Название: Koors
Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Жанр: Ужасы и Мистика
isbn: 9780798173865
isbn:
Voor ek en Jacob Mahlangu berg toe ry om vee te gaan oppas, gaan kyk ons gou: Ek sien vir Pa by die biskop en Beryl teen die heuwel staan. Hulle kyk hoe Domingo en die paar mans wat hom help die versperrings oprig. Pa lyk vaagweg senuagtig en bekommerd.
Domingo-hulle trek die twee busse dwars oor die pad, net mooi waar dit tussen die eerste twee heuwels deurloop. Dit is ’n slim keuse, want wanneer hy later ’n hekwag in die voorste bus laat sit, kan hy minstens drie kilometer bergaf sien. En met verdedigers teen die hoogtes sal dit baie moeilik wees om die nuwe hek aan te val. Domingo verwyder die twee busse se wiele om hulle baie moeilik skuifbaar te maak. Hy sleep ’n swaar ou Nissan-bakkie tot tussen die busse, sodat dit die dwarslat van ’n H vorm. Die Nissan sal eers moet beweeg voor enige voertuig tussen die busse kan deurkom.
Hy laat twee mense permanent op hekwagdiens staan – een in elke bus – toegerus met radio’s om vir hom en Pa te laat weet as iemand op pad is. Dan ry Domingo en sy span klippe en rotse aan, om die gapings tussen die busse en die heuwels aan die kant van die pad te vul. Dit neem hulle drie weke om dié taak te voltooi.
* * *
In die nag bring Domingo ongesiens nog tweehonderd R4-aanvalsgewere uit die berg uit, en genoeg ammunisie. Hy hervul die wapenstoor in die polisiestasie. En oor die daaropvolgende week kry almal in Amanzi kans om te leer skiet en hul talent ten toon te stel, mans en vroue, seuns en meisies, enigiemand ouer as tien jaar.
Dié wat op ekspedisies uit is, kry ook hul beurt wanneer hulle terugkom.
Domingo rig ’n skietbaan in by die tamaai ou klipgroef naby die damwal. Hy gee vir elke groep van tien skuts ’n uur se basiese opleiding in wapenhantering en wapenveiligheid. Dan laat hy hulle skiet. Wanneer almal redelik bedrewe is, toets hy ons: Elkeen moet vir hulself vyf klippe, min of meer so groot soos ’n baksteen, op vyftig meter pak en dit met vyf koeëls deur ’n oop visier probeer tref. So skei hy die koring van die kaf.
Ek kry my kans eers heelwat later. Ek word aangevuur deur ’n vrees vir vernedering, want ek het ’n bietjie spogtend vir die ander seuns vertel ek kán skiet. En ek is gemotiveer deur my begeerte om vir Domingo te beïndruk.
Ek skiet al vyf my klippe flenters.
Die volgende slag skiet ek teen al die ander vyfklip-finaliste – twaalf van ons. Dié keer moet ons oor honderd meter raakskiet. Ek dring deur, saam met ses ander, na die uitdun op honderd-en-vyftig meter. Steeds ses. Op tweehonderd is die klippe amper te klein om te sien. Net drie van ons dring deur. Die ander twee is ouer as twintig jaar. Ek sukkel om my trots weg te steek. Ek kyk kort-kort na Pa, maar hy lyk kwaad. Hy staan arms gevou vir my en kyk. Ek verstaan nie waarom nie.
Domingo loop na sy Jeep toe – dieselfde een waarmee die twee oorspronklike Vanderkloof-inwoners gery het. Hy haal drie ander gewere uit, gee vir ons elkeen een. Hulle het teleskope op. “Dis die DM-variant van die R4. DM staan vir ‘dedicated marksman’, dit is skerpskutter-gewere hierdie. Die teleskope is ingestel. Nou skiet julle op driehonderd meter,” sê hy vir ons.
Ek is die enigste een wat vyf uit vyf kry. Domingo gee vir my ’n vuisstamp. Ek hardloop na my pa toe.
“Pa, ek gaan ’n soldaat wees.”
Hy sê: “Jy is nog te jonk, Nico.”
“Maar Pa …”
“Nee. Jy is nog te jonk.”
“Asseblief, Pa.”
“Ons gaan nie daaroor stry nie,” en hy draai om, en hy loop.
Hoekom maak hy nou só? Ek het die skietkompetisie gewen, dit is my grootste oomblik, die hoogtepunt van my hele lewe. En hy loop net weg? Ek het ’n oomblik van volkome en diepe teleurstelling voor die kwaad deur my brand. Dit is so verskriklik onregverdig. Ek wil vir hom skree, hoe kan Pa dit sê? Wat van die twee ouens wat ek geskiet het? Toe Pa nie kon nie, toe Pa te sag was, te bang was om te skiet. Toe was ek nie te jonk nie. Wat van die honde wat ek moes doodskiet om vir Pa te red. Toe was ek nie te jonk nie. Wat van die bok, toe ons gaan jag het by die Koedoeskop Game Ranch? Toe was ek nie te jonk nie.
Ek trek my asem in om my woede te laat uitkom, om dit alles vir hom te skree, voor almal, ek gee nie om nie, hy het my verraai.
’n Hand op my arm, vingers wat baie styf druk. Ek kyk. Dis Domingo. Hy skud net sy kop.
27
Die perfekte storm
In daardie Mei en Junie wankel die jong nedersetting van Amanzi.
Die eerste sneeu en koue, so buitengewoon intens en heeltemal onverwags, ontbloot ernstige tekortkominge in vaardighede en kennis, denke en beplanning. Ek hoor hoe ’n inwoner vir ’n ander sê my pa is nie so slim soos wat almal dink nie. Hoekom kies mens ’n plek vir ’n nuwe begin as daar nie eens genoeg bome vir brandhout in die winter is nie?
In dié gure weer eet ons meer, maar ons kry minder kans om na nuwe kosvoorraad te soek. ’n Klomp mense moet help om strate, dakke en gebarste pype reg te maak, skoorstene oop te maak, dikwels sonder die regte kennis of gereedskap. Ander moet hout aanry en opsaag, harde fisieke werk. Die wat wel op voedselekspedisies gaan, sukkel om te vorder op die gladde of beskadigde of onbegaanbare paaie. Daar is vir drie weke geen skool nie, die kinders moet help met die baie werk. Seuns van vyftien en sestien gaan saam met grootmense uit op ekspedisies, op soek na kos en skaap en bees en varke en hoenders. Maar ek word nie vir een gekies nie.
En steeds groei ons getalle; daar is elke week nuwe groepies moeë, honger aankomelinge.
As die onverwagse ysige temperature en sneeu die enigste terugslag was, dink ek ons sou relatief maklik kon oorleef en oorkom. Dit is die rooftog deur Die KTM wat alles verander, wat die domino’s vinniger laat kantel. Die verlies aan wapens en veiligheid erodeer die optimisme en selfvertroue van Amanzi. Die verlore kos en brandstof stoot die gemeenskap tot op die rand van ineenstorting, die honger en ontbering blaas die vlamme van ontevredenheid en rebellie aan. Almal weet ons moet voedsel rantsoeneer. Almal stem saam dat ons dit in Pa en Ravi Pillay se hande kan laat om die verdeling op ’n regverdige manier te doen. In die eerste week of twee ná die KTM-inval aanvaar almal dié omstandighede gedweë. Dan begin die honger egter knaag, en die mense kla: Waarom kan ons nie nog beeste en skape slag nie, of van die hoenders waarmee Hennie Flaai boer in die tydelike geboue van die ou vakansieoord? Waarom kan ons nie nog springbokke in die ou reservaat skiet nie?
“Want dit is ’n uitputbare bron, en die winter lê nog lank en koud voor,” verduidelik Pa elke keer geduldig, en die Komiteelede staan bankvas agter hom. “Ons moet volhoubaar bestuur, en dit gaan soms vir opofferings vra.”
Die druk op my pa is erg. Meer as een keer word ek in die middel van die nag wakker, dan sien ek hy sit regop in die bed en staar voor hom uit. Hy moet ’n nuwe gaatjie in sy gordel maak, want hy verloor gewig. Dit is asof hy die volle verantwoordelikheid vir die groeiende ramp alleen wil dra. Op 26 Junie, voor die OK Value-supermark, kla nog ’n groepie inwoners oor die grootte van die rantsoene wat uitgedeel word. Pa probeer weer verduidelik van langtermynbeplanning.
“Maar wie gee vir jóú die reg om oor sulke goed te besluit?” roep ’n vrou se stem, bitsig en anoniem van iewers in die ry. Ander stemme murmureer saam, ’n groeiende golf van tweedrag.
Dit is wanneer Pa sê die enigste oplossing is ’n demokratiese verkiesing. So gou moontlik.
* СКАЧАТЬ