Название: Rewolusie van die hart
Автор: Adriana Faling
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318824
isbn:
Ruth frons verward.
“Die tweede deel van die Bybel, hoe sê julle nou weer …?”
“Die Nuwe Testament?”
“Ja. Dit het gevoel of ons sweef vir dae, weke. En toe vind ons uit ek is swanger.”
“Sjoe, so jou bekering was onlangs? Hoe ver is jy nou swanger?”
“Sestien weke, môre sewentien. Ek verwag die baba die negentiende Januarie.”
“Jy het nou van jou skoonouers vertel. Maar wat van jou ouers?”
“Hulle is oorlede kort voor ons troue. My ouers en my enigste broer was in ’n motorongeluk. My pa en my broer is op slag dood en my ma later in die hospitaal. Ek dink nie sy wou verder lewe nadat sy van hulle dood gehoor het nie.”
Sy wat Saleh was, was nie genoeg rede vir haar ma om te wou lewe nie – sy was nie ’n seun, ’n man, ’n ma se trots nie. Diep binne het Saleh dit maar altyd geweet. Sy het eers later regtig getreur oor hulle. Later toe sy besef het hulle is dood sonder Isa.
“Dankie dat jy my al hierdie dinge vertel het, Saleh,” sê Ruth ná ’n lang stilte. “Wanneer ek hier weggaan, kan ek met ’n baie beter begrip vir jou en julle land bid. En ek sal bid, dis my onderneming aan jou,” verseker Ruth haar in opregtheid.
Saleh klou aan daardie onderneming vas, soos sy bang en onseker sit en wag dat die trein by sy bestemming aankom en haar uitspoeg.
Dele wat te persoonlik was, het sy nie vir Ruth vertel nie. Van Uncle George se vrou, die liewe Sister Martha, wat haar eenkant geneem het die dag toe sy uitgevind het dat Saleh nie kan swanger raak nie.
“Ek is jammer as dit ’n baie persoonlike saak vir jou is, maar ek moet jou vra, liewe Saleh, het jy ook khifad ondergaan, die vroulike besnydenis?” het sy met soveel deernis gevra dat Saleh nie geaffronteerd kon voel nie.
“Ja, ek het, toe ek ’n jong meisie was,” het sy geantwoord en die trane weggeknip by die gedagte.
Dit was normale praktyk dat meisies, veral vanuit die plattelandse dorpies, deur die prosedure gaan. Dit was die pynlikste en vernederendste ervaring van haar lewe.
Die vrou voor haar se oë was skielik vol trane. “My liewe, liewe kind,” het Sister Martha oor en oor gesê terwyl sy haar vasgehou het.
Daardie eerste aand nadat hulle die evangelie met haar en Ashraf gedeel het, het sy en Uncle George die netelige kwessie weer opgehaal en met hulle gepraat. Hulle het vertel hoe dit in God se hart was dat ’n man en ’n vrou die liefdesdaad moet geniet en dat die besnydenis totaal teen sy wil en plan is. Blykbaar was daar ’n prosedure om, in sommige van die gevalle, die operasie om te keer.
Dit was vir hulle albei nuwe nuus. Hulle het daarna dikwels met mekaar daaroor gepraat en toe besluit dat hulle dit sou doen as dit beteken dat Saleh sou swanger raak.
Sister Martha het nie gras onder haar voete laat groei nie en haar die volgende dag na ’n buitelandse spesialis geneem om haar te laat ondersoek.
Dit was ’n vroulike dokter, iets wat Saleh se hart verbly het.
Ná die ondersoek het ook die dokter trane in haar oë gekry. “Jammer, mevrou Samir, maar hierdie tipe besnydenis is nie omkeerbaar nie.”
Daar het sagte musiek in die vertrek gespeel; Engelse musiek oor Jesus, kon sy uitmaak. Soortgelyk aan dié wat in Uncle George-hulle se huis gespeel het. Die teleurstelling was so groot. Die musiek het op ’n manier getroos.
“Daar bestaan ook geen mediese verband tussen vroulike besnydenis en onvrugbaarheid nie, hoewel ek tog al gesien het dat vroue swanger raak ná ’n omkeringsoperasie. Al wat ek nou nog kan doen, is om vir julle te bid,” het sy vervolg.” Ek dien die God wat die heelal geskep het en daarom lewe uit niks kan voortbring nie. Hy kan ook vir julle ’n lewe skep. Ken jy vir Isa?”
“Ek weet van Hom,” het Saleh versigtig geantwoord.
“Kom ons bid dat julle Hom volkome sal leer ken en dat Hy vir julle ’n wonderwerk sal doen.”
“Ek gaan by die stasie maar net probeer verdwyn in die massa,” sê Saleh aan Ruth. “Ek sal nie die ander kan groet nie, maar dra asseblief my opregte dank oor aan julle toerleier. En dankie vir jou. Om my storie te kon vertel, het my goed gedoen.”
Ruth druk haar vas. “Die Here sal jou seën en jou beskerm; die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees; die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.”
Toe die trein tot stilstand kom en die deure oopgaan, glip Saleh tussen die massa mense op die perron uit met haar rugsakkie oor haar skouer. Sy het weer die hijab en haar gewone klere aan en lyk nie meer soos een van die toeriste nie. Dit sal vreemd wees om as toeris alleen te beweeg, het sy gedink. Sy bid, soos sy tussen die gedrang inbeweeg, dat sy onsigbaar sal wees vir oë wat na haar mag soek. Doelgerig stap sy in ’n rigting, al voel sy totaal paniekbevange. Sy maak oogkontak met niemand terwyl sy dwarsdeur die stasie stap, uiteindelik by die groot stel trappe op en uit die stasiegebou.
Sy stap na waar die bekende bushalte is en koop ’n kaartjie. Op die ingewing van die oomblik kies sy die voorstad waar sy werk, al het Ashraf gesê sy moenie daarheen gaan nie. Sy weet eenvoudig nie wat anders om te doen nie. Sy moet met Uncle George praat; hy sal weet wat om te doen. Hoe sy ongesiens by hom gaan uitkom, weet sy nie, maar dit sal sy uitwerk soos sy vorder.
Terwyl Saleh in die bus sit en staar na die massa mense en die verkeer waardeur hulle tydsaam beur, wens sy sy het haar ou lewe terug. Sy wens sy kan net weer werk toe gaan soos enige ander dag, wens sy kan daarna na hulle gesellige woonstel gaan. Sy was so gelukkig om daar te kon aanbly ná haar ouers se dood en dat Ashraf by haar kon intrek ná die troue. Gewoonlik sal paartjies amper vyf jaar moet wag om hulle eie woonstel in die stad te kry as gevolg van die groot inwonertal in Kaïro. Sy wens sy kon soos elke ander aand saam met Ashraf kosmaak en eet en kuier en later dalk TV kyk en dalk liefde maak.
Wens sy ook dat sy nie tot geloof gekom het nie? troef haar eie gedagtes haar meteens.
Nee, dit was soos ’n lang winter wat uiteindelik tot ’n einde gekom het toe sy tot geloof in Isa gekom het. Maar sy wens dit was steeds net hulle geheim.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст СКАЧАТЬ