ek is nog te klein om alleen te wees, Pa moet asseblief net nie doodgaan nie.
Maar ek is nog skaam oor gisteraand se roep na my ma. Ek staan net daar en kyk hoe my pa nie wakker word nie.
Die kar kom nader.
Ek hardloop terug na die sitkamer. Buite is die skaduwees lank, die son sit nou laag. Die kar kom nader en nader. Hy ry nou stadiger, ek kan hoor. Hy is nou in die dorp.
Ek wil na buite hardloop en vir hulle gaan sê: “Kom help my pa, hy is siek.”
Ons vertrou net vir mekaar. Dit het ek en Pa besluit nadat die mense ons wou beroof anderkant Bultfontein, vyf weke gelede. Ek kan nie uitgaan nie.
Die kar kom om die hoek. Dit is hier voor, in die straat.
’n Swart Jeep Wrangler, met ’n oop dak. Dit jaag verby. Dit lyk of daar drie mense in is. Dan is dit weg, straataf.
Ek moes hulle gestop het, want my pa is baie siek.
Ek hoor hier kom die Jeep terug. Ek sien dit hou stil oorkant die Volvo. ’n Man met baie lang, swart hare skakel die kar se enjin af. Hy het nie ’n hemp aan nie, net ’n langbroek. Hy is maer, sy borshare is donker en dig. Hy spring uit en loop na ons vragmotor toe. Hy het ’n geweer in sy hand.
Ek gaan hulle roep. Ek gaan vir hulle vra om my te help. Vir my en Pa. Ek begin deur toe loop. Dan sien ek die vrou agter in die Jeep. Sy het bruin hare wat deurmekaar is. Haar kop is onderstebo. Haar hande is vasgemaak aan die rolstaaf. Sy skree iets, asof sy ook baie bang is.
Ek gaan staan.
Die ander man, wat nog voor in die Jeep sit, het ’n T-hemp sonder moue aan, en groot armspiere. Hy slaan die vrou met die plathand. Sy huil. Hy skree vir die man by ons Volvo: “Wanneer laas is ons hier verby?”
“Week terug?” roep die een met die lang hare terug.
“Die lorry was nie toe hier nie.”
Langhaar klim op teen die Volvo se kajuit en probeer die deur oopmaak, maar dit is gesluit. Hy kom weer af. Hy sit sy hand op die uitlaatpyp. “Dis koud,” roep hy na die Jeep toe. “Is jy seker? Ons was dronk, daai tyd. Dit kan al lank hier staan.”
СКАЧАТЬ