Название: Brandwaterkom
Автор: Alexander Strachan
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624073376
isbn:
Nie lank hierna nie hoor die dominee ’n knaende geblêr al om die pastorie. Toe hy ondersoek gaan instel, kry hy oom Aap te perd al blêrende om die huis. Eers nog ’n slag om die pastorie. Toe sê hy aan doomnies De Kock die skaap is verdwaal en soek sy herder.
Die oorstaan en joligheid op Harrismith was verby en Vilonel voel hom tuis in die berede afdeling. Aan die jukskeigooi het hy nie deelgeneem nie, wel op ’n afstand toegekyk. Soveel intense meelewing in dié primitiewe aktiwiteit is vir hom moeilik om te begryp. Hy het hom ietwat vervreem gevoel in die stof wat opgeskop is en die ledige ure met leeswerk en die versorging van sy perde verwyl.
Daar was nou twee geestelikes saam met hulle op kommando: Doomnies John Kestell van Harrismith en Paul Roux van Senekal. Beide het hulle algou uit die voete gemaak toe die burgers om die vure begin fles vat. Roux het toe in Kestell se dorpswoning tuisgegaan.
Tydens die rit het Vilonel opgemerk Roux is heelwat taaier in die saal as wat mens van ’n kerkman sou vermoed. “Natuurlik hou ek by!” het hy ’n paar keer vererg geblaf as ’n burger hom wou bystaan.
Saans ná die harde rit het hy onvermoeid huisgodsdiens gehou. Dis mos waarvoor hy saamgekom het. Laat slap lê, had hy nie. Dié kon Vilonel van getuig. Op Harrismith het hy een of twee keer in die rigting van Vilonel se kampplek gemik. Was die krapperigheid tussen hulle nog nie opgeklaar nie?
“Kyk, die kerkman hou hom by tye te wel ter tale in plaas daarvan om ’n saak direk te adresseer!”
Só het Vilonel ’n ruk gelede in Senekal teenoor ’n medelidmaat opgemerk. Eintlik was Roux maar vier jaar ouer as Vilonel. Dat die predikant aan die Kaapse spogskool Paarl Gimnasium gematrikuleer het, was Vilonel deeglik van bewus. Ook dat hy sy proponentseksamen met lof afgelê het en boonop daarna klas aan ’n universiteit in Edinburg, Skotland, geloop het.
“Hoe dit ook al sy,” het Vilonel daardie dag opgemerk. “Laat jou punt inslaan sonder omhaal of beeldspraak.”
Die woordestryd het ontstaan toe doomnies Roux ’n gemeentelid tydens huisbesoek oor sy geestelike toestand uitgevra het. “Doomnies, ek het opgehou om te dans, te vloek en te drink,” het die lidmaat geantwoord. Waarop doomnies Paul Roux soos volg gereageer het:
“So, mijnheer, as u na Winburg wil gaan en u is op pad na Venterburg en ’n vrind sou u meedeel dat u op die verkeerde pad is en u sou daarop die konsertina wat u bespeel, afgooi, sou u daardeur op die pad na Winburg kom? En veronderstel dat u verder op die verkeerde pad sou voortry en ’n tweede vrind sou u vertel dat u op die verkeerde pad is en u sou die viool wat u bespeel, afgooi, sou u daardeur op die regte pad kom?”
“Dis nodelose woordoordaad teenoor ’n gewone burger,” het Vilonel gesê toe hy dit te hore kom. “Grootdoenerigheid – dis wat ons hier mee te make het. Sê vir die gemeentelid reguit wat jy meen en laat tog nie ’n weg so breed oop dat ’n ossewa daarin kan omdraai nie.”
So klein as wat Senekal is, het Vilonel se woorde Roux se ore maar alte gou bereik. Het die predikant besluit om sy opmerking liefs te ignoreer? Vilonel was nie seker nie. In ieder geval was almal nou saam op kommando, onderweg om die Engelse in Natal te gaan aantas.
Vilonel stuur sy perd meer met die knieë as met die leisels. Sy roer dra hy soms oor die skouer, soms in die buiging van sy elmboë. Hy trek steeds aan soos dit ’n fatsoenlike man betaam – kamaste, langmouhemp en vilthoed waarvan hy die rand opslaan. Ook sy skyfskietbaadjie wat hy tydens kompetisies dra. Sondae dra hy ’n wit hemp met ’n strikdas.
Sy reputasie met die geweer het heelwat verder as Senekal se omtrekke gedra. Daarom gaan hy nie onopgemerk verby nie. Sy teenwoordigheid dwing onmiddellik agting af by die ander veldkornetskappe: Vrede, Heilbron, Kroonstad, Bethlehem en Harrismith.
Hulle staar openlik na sy tweede geweer. “Is dit Veldkornet se skyfskietgeweer?” Hy hoor die bewondering in die stemme.
Vroegoggend is dit opsaal, en die kommando’s begeef hulle ooswaarts, reg die son in. Die hoede se rande is laag afgetrek oor hul oë. Plek-plek wil dit motreën en in die digte miskolle kan jy kwalik jou perd se ore gewaar. Tog bly die son lastig sodra dit deur die mis breek.
“Wat lê agter doerdie rant?”
Die burgers rek hul nek. Dit is ’n onbekende landskap en jy moet bakhand skaduwee maak om nie oopoë in ’n hinderlaag vas te ry nie. Eers teen nege-uur word die sig beter, dan draai die son, maar teen laatmiddag brand dit weer ’n rooi haal uit die weste agter teen hul nek.
Vilonel lei sy manne via die steiltes van Van Reenenspas die Natalse binneland in. Nes ’n bees hou ’n perd meer daarvan om op te trap teen ’n skuinste as om af te trap. Hulle voel-voel die pad af Natal toe. Sy oogmerk is die vernietiging van die Tugelabrug by Colenso.
Hy laat die sagte sandsteenkoppe van die Vrystaat agter. Soggens val die mis soos die Vrystaters dit gewoond is. Maar die groen is groener. ’n Landskap met rante, doringbome en oorvloedige soetveld.
“Liewe mastag, maar dis geil.”
Soos hulle ry, mis die ruiters die koeler berglug. Die hitte is anders, drukkend, met vlieë wat saamkoek om die perde se oë. Daar is nie tyd om koelte te soek nie. Die verkenners se oë bly ver op die horison soek.
Vorentoe wag die harde ysterkliprante van Ladysmith skroeiend in die son. Kiepersol, papierbas en aalwyn. En ’n vreemde woord hier en daar waarmee die burgers nog sukkel. “Mkhamba,” proe-proe hulle aan die Natallers se naam vir die papierdoring, dié wat groei so ver as wat die oog kan sien. Ligte vuurmaakhout wat dadelik uitbrand, kom hulle gou-gou agter. Rooigrond en dongas. Nie die diep leemgrond van die Vrystaat nie.
“Hoe lyk die oorlog?” wil die jonger burgers hoor.
“Laat oom Lelik Piet julle vertel,” sê Vilonel, “hy was op Majubaberg.”
“Die oorlog,” sê oom Lelik Piet, “lyk nie aldag dieselfde nie. Partykeer is dit ’n miershoop wat jy oopspit – dit krioel so voor jou oë, jy weet nie waar om te skiet nie. Ander kere is die oorlog stil soos ’n toktokkie se vangkuil. Beland jy eers op die skuinste van die sand, dan suig hy jou vanself in. Hoe ook al, jy hoef nie te veel te bodder nie, kry sal die oorlog jou kry.”
Die ietermagog en nuuskierige stokkiestertmeerkat het skynbaar op die platorand agtergebly; ook die springhaas. Hier vlug net rooimeerkaaie en vlakhase voor hulle uit, ook nooit te ver van hul gate nie. Elke nou en dan skrik ’n perd snorkend eenkant toe vir ’n patrys wat onder sy hoewe uitfladder. Heelwat duikers, steenbokkies en ribbokke.
Wildeganse en geelbekeende wat uit die vlak panne opvlie. Allemintige troppe kraanvoëls op die vlaktes en slange in die ysterkliprante – die Mosambiekse spoegkobra, maar die Natallers ken hom almal as die mfezi. In die son lê die akkedisse ongestoord in die hitte en bak.
Saans bring die oostewind ietwat verligting, tog koel dit nie af soos die burgers gewoond is nie. In die vleiland pla die muskiete. Die ranteveld is hard en klipperig, maar dis waar Vilonel sy manskappe laat kamp.
“Dis die aangewese plek,” sê hy, “dan het ek môre-oggend dadelik ’n visie op wat rondom ons aangaan.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст СКАЧАТЬ