Название: Donderslag
Автор: Wilbur Smith
Издательство: Ingram
Жанр: Исторические приключения
isbn: 9780795707551
isbn:
Weer eens klap die kanonskote, en dan weer. Elke salvo is minder gelyk as die vorige, totdat dit ’n aanhoudende gestotter raak, ’n dawerende gedruis. Naderhand raak die rante se skerp buitelyne vaag van al die stof en liddietdampe.
Behendig stel Sean sy Leemetford se agterste visier op ’n duisend jaarts, kruip vorentoe op sy elmboë, kom in die skietposisie en begin blindelings in die rook teen die hellings in skiet. Langs hom skiet Saul ook.
Twee keer skiet Sean sy magasyn leeg voordat hy terugkyk na die kanonne toe. Die tempo waarteen hulle vuur, het afgeneem. Die meeste van die perde lê plat in die gras. Dooie mans hang oor die kanonwaens, langs hulle soek swaar gewondes skuiling. Waar ses man voorheen elke kanon beman het, is daar nou net drie of vier wat die koeëls aandra, laai en afvuur.
“Die drommels, die arme drommels,” prewel Sean en begin opnuut skiet, konsentreer heeltemal op die roetine van die grendel terugtrek, vorentoe stoot, mik in die rook, en skiet. Hy tel nie die skote nie en elke keer as die geweer leeg klik, voel hy na nog patrone in sy bandelier en herlaai. Hy begin sweet, voel die druppels onder sy arms loop. Sy ore suis van die geweerskote en pyn klop in sy skouer.
Mettertyd sak ’n gevoel van onwerklikheid oor hom neer, weens die oorverdowende kanonskote en die reuk van gebrande buskruit. Dit voel asof lê en skiet al is wat hy ooit sal doen – skiet na rook, na niks. Dan wyk die werklikheid nog verder; al wat oorbly is die V van sy visier en die korrel op die voorpunt van die loop, solied teen die rook. En die rook het geen vorm nie. In sy ore is ’n geweldige gesuis wat alle oorlogsgeraas uitdoof. Hy is alleen en rustig, sy sinne swaar en dof weens die hangende rook en die onophoudelike herhaling van laai en skiet, laai en skiet.
Skielik word die stemming gebreek. ’n Geruis soos dié van groot vlerke trek oor hulle, dan kom ’n knal asof Satan die hel se hekke oopstamp. Verbyster kyk hy op en sien ’n bal glinsterende wit rook in die lug bo die kanonne verskyn. Dit warrel en sprei wyer, bloei soos ’n blom in die lug.
“Wat de …”
“Skrapnel,” kreun Saul. “Nou’s dit klaarpraat.”
Dan ’n knal en nog een soos die Boere se Nordenfelts hul watteblomme van rook oor die vlakte plant. Dit skeur oor die kanonne en deur die manne wat in ’n zoemende storm staalskerwe probeer werk.
Dan is daar stemme. Dit vat ’n ruk vir Sean, deurmekaar en beneweld van die geweervuur, om agter te kom wat dit is. Hy het van die voetsoldate vergeet.
“Bly bymekaar.”
“Nader aan mekaar daar aan die regterkant, bly in julle rye!”
“Moenie hardloop nie. Hou net die pas, manne. Moenie hardloop nie.”
Ry op ry van soldate, lyne wat uitswel en daal en dan onder hulle offisiere se bevele reguit trek. Eweredig gespasieer, elkeen met sy geweer voor die bors, ploeter hulle voort en marsjeer by die kanonne verby. Agter hulle laat hulle bondels kakie op die vlak lê. Party lê stil, maar ander kreun en skreeu. Namate gate in die lyne oopval, word hulle gevul met oproepe van: “Vul op, vul op, bymekaar daar, manne.”
“Hulle is op pad na die spoorbrug toe.” Sean sien dat dinge op ’n ramp afstuur. “Weet hulle dan nie die brug is verwoes nie?”
“Ons moet hulle keer.” Saul spring orent langs Sean.
“Hoekom volg die idiote nie ons merkers nie?” Ontstoke skreeu Sean die vraag sonder antwoord. Hy doen dit om tyd te wen, om die oomblik uit te stel wanneer hy sy grasskuiling se yl dekking moet verlaat en in die oopte in gaan waar die skrapnel en Mauserkoeëls die lug deurklief. Sean se vrees kom met mening terug. Hy wil nie opstaan nie.
“Komaan, Sean. Ons moet hulle keer.” En Saul begin hardloop. Hy lyk soos ’n klein, maer apie, al hollend na die aankomende golf soldate toe. Sean trek sy asem in en hou dit ’n oomblik in voordat hy sy makker agternasit.
Twintig jaarts voor die eerste ry soldate kom ’n offisier flink op lang bene aangestap. Sy swaard is uit die skede getrek en hy hou dit in sy een hand. “Haai, jy!” roep Sean, en waai sy hoed om aandag te trek. Hy kry dit reg. Die offisier kyk hom aan met helderblou oë soos ’n paar bajonette en sy moestas se gewakste punte wikkel. Hy stryk aan na Sean en Saul toe.
“Julle mik vir die verkeerde brug,” skree Sean vir hom, sy stem hoog van frustrasie. “Hulle het die spoorbrug opgeblaas, julle sal nooit daar kan oor nie.”
Die offisier bereik hom en breek sy pas.
“En wie de hel is jy, as dit nie ’n onbeskofte vraag is nie?”
“Ons is die verkenners …” begin Sean, maar ’n Mauserkoeël slaan in die grond tussen sy voete vas en hy spring eenkant toe. “En sit daai verdomde swaard weg – jy sal maak dat elke Boer aan die Tugela probeer om jou eerste om te klits.”
Die offisier, ’n kolonel volgens die krone op sy skouers, frons vir Sean.
“Die korrekte aanspreekvorm, sersant …”
“Te hel daarmee!” bulder Sean vir hom. “Draai julle opmars na die padbrug toe.” Hy beduie verwoed na die brug se staalstruktuur wat links bo die doringbome uitsteek. “As julle hierdie kant toe aanfoeter, sal hulle julle uitmekaar skiet.”
Die kolonel staar nog ’n oomblik langer met sy bajonet-oë na Sean, dan steek hy ’n silwer fluitjie tussen sy lippe en blaas skril daarop.
“Val plat,” roep hy. “Val plat!”
En dadelik duik die voorste linie in die gras neer. Agter hulle verloor die ander rye vorm soos die manne huiwer.
“Maak dat julle in die dorp kom,” skree ’n stem. “Soek skuiling in die geboue.” En hulle lê rieme neer, elmboë kap mekaar soos hulle na die veiligheid van Colenso se huise toe hol. Hulle storm in die enkele straat in, duik by deure en vensters in. Binne dertig sekondes het elkeen skuilplek gevind.
“Nou, wat is jou storie?” dring die kolonel by Sean aan. Ongeduldig herhaal Sean wat hy gesê het, staan oop en bloot, ongemaklik bewus daarvan dat daar nie ander teikens is om die Boere se aandag van hom af te trek nie.
“Is jy seker?”
“Magtig! Natuurlik is ek seker. Die brug is verwoes en hulle het rolle doringdraad in die rivier gegooi. Julle sal nooit daar kan deurgaan nie.”
“Kom saam.” Die kolonel kies koers na die naaste huisie toe en Sean loop langs hom. Ná die tyd weet hy nie hoe hy dit reggekry het om daardie honderd jaarts af te lê sonder om te begin hardloop nie.
“Om hemelsnaam, sit tog daardie swaard weg,” brom hy vir die kolonel terwyl hulle stap met koeëls wat heeltyd om hulle klap, woer en fluit.
“Gespanne, sersant?” En vir die eerste keer glimlag die kolonel.
“Allamagtig, ja.”
“Ek ook. Maar ons kan nie dat die manne dit sien nie, of hoe?” Hy vat die skede op sy heup vas en laat die swaard daarin terugglip. “Wat is jou naam, sersant?”
“Sean Courtney, Natal Corps of Guides. En joune?” Sean koes instinktief toe ’n koeël verby sy kop blits, en die СКАЧАТЬ