Название: Die ewigheid in my hart
Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318947
isbn:
U weet tog ek bid veral soggens,
en soms ook in die aand –
maar die afgelope tyd het ek heeldag
na U geroep, tot diep in die nag. Sonder ophou.
Was dit nie hard of aanhoudend genoeg nie?
Waar is U?
U was dan nog altyd daar vir my –
en só het my pa en ma U ook geken.
Hulle het my van my oupas en oumas vertel,
en oor hoe U destyds vir hulle en hul mense gesorg het.
Hoe hulle by U die skuiling gevind het
waarna hulle so wanhopig gesoek het.
Ag, hulle het dikwels daarvan getuig, gespog selfs.
Wat het dan nou gebeur, Here?
Waar is U?
U moet net hoor hoe die mense praat!
Eintlik praat hulle nie, hulle beskinder my agter my rug;
hulle lag my uit en dink ek hoor dit nie.
Hulle wys met die vinger en dink ek is blind.
Hulle het ’n smalende mond vol te sê
oor my, wat vas glo dat U tóg sal ingryp.
U sál mos, nè, Here?
U was reeds my beskermer
toe ek nog in my pa se huis was;
my versorger toe ek in my moeder se skoot was.
Of hoe, Here …?
Lees Psalm 22:12-22a | 2 Februarie
Here-buite-hoorafstand
Hóór my, Here, ek is desperaat! Dinge raak nou lelik:
’n Siedende horde keer my vas; ek is omsingel.
Ek sien reeds hul slagtande glinster.
Ek moet my seker op die ergste voorberei …
Daar is niemand vir my nie, dit is net U.
Of eerder: Dit wás net U.
Want U swyg steeds. U is ver.
U is … weg.
As U hier was, sou U gesien het hoe ek lyk:
Ek is net ’n skadu van die mens wat ek was.
My lyf, my moed, my hart, siel en verstand –
alles is daarmee heen.
Ek het opgegee. Ek het eenvoudig nie meer
die krag om te probeer nie.
Ek het niks te sê nie en ek voel niks meer
vir dié dinge wat voorheen saak gemaak het nie.
Ek kyk maar gelate toe terwyl ek verguis word,
in die stof vertrap word. Uitgeteer, willoos, gevange.
’n Skamele tree weg van die dood.
Kyk dan hoe trek hulle my uit,
kýk hoe verlekker hulle hulle in my vernedering.
Hoor hoe lag hulle oor my hulpelose naaktheid –
kyk net hoe baklei hulle met mekaar …
en dit oor my klere, Here!
Met wie het ek nou gepraat? Seker maar met myself.
Daar is niemand anders nie. U luister tog lankal nie meer nie.
U het U tot buite hoorafstand onttrek.
Moet ek roep? Dalk nog één maal probeer?
Ek is reeds kaal uitgetrek; ek het niks meer om te verloor nie.
Daarom skreeu ek maar: Here, hoor my tog!
Hére!
Here, hélp my!
Lees Psalm 22:22b-32 | 3 Februarie
God oneindig goed
Niemand sal my glo nie, Here –
ek glo dit self maar swaar –
maar U hét my toe gehoor.
Uiteindelik! sal die spotters sê.
Sonder twyfel, sê ek.
Ek weet dit, want U het my geantwoord,
só geantwoord dat dit net U kon wees.
Wie anders ken my so goed soos U?
Wie ken my mees persoonlike omstandighede,
tot in die fynste besonderhede?
Wié weet van my aanhoudende geweeklaag?
Nee, dit is net U. Dit kan net Ú wees.
En daarom wil ek uitroep: “Júlle! Hoor hier!
Die Here is groot! Die Here is goed!”
Kom nou, al my mense, kom luister na my as ek sing:
“Die Here is groot! Die Here is goed!”
Hulle sal kom wanneer ek praat, Here –
ook dié wat laas so ’n groot mond gehad het.
Ook hulle is my mense.
Maar hulle sal hierdie keer moet luister,
móét hoor van die Here se goedheid,
sodat hulle nie anders kan nie as om voor U te kniel.
Ja, dit sluit almal in.
Ook die rykes –
want waar kom hul seëninge vandaan?
Én die ou mense –
want wie anders as U is hul bestemming?
Én die geslagte wat nog kom –
want wie sal СКАЧАТЬ