Название: Openbaring
Автор: C. Johan Bakkes
Издательство: Ingram
Жанр: Книги о Путешествиях
isbn: 9780795801136
isbn:
Weer eens bekyk ek my reisgenote. Buiten Fellies het ons al elkeen vyftig winters agter die blad. Ek en Kalie loop al amper dertig jaar saam. Roland en Fellies is twaalf jaar gelede se toevoeging tot ons reisende vriendekring. Ons het al harde avonture agter die blad en verstaan mekaar. Dít sluit in dat ons mekaar se individuele stront aanvaar en daarmee kan saamleef. Ons raak vir mekaar die hel in, maar kan net so mekaar die volgende dag weer om die hals val. En dis bitter belangrik as jou reise jou na woeste plekke neem – plekke met die risiko dat daar moontlik nie vir jou plek op die terugreis sal wees nie.
Dis interessant hoe ons tog verskil wat die reis betref. Ek en Roland het geen probleem as ons ’n keer of wat iewers in ’n kuierplek met ’n nes PB’s (plaaslike bevolking) opeindig nie. Fellies en by uitstek Kalie hou nie van baie mense nie en as hulle hul sin kon kry, het ons byvoorbeeld vanaand iewers buite Moskou gekamp. Ek geniet die onvoorsiene verandering van oomblik tot oomblik, terwyl Kalie alles in die fynste detail georganiseerd probeer hê. Roland gee nie om wie wat reël nie, solank daar net ordentlike beplanning gedoen is. Dis ’n ou militêre streek: “Know your enemy.” Fellies se uitgangspunt is dat dinge moet werk soos hy glo dit moet werk; en indien nie, dan is daar maniere om dinge in plek te kry, al huur jy die kavallerie in. Ons het egter een ding gemeen: ons het almal reeds genoeg kerke, katedrale, moskees, stoepas en abdye gesien. Hou verby.
Dis koud wanneer ’n vet, toegewikkelde Rus wat Duits praat ons gly-gly deur ys en sneeu na ’n wagtende bussie begelei. Dis so! Sergei, tans iewers in die Wes-Siberiese hoofstad Nowosibirsk, het gesorg.
Moskou met sy tienmiljoen inwoners is groot en uitgesprei, daarom het ek nie ’n idee binne die konsep en groter prentjie van oriëntasie waar ons ons bevind wanneer ons by die luukse Hotel Alfa in Izmailowo afgelaai word nie.
Het ek gesê “luuks”? Daar is nie ’n manier dat ek myself iewers in so ’n plek in Suid-Afrika sou inboek nie – dis eenvoudig buite my beursieverwysing. Oral trippel mooi meisies rond, geklee in skrapse vlootuniforms (dít in die dik koue van ’n Russiese winter). By elke pilaar staan ’n gestrenge KGB-uitsmyter, hande oor sy gesteroïede bors gevou. Ons – opgereisde, verwaarloosde Afrikane in stapbootse – word na luukse kamers ge-eskort. Soos gewoonlik is ek en Kalie kamermaats, en Fellies en Roland sal vir die res van die reis ’n kamer deel.
Opgereis? Watwo! Ons is net vanaand in Moskou. Môre vlieg ons oor drie tydsones wes na Sergei in Nowosibirsk. Moskou se Nuwejaarsnaglewe wag.
Fellies tree as gids op. Eie aan sy aard het hy die Russiese Cirilliese skrif foneties onder die knie gekry. Hy deel selfs vir ons elkeen ’n naamplaatjie uit. Myne lees: ËXAHH3C 6AKK3C. Wat staan vir “Johannes Bakkes”. Hy kan dus Russies lees, maar verstaan nie ’n woord nie.
Plaatjiegepantserd sak ons af in die ondergrondse moltreine in. Fellies het by Pavlo, die kroegman, ons eindbestemming in Cirillies op ’n papiertjie gekry en met sy kennis van Russies koop hy nét twee reiskaartjies Rooiplein toe. Toe ek en Roland net ná hulle deur die hekke wou beur, klap hulle toe en slaan strategies laag. Een van Confucius se wyshede kom by my op: “Man walking naked through swinging door is going to Bangkok.”
Moskou se metro of moltrein is ’n belewenis op sy eie. Die treine hardloop diep in die stad se maag. By party stasies roltrap jy tot honderd-en-vyftig meter onder die grond in. Maar die mooiste van alles is die stasies. Elke stasie is uitgelê in marmer en getooi met bas-verligtings, pleisterkalk-mosaïeke en kandelare. By die stasie genaamd Plosjtsjad Rewoljoetsii, byvoorbeeld, is die hele plek vol lewensgrootte bronsstandbeelde van die gewone Rus as soldaat, arbeider en landbouer.
Dis ook by Plosjtsjad Rewoljoetsii waar ons uitgespoeg word op die Rooiplein. En wát ’n gesig. Dis koud, sagte sneeu sif neer. Daar is duisende mense en die reusagtig verligte Kersbome omtower die beeld van T54-tenks en ’n massa “goosestepping” Sowjettroepe – só ingebrand in enige Suid-Afrikaanse nasionale dienspligtige se brein – in ’n sprokieswêreld.
Al was ek reeds twee keer tevore hier, is ek so oorweldig dat ek nie kan ophou foto’s neem nie. En dis net daar waar ek kort duik (amper soos die selfvoldane Robbie Fleck wat net voor die doellyn ingehardloop en gelak word deur Deon Kayser). Want toe ek opkyk, is my vriende weg. En hier staan ek tussen seker ’n honderdduisend Russe en ek kan nie Cirillies lees nie, ek kan nie Russies praat nie en ek het nie opgelet by watter metrostasie ons hotel is nie. Ek besef die enigste manier wat ek hier kan uit, is om die Suid-Afrikaanse Ambassade te kontak (deur Retha Fabricius) en ’n vliegtuig Nowosibirsk toe op my eie (deur Retha Fabricius) te reël … en vir Sergei (deur Retha Fabricius) te kontak om my by die lughawe te lig.
’n Ligte paniekerigheid oorval my. Selfs al soek my vriende na my, is daar geen manier dat hulle hierdie bebaarde Raspoetin tussen ander bemuste, bewolde en toegewikkelde Russe gaan uitken nie. Ek besef ek kan hulle nie met my selfoon bel nie, want hulle het alle oproepe na mense in die Republiek toe gekanaliseer. Menende dat sou ek vir Kalie bel, gaan ek uitkom by sy seun Freddie wat tans iewers in Stellenbosch vir sy pa boer.
Toe SMS ek maar: Ek kry julle by die hoofingang van St. Basil se versiersuiker-katedraal. En omdat dit ’n tweede besoek is en ons nie van katedrale hou nie, verenig ons toe nét daar.
En omdat dit so bitterlik koud is en omdat ons vreemd wild geklop is, sak ons daar in die middel van Twerskaja Oelitsa, Moskou se hoofstraat, in ’n Meksikaanse drinkplek in. Ons bestel ’n wodka en nachos, verkyk ons aan die mooie Russiese meisies, en sweer ons sal mekaar nooit weer alleen los nie. Min wetende …
Injera, koffie, khat en Anna Davel
Drugs may be the road to nowhere, but at least it’s the scenic route.
– Onbekend
Ek en Kalie reis deesdae nie meer maklik sonder mekaar nie. Die ding kom al van jare terug. Ou dae het ek alleen die avonture aangepak en vyftien jaar lank het Kalie nét geboer. Ek’t hom wel saam genooi maar sy antwoord was maar altyd: “Norrefok, ek moet boer.” Ek weet egter sy hart was altyd saam die wye woestheid in. Tot eendag – toe die plaas staan gemaak is, toe gaan hy saam en hy neuk by omdraai verby. Nou’t ék nie meer rus nie. As dit net lyk of ek op my stoep wil sit en na die berge tuur, dan reël hy ’n ekskursie. Dan beplan ons ’n jaar of wat lank, óf in sy kroeg óf in myne, met ’n botteltjie of wat vir geselskap, aan die mees bisarre reise wat ons kan uitdink.
Nou, die woorde “bisar”, “gevaarlik” en “onlekker” is moerse belangrik. Dit moet so sleg klink dat ons vrouens geen behoefte sal hê om te wil saam nie. So sou ons dan Indië toe moet gaan om die berg Stok Kangri (6 200 m) in die Ladakh-provinsie te gaan klim. Die feit dat die Taj Mahal en Varanasi toevallig op die pad soontoe lê, is ’n bysaak.
Dis dan ook op hierdie reis dieselfde. Die doel van die besoek aan Ethiopië is om Ras Dasjen, die vierde hoogste berg in Afrika, te gaan beklim – maar eintlik om na die warmste plek op aarde waar mense nog ’n leefwyse uitkerf, te gaan. Ons kan nie help dat Ethiopië en al sy besienswaardighede ook by die soontoe-en-terug-reisplan ingesluit is nie.
Degarege Fente ontmoet ons laggend op die Bahir Dar-lughawe. Ek sien onmiddellik die ondeundheid. In die gewone lewe is hierdie mannetjie ’n ou kakmakertjie, dink ek.
Soos die flenter-vervoermiddel ons deur flenter-strate van die dorp karwei, spring Degarege elke dan en wan op om iets te beduie. Nét daar, ook miskien omdat die uitspraak beter op ons tong val, herdoop ons hom na “Steyntjie”.
Bahir СКАЧАТЬ