Sonligdroom. Annatjie van Tonder
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sonligdroom - Annatjie van Tonder страница 5

Название: Sonligdroom

Автор: Annatjie van Tonder

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796319388

isbn:

СКАЧАТЬ sal nie nodig wees nie.” Toe vertel sy hulle waarom sy in ’n skoktoestand was. “Seker omdat dit so met my eie ervaring ooreengestem het,” verduidelik sy. “Nee wat, oom Theuns, ek sien nogal uit daarna om weer te preek.”

      Theuns en Bella glimlag albei, maar Marcella sien tog die skadu wat oor Bella se gesig gly. “Hierdie ongeluk het toe heel anders verloop as die een waarin jy en jou oorlede man was, Marcella,” begin Bella sag vertel. “Die man en vrou was van ons gemeentelede, en Lukas het so ’n halfuur gelede laat weet die vrou het ook nie lewend daarvan afgekom nie. Miskien ook maar goed, want sy sou haar bene nie weer kon gebruik het nie.”

      Verslae sit Marcella en luister. Hoe tragies tog. Arme Lukas, en die chirurg wat geopereer het. Dis seker vir hulle erg. Dan het sy nog baie om voor dankbaar te wees, want hier sit sy ongedeerd met ’n toekoms wat steeds wink. “Was daar kinders?” vra sy huiwerig.

      “Nee. Genadiglik nie,” antwoord Theuns.

      Bella beaam met ’n kopknik, en Marcella verwonder haar aan die statige vrou se mooi, blink grys hare.

      • • • •

      Marcella kyk oor die see gesigte heen. Dit voel so bekend, amper asof sy nog van altyd af hier is. Gelukkig voel sy kalm en sterk. Tevrede dat haar preek goed afgeloop het, luister sy na die orrelspel terwyl die kollekte opgeneem word. Lukas is voorwaar ’n meester en haal uit die orrel wat min hom kan nadoen. Regop-rug sit hy daar en tower die mooiste klanke op. Ongewone kombinasie, dink sy, narkose en musiek. Tog kry hy dit reg om hom met gemak in albei wêrelde uit te leef.

      Miskien is die musiek juis sy terapie.

      Toe die orreltone wegsterf, sien sy Theuns se goedkeurende kopknik. Dan reken hy darem dit het goed gegaan. Tog weet sy, in alle nederigheid, dit was net krag van Bo wat haar die boodskap onbevrees laat bring het. Wat haar van Lukas se misnoëe met ’n vrou as predikant laat vergeet het. Haar liefde vir die Een wat sy dien, is sterker as die mening van mense.

      Sy staan op om die laaste lied aan te kondig. Skielik swem alles voor haar oë toe die herinnering fel en helder na haar toe kom. Wouter het altyd voor, regoor die kansel, gesit en stout geknipoog wanneer sy die laaste lied opgee.

      Nou kry sy die liednommers nie gelees nie, hulle is in ’n wasigheid gehul. Hier is nie elektroniese fasiliteite wat die woorde op ’n skerm gooi nie; die gemeente gebruik nog hul boeke. Benoud knip sy haar oë en noem sommer uit die bloute ’n lied in die hoop dat Lukas dit sal kan speel.

      Hy draai om en kyk oor die afstand na haar, maar ook sy gesigsuitdrukking swymel. Gelukkig kom die gemeente niks agter nie, want almal is naarstig aan die opsoek. Dan sug sy verlig toe Lukas die inleiding begin speel. Hy begelei so goed, die gemeente sal definitief nie agterkom dat hy dit nie vooraf geoefen het nie.

      Sy is kwalik by die huis of die voordeurklokkie lui.

      Hy staan voor haar, hande in die sye, sy oë soos stormwater.

      Kwaad.

      “K-kom binne,” stotter sy en tree agteruit.

      Lukas stap by haar verby tot in die sitkamer, maar gaan sit nie. Hy plant sy voete ver uit mekaar en kyk haar uit die hoogte aan.

      Hoe verwens sy tog nie haar gebrek aan lengte nie. Nou moet sy soos ’n kind na hom staan en opkyk.

      “Jou idee om van my ’n gek te maak, het gelukkig nie geslaag nie,” beskuldig hy.

      Hy hoef dit nie uit te spel nie, sy weet hy verwys na haar blaps met die lied. “Wys jou net dat jy my glad nie ken nie,” antwoord sy hees. “Ek het g’n behoefte om van ander mense gekke te maak nie. Daarvoor is ek maar net te bewus van my eie brose menslikheid. Ek probeer volgens die Boek leef: ‘Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê’. ” Sy byt op haar onderlip in ’n poging om haar mond se bewing te beheer. “Dit was per ongeluk die verkeerde nommer.”

      Dit lyk of hy haar woorde staan en oordink. “Goed, ek aanvaar wat jy sê. Dan het jy seker nie op daardie oomblik gekonsentreer nie. Ek sal jou aanraai om nie op die kansel te staan en droom nie, Dóminee.”

      Sy kan dit nie teenoor hom erken nie, maar hy is in die kol wat die konsentrasie betref. Die oomblik toe sy aan Wouter gedink het, het haar konsentrasie versplinter. En sy sal in die toekoms daarteen moet waak. Dit besef sy baie goed.

      “Het jy klaar gepraat, Dokter?” vra sy reguit.

      “Ja, ek het. Dink maar gerus na oor my woorde. Ek geniet my pos as orrelis baie, wil dit nie deur kleinlikhede versuur hê nie. Totsiens.” Sonder ’n verdere blik in haar rigting stap hy uit.

      Verslae syg sy op die leunstoel neer. “Laat julle lig dan skyn vir die wêreld en moenie dit onder ’n maatemmer verberg nie.” Dit was haar preek vanoggend.

      Dit voel of ’n groot duisternis die helder lig uitwis.

      Hoofstuk 3

      “Kan sowaar nie glo doom Marcella is al drie maande hier by ons nie,” val Ollie weg sonder om te groet. “Is jy al tuis op Skoonstroom?”

      “Ja, dankie, Ollie.” Sy glimlag vriendelik en sit die liederelys op die lessenaar neer. Algaande het sy vasgestel Ollie is onskadelik, stel maar net intens belang in mense en gebeure. Maar sy probeer hul gesprekke nogtans skraal hou en het haar dit ook maar laat welgeval dat Ollie haar deesdae “doom” noem. Sy vind dit seker gemakliker.

      “Ons ou beer lyk gelukkig in die laaste tyd nie meer so befoeterd nie,” laat Ollie glip. “Dalk het Linda dit uiteindelik reggekry om hom mak te maak.”

      Die beer is natuurlik Lukas, besef Marcella en glimlag heimlik. “Wie’s Linda?” vra sy nuuskierig en besef te laat sy het netjies in Ollie se strik beland.

      Ollie leun behaaglik vorentoe met oë wat glinster van gretigheid om die sappige brokkie nuus oor te dra: “Die nuwe kraamsuster hier by die hospitaal. Blonde bom. Glo die dogter van ou vriende van doom Theuns-hulle in ’n vorige gemeente.” Ollie rol haar oë. “En die nursies sê … sy het net oë vir ons dokter. Shame, hulle sê hy lyk sommer baie vriendeliker. Ag, siestog, maar hy was ook so lank ongelukkig, ek gun hom die geluk.”

      Soos Ollie praat, sou ’n mens aanneem daar is al ’n verhouding, dink Marcella, en kan nie verstaan waarom die brokkie nuus haar so krapperig laat voel nie. “Dan’s ek ook bly vir sy part. Sy is seker dan sy nommerpas.”

      “Pragtige mens.” Ollie se oë skitter van opwinding. “Lyk omtrent soos ’n pop. Fyn, blond en baie sexy,” besing sy die verpleegsuster weer van voor af. Dan lyk dit of sy skrik. “Ag, Doom gee mos nie om dat ek so sê nie. Ek meen, sexy ís sexy. Daai iets wat nie alle vroue het nie, nè?”

      Marcella probeer haar die wese voorstel wat Ollie optower. Die waardige, strenge Lukas en die sexy pop. Nogal amusant.

      Op pad dorp toe kring haar gedagtes weer om Lukas. Sy en haar buurman sien mekaar sedert die Sondag van die lied-episode net skrams op ’n afstand. Hulle groet wel met stywe kopknikke, maar dit eindig daar. Sy betaal die huurgeld stiptelik in sy bankrekening in, en gelukkig het hulle mekaar nog nie weer by die kerkkantoor raakgeloop nie. As dit haar preekbeurt is, kyk sy meestal teen sy rug vas. Maar sy kan dit nie ontken nie, sy musiek raak aan haar hart. En op die mees ongeleë tye duik sy blougroen oë voor haar geestesoog op en krap haar hewig om. Dis omdat dit so ’n besonderse kleur is, maak sy haar wys.

      Maar СКАЧАТЬ